Hy is die prins van skandale: Deur die dekades was daar al bewerings van ontrouheid, belastingontduiking en dat hy sy bevoorregte posisie misbruik.

’n Mens kry immers nie byname soos Randy Andy en Airmiles Andy deur tuis in jou knooptruitjie met jou neus in ’n boek te sit nie . . .

Tog het prins Andrew dit nog altyd reggekry om hom uit verknorsings te wikkel, grotendeels danksy die feit dat sy ma haar tweede – en glo gunsteling – seun jare lank agter haar formidabele skans beskerm het.

Koningin Elizabeth het onlangs weer so gemaak en haar seun digby haar gehou terwyl die jongste smerigheid vinnig onder die mat gevee is.

Die prins het wêreldwyd die nuusopskrifte gehaal toe die veroordeelde pedofiel Jeffrey Epstein homself in sy tronksel in New York opgehang het nadat skokkende nuwe bewerings oor sy seksuele misbruik van minderjarige meisies bekendgemaak is.

Andrew was vroeër bevriend met Epstein, en al probeer hy nou sy rug op hul gesamentlike verlede keer, is daar verskeie foto’s wat hul verbintenis bewys.

Tog was hy aan sy ma se sy toe sy onlangs kerk toe ry nadat die jongste skandaal losgebars het, en kort daarna het die Buckinghampaleis ’n verklaring uitgereik waarin hulle volhou Andrew se gewete is skoon.

“Sy Koninklike Hoogheid betreur die uitbuiting van enige mens, en die bewering dat hy sulke gedrag sou verskoon, deel daarin hê of aanmoedig, is afskuwelik,” het die verklaring gelui.

Prins Andrew en Virginia Roberts
Die prins en Virginia Giuffre, Epstein se beweerde seksslaaf, met Ghislaine Max-well, Epstein se destydse meisie, op die agtergrond.

Die paleis reik geen verklaring sonder die koningin se toestemming uit nie; Andrew se verontskuldiging het dus haar goedkeuring weggedra.

Maar die prins berou waarskynlik die dag dat hy en Jeffrey Epstein mekaar ontmoet het, want die jongste drama het sy reputasie onmeetbare skade aangerig.

Die 59-jarige hertog van York was met vakansie saam met sy eksvrou, Sarah Ferguson (ook 59), toe die jongste onthullings kop begin uitsteek.

Hy en Epstein het glo vriende geword nadat die skatryk Amerikaanse beleggingsbestuurder se destydse meisie, die sosiale vlinder Ghislaine Maxwell, hulle in die 1990’s aan mekaar voorgestel het.

Epstein het selfs in 1999 in koningin Elizabeth se Balmoralkasteel by Andrew gaan kuier – die koningin was glo tuis toe die mans onder haar dak gefuif het.

Epstein het na bewering in daardie tyd jong meisies – sommige net 14 jaar oud – gewerf om sy eie donker begeertes en dié van sommige van sy ryk vriende te bevredig

Volgens ’n vrou wat Epstein op sy reis van Amerika na Brittanje vergesel het, het Andrew hulle “persoonlik verwelkom” by die Skotse kasteel met sy 52 kamers.

“Hy was baie gaaf; hy was baie beleef,” het sy aan die Britse koerant Daily Mail vertel op voorwaarde dat sy anoniem kan bly.

Sy het vertel sy was destyds ’n model en het seksuele gunsies vir Epstein gedoen. Sy het beweer hulle het in die kasteel oornag voor hulle die volgende dag op die perseel vermaak is.

Epstein het na bewering in daardie tyd jong meisies – sommige net 14 jaar oud – gewerf om sy eie donker begeertes en dié van sommige van sy ryk vriende te bevredig.

Hy en Ghislaine was in 2000 ook gaste by The Dance of the Decades, ’n uitspattige partytjie in die Windsorkasteel wat deur die koningin aangebied is om Andrew se 40ste, prinses Anne se 50ste, prinses Margaret se 70ste en prins William se 18de verjaardag te vier.

Andrew is in daardie tyd dikwels op spogpartytjies in New York gewaar en het soms gasheer gespeel op van die uitspattige geleenthede in Epstein en Ghislaine se kringe.

Dis natuurlik onbekend of Andrew geweet het wat sy vriende agter geslote deure doen. Tog moes hy homself verdedig toe ’n foto aan die lig kom wat wys hoe hy met sy arm om die lyf staan van Epstein se beweerde destydse “seksslaaf”, Virginia Giuffre.

Die foto is in 2001 in Ghislaine se huis in Londen geneem. Virginia (nou 35) het in 2015 beweer Epstein het haar gedwing om seks met die prins te hê.

Andrew het die bewering heftig ontken, en tydens Virginia se hofgeding teen Epstein en Ghislaine het ’n regter dit as “onbelangrik en misplaas” verwerp.

In ’n video wat onlangs aan die lig gekom het, kan gesien word hoe Andrew ’n mooi brunet in Epstein se huis in Manhattan groet. Die video is in Desember 2010 geneem, kort nadat Epstein in die tronk was nadat hy skuldig bevind is aan seks met ’n minderjarige.

“In die video lyk die prins nie besorg nie; hy glimlag en waai vir die meisie tot siens,” het ’n bron aan The Mail on Sunday gesê.

“Eers toe die meisie wegstap, loer hy om die deurraam, amper asof hy wou kyk dat niemand hulle dophou nie.”

Daar word beweer Epstein het ook ’n woonstel besit waar hy meisies van Oos-Europa aangehou het om na willekeur te gebruik.

“Jy kan net wonder hoe ’n prins met ’n veroordeelde seksoortreder kan omgaan wat net ’n jaar tevore uit die tronk is nadat hy 13 maande tronkstraf uitgedien het omdat hy seks met ’n 14-jarige meisie gehad het,” het nog ’n bron gesê.

Intussen het dit ook aan die lig gekom die literêre agent John Brockman het in 2013 in ’n e-pos aan die skrywer Evgeny Morozov beskryf hoe hy op prins Andrew afgekom het in Epstein se huis in New York terwyl die twee mans albei voetmasserings van “twee goed geklede Russiese vroue” gekry het.

Brockman skryf Andrew het gekla: “In Monaco werk Albert 12 uur per dag, maar negeuur, wanneer hy uitgaan, doen hy net wat hy wil en niemand gee om nie. Maar as ek dit doen, is ek in groot moeilikheid.”

Indien Andrew wel ’n gereelde besoeker by Epstein se huis was, sou hy vertroud moes wees met die vreemde dekor in dié luukse huis wat van Epstein se beweerde slagoffers as die “House of Horrors” beskryf.

Ghislaine en Fergie
Andrew se eksvrou, Sarah, die hertogin van York, en Ghislaine in 2003 in New York. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Onlangse klopjag op die huis het ’n “plek so verwronge soos die eienaar” onthul, vertel ’n bron.

Saam met duisende onwelvoeglike foto’s van minderjarige meisies op rekenaarhardeskywe het die huis glo ’n paar vreemde en ontstellende dinge opgelewer: van ’n kandelaar met ’n lewensgroot vroulike pop wat daarvan hang tot ’n reuseskaakbord met skaakstukke wat soos sy vrouepersoneellede in gewaagde klere lyk.

Volgens ’n vrou wat beweer Epstein het haar aangerand, het hy ook ’n badkamer met kunsborste teen die muur gehad “sodat hy met die tepels kon speel terwyl hy bad”.

Langs twee opgestopte diere – ’n tier en ’n grys poedel – in sy studeerkamer pryk talle foto’s van Epstein saam met van sy beroemde kennisse en vriende, onder andere die voormalige Amerikaanse presidentspaar Bill en Hillary Clinton, Saoedi-Arabië se kroonprins Mohammed bin Salman en die regisseur Woody Allen.

In die voorportaal was glo rye en rye individueel geraamde glasoë, en teen een muur was ’n portret van Bill Clinton in rooi hakskoene en die berugte gevlekte blou rok wat Monica Lewinsky gedra het toe hulle mekaar tydens sy presidentstermyn beetgekry het.

Andrew en Ghislaine
Andrew en Ghislaine in 2000 by ’n troue in Wilshire. Foto: Camera Press/Greatstock

Daar naby het ’n skildery gehang van Epstein in ’n tronk omring deur doringdraad en wagte met gewere. Hy het glo gesê die kunswerk “is om my te herinner ek kan enige tyd terug tronk toe gaan”.

Hy het glo foto’s en video’s besit van sommige van sy vriende “besig met seksdade” waarop die Amerikaanse speurdiens nou beslag gelê het.

Nou is die vraag: Wat weet prins Andrew?

“Jy moet jouself afvra,” sê ’n bron na aan die saak: “Is dit nie tyd dat die hertog van York saamwerk met owerhede oor wat hy omtrent Jeffrey se leefstyl weet nie? Al is dit net om geregtigheid vir die betrokke vroue te kry . . .”

Bronne: BBC.com, DailyMail.co.uk, TheSun.co.uk, The Gaurdian.com 
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.