Dit is die eerste keer dat lede van die gesin in ’n dokumentêre program, Brigitte Macron: A French Novel, oor Brigitte praat en haar huwelik met ’n man wat 24 jaar jonger as sy is. Brigitte wou nie self in die dokumentêr, wat op 13 Junie op die Franse staatstelevisiekanaal France 3 uitgesaai is, verskyn nie.

Tiphaine, self net ses jaar jonger as haar stiefpa, het nie doekies omgedraai oor die groot liefde wat haar ma en haar eertydse kunsstudent vir mekaar koester nie.

“Hulle was versot op mekaar en dit was baie duidelik, selfs al was dit met tye moeilik vir hulle.

“As ek ’n visioen van liefde moet skep, dan is dit Emmanuel en mammie. Wanneer hulle saam is, verdwyn die wêreld,” het sy gesê.

Sy het ook Brigitte en haar pa, André-Louis Auziére, se lof besing oor die manier waarop hulle hul egskeiding in 2006 hanteer het en hoe hul kinders nie emosioneel hieroor skade gely het nie.

Brigitte se twee dogters: Laurence (links) en Tiphaine Auziere. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die begin

Laurence (41), Brigitte se oudste dogter, was in 1994 saam met Emmanuel in 'n dramaklas en sy het glo destyds vir Brigitte (toe 40) van die vreemde, slim outjie (toe 15) in haar klas vertel. 

Emmanuel het die skoot hoog deur gehad toe hy Brigitte ontmoet en nadat hy 'n jaar later sy liefde aan haar verklaar het, het hy haar op die jeugdige ouderdom van 17 gevra om te trou. 

Dit het natuurlik die tonge in die middelklas-gemeenskap van Amiens, ’n stad in die noorde van Frankryk, laat klap.

Sy was immers sy juffrou, die dogter van ’n bekende bakkery-familie, die gesiene wederhelf van haar welaf bankier-man en 'n ma van drie.

In Brigitte Macron, the Unfettered Woman, ’n nie-amptelike biografie, beweer Maëlle Brun haar ouers is met briewe gepeper waarin mense hul afkeur in die verhouding uitgespreek het. Ander het selfs op haar ouers se deure gespoeg.

Brigitte het glo ook weens haar liefde vir Emmanuel die meeste van haar vriende verloor. Emmanuel se ouers was ook nie in hul noppies met die verhouding nie, maar die toekomstige president het hom nie daaraan gesteur nie.

Brigitte was glo skrikkerig om met Emmanuel te trou oor hul ouderdomsverskil en die risiko dat hy dalk eendag kinders van sy eie sal wil hê.

Emmanuel Macron en sy vrou, Brigitte, by saam met haar kleindogter, Emma. Emma is Laurence se dogter. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Catherine Debry, een van haar vriendinne, het in reaksie op haar vrese gesê: “Jy is in ieder geval gelukkig saam met hom. Gryp die geluk aan.”

En Brigitte het.

Hulle is in Oktober 2007 in die huwelik bevestig. Hy was 29 en sy vrou 54.

'Ek met my plooie'

In ’n onderhoud met Elle France het Brigitte oor die keuses gepraat wat ’n mens soms in die lewe moet maak. “Natuurlik geniet ons ontbyt saam, ek met my plooie en hy met sy jeug, maar dis hoe dit is. As ek nie daardie keuse gemaak het nie, sou ek soveel in my lewe misgeloop het.”


Gewild

In ’n meningspeiling wat onlangs in die Franse weeklikse tydskrif Paris Match gepubliseer is, is bevind Brigitte se gewildheid het die afgelope tyd aansienlik toegeneem onder die Franse: 68% sê sy verteenwoordig hul land goed in die buiteland en 64% glo sy het ’n goeie invloed op haar man.

Emmanuel het egter nie so goed in die peiling vertoon nie, net 43% van die respondente in die peiling beskou Frankryk se jongste president in hul geskiedenis in 'n positiewe lig.

Hy is op 39-jarige ouderdom op 14 Mei 2017 tot president verkies.

Bronne: news.com.au, telegraph.co.uk, tech2.org, independent.ie, harpersbazaar.com, thetimes.co.uk, forbes.com