Dis maar twee weke sedert die sepiepaar op 7 Maart in Fouriesburg hulle troubeloftes afgelê het.

“Hierdie klein dingetjie laat my nie toe om vreeslik baie tyd op my foon te spandeer nie,” laat weet Marijke toe ons Maandagoggend vroeg met haar gesels.

“Sy is moeg maar wil eenvoudig nie slaap nie.” 

Die aktrise, bekend vir haar rol as Maryke de Villiers in die kykNEt-sepie Getroud met Rugby, en Werner, ook bekend vir sy rol as Blitz in dié sepie, was gister ná ’n familiekuier in Bethlehem, Vrystaat, op pad terug na Johannesburg toe hulle sommer terloops wonder: is dit nou twee, of drie weke sedert ons troudag? 

“Ons moes mooi dink om te besef dis nou maar eers twee weke. En dis wat vir ons wonderlik is, want absoluut niks het verander nie – nes ons gehoop het,” vertel sy.

“Al wat ek verander het, is dat ek nou mevou Coetser is. Ek dra ’n ring en my handtekening lyk anders. O, en ek soek enige geleentheid waar ek my handtekening kan maak of myself as mevrou Coetser kan voorstel. Ek is mal daaroor.” 

In hulle huwelik is Werner die een wat haar nog kort-kort moet herinner oor dáárdie ring – die simbool van hulle ewige troubeloftes.

“Ek het gedink hy sou die een wees wat sy ring van tyd tot tyd vergeet. Maar hy is die een wat my elke nou en dan herinner: Waar is jou ring? Het jy jou ring aan? Hy is erg oor sy ring en haal dit net af as hy slaap – en natuurlik die 30 000 keer ’n dag wat ons nou moet hande vat.”

Die video van haar beeldskone troudag is vir haar ’n samevatting van die mooiste dag in haar lewe, vertel die aktrise.

“Ons leef mos maar eintlik al lank as ’n getroude paartjie – net ons en die kids. Niks het verander nie, maar ook soveel het verander. Soos wanneer hy my voorstel as sy vrou, of ek hom as sy man, is die gevoel nog elke keer wonderlik.”

Foto: RDK Photography
Pasgetroud! Werner en Marijke Coetser, hier saam met hul dogtertjie, Layla, en ouboet Juwan uit Marijke se vorige huwelik, sê hulle is gelukkiger as ooit. Foto: RDK Photography

Die Getroud met Rugby-span gaan intussen voort met die verfilming van die sepie. Dít hang natuurlik steeds af van die maatreëls wat deur die presidensie in plek gestel word, sê Marijke.

“Die bestuur het talle voorsorgmaatreels in plek gestel. Ons gebruik nog altyd handreiningingsmiddels, maar dis nou oral op stel. Ons druk mekaar ook nie meer nie en die dames wat die grimering doen, dra maskers. Ons probeer almal so veilig as moontlik wees.” 

Vir nou is die wittebrood ook eers van die baan . . . 

“Ons kon aanvanklik nie besluit of ons in Bali wil gaan wittebrood hou en of ons op ’n bootreis wil gaan nie. Ons wou wag vir ’n produksiebreek in Junie, en tot Layla bietjie groter is sodat sy by die familie kan bly.

“Maar nou is ons dankbaar dat ons niks bespreek het nie, want ons sou dit moes uitskuif. Ons sal eers wag om te sien wat in die komende weke gebeur.”  

  • Die trouvideo is geskiet en vervaardig deur Cinastage Studios