Die paartjie het tydens ’n intieme seremonie ewige trou aan mekaar beloof.

“Dit was baie spesiaal. Ons is dankbaar ons kon die troue by Belair Pavilion in die Paarl hou en dat ons familie en vriende ook daar kon wees,” vertel Marvin aan Huisgenoot oor sy groot dag.

Die pragtige paartjie. Foto: Jessie De Bruin Photo
Die pragpaar op hul groot dag. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events

Marvin en Petrushce het op 20 Februarie getrou en Marvin vertel dit was ’n groot geskarrel om als gereed te kry vir hul troudag.

Die paartjie het eers vyf dae voor hul troue, op 15 Februarie op Marvin se verjaardag, gehoor hulle kan by Belair trou. Gelukkig was als toe reeds vooruit beplan.

Marvin en Petrushce het voor 55 gaste afgehaak. Die oomblik toe die bruid haar verskyning maak en na die kansel toe stap, het een woord in Marvin se kop bly maal: asemrowend. 

Die bruid het beeldskoon gelyk in wit en die bruidegom was deftig in ’n swart pak geklee.

Die beeldskone paartjie. Foto: Jessie De Bruin Pho
Marvin en Petrushce Orie ken mekaar al sedert hul hoërskooldae. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events

Petrushce het die troue met behulp van Tracy Branford en haar span by Trunk Events gereël. 

Die egpaar het ná hul troue ’n paar dae langs die kus in Langebaan aan die Weskus gaan wittebrood hou.

Die drielaag lemoen- en wortelkoek was deur Sheena
Die lemoen- en wortelkoek het uit drie lae bestaan en is deur Sheena Henry gebak. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events

“Ons was vir so ’n paar dae Langebaan toe, en dit was lekker om ’n bietjie vars seelug in te kry en oor die afgelope paar dae te besin,” vertel Marvin.

Marvin en Petrushce is al byna nege jaar saam. Hulle is die trotse ouers van ’n seuntjie, Loxton, wat in Mei sy eerste verjaardag vier. 

Die twee verliefdes op hul spesiale dag. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events
Die twee verliefdes op hul spesiale dag. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events

“Ons het mekaar in gr. 8 by die Hoërskool Belhar in Kaapstad ontmoet en eers ná skool weer begin praat en tyd saam deurgebring,” vertel hy. 

Marvin het Petrushce verlede jaar op die Cape Wheel in die V&A Waterfront-inkopiesentrum in Kaapstad die jawoord gevra. Die kermiswiel het prentjiemooi uitsigte oor die Moederstad. Volgens hom was dit ’n “baie stresvolle dag”. 

Die spogtroue is in die hartjie van die Kaapse wynland-distrik gehou. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events
Die spogtroue is in die hartjie van die Kaapse wynland-distrik gehou. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events

Petrushce was oorstelp van vreugde toe Marvin die jawoord gevra het. “Sy was baie bly en opgewonde,” vertel Marvin.

Die paartjie het daarna saam met familie en vriende die verlowingnuus met ’n bottel vonkelwyn by ’n eetplek in die Moederstad gevier. 

Die pragtige tafels was in wynrooi getooi. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events
Die pragtige tafels was in wynrooi getooi. Foto: Jessie De Bruin Photography & Trunk Events

Ouerskap 

Marvin geniet sy rol as pa vir sy seuntjie, Loxton. “Ek waardeer elke dag saam met my seun,” sê die rugbyspeler. “Dit is wonderlik om hom te sien groei en elke dag nuwe dinge te leer.”

Die egpaar is tans besig om Loxton se eerste verjaardagpartytjie te beplan. “Ek en Petrushce is reeds besig om ’n plek te soek om ’n partytjie vir hom te hou,” vertel hy. 

Die gesin het byna vier jaar lank gewoon in Johannesburg, waar Marvin vir die Leeus uitgedraf het, maar is nou weer Kapenaars.

Petrushce beplan om binnekort weer terug te keer na die onderwys sodra die gesin hul voete gevind het.

“Ek is baie opgewonde om vir die Stormers en WP te speel,” vertel Marvin. “Ons sien ook daarna uit om meer tyd saam met mekaar sowel as ander familie hier in die Kaap deur te bring.”

Die huwelikspaar bedank
  • Blomme en dekor: My Pretty Vintage, Dini Joubert
  • Koek: Sheena Henry
  • Fotograaf: Jessie De Bruin Photography
  • Videograaf: Guava Productions
  • Venue: Belair
  • Koördinering: Trunk Events
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe