Foto: Gallo Images/ Getty Images, Instagram/HSHPri
Foto: Gallo Images/ Getty Images, Instagram/HSHPrincessCharlene

Haar man, prins Albert (63), het van Monaco na Suid-Afrika gevlieg om haar te sien en haar broerskind se vyfde verjaardag te vier. En hy het hul sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, saamgebring.

Dit was hul tweede besoek aan hul ma se geboorteland. Hul eerste besoek was in 2019 toe hulle ’n boservaring gehad en ’n besoek aan die Spur in Benoni vir hul oupa Mike Wittstock se verjaardag geniet het. 

Op ’n foto wat sy op Instagram gedeel het, kuier Charlene saam met haar jonger broer, Sean (37), sy vrou, Chantell Wittstock (34), en hul kinders, Aiva-Grace, wat verjaar het, en hul seun Raigen (7).

Chantelle is die direkteur van die Prinses Charlene van Monaco-stigting in Suid-Afrika. 

Dit lyk of die vierings in KwaZulu-Natal gehou is waar Charlene in die Thanda Safari-wildreservaat tuisgegaan het terwyl sy op die monitering en opsporing van renosters gefokus het.

Sy het ook saam met ’n teenstropingseenheid uitgegaan, opvoedkundige fotografiesessies gehad en aan ’n onthoringsprojek van witrenosters deelgeneem. 

Daar is ook berig sy het gesukkel met ’n oor-, neus- en keelinfeksie wat veroorsaak het dat sy verlede maand die Monaco F1 Grand Prix misgeloop het, waar sy die eregas sou wees.

Dit lyk op die jongste foto’s asof sy intussen herstel het. 

Charlene, ’n jarelange diereaktivis, het in ’n mediaverklaring vertel hoe die hele ervaring haar ontroer het. 

“Dit was ’n baie emosionele ervaring. Ek het eerstehands die angs en benoudheid van die renosters ervaar toe ons hulle moes onthoring sodat stropers hulle nie daarvoor jag nie.

"Ek wil alles in my vermoë doen om hulle te beskerm, insluitend om geld in te samel en my kinders en ander oor renosterbewaring op te voed. 

“Die renosters kan nie namens hulself praat nie, maar ons kan namens hulle praat. Ek doen ’n beroep op elke Afrikaan en beskermers van natuurlewe wêreldwyd om betrokke te raak.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe