Die prins van Wallis en hertogin van Cornwall het die eerste lede van die Britse koninklike familie geword wat Kuba besoek, berig Daily Mail.

Die egpaar het Sondag in die land se hoofstad, Havana, geland vir ’n koninklike toer van vier dae.

Dié mylpaal is deel van hul 12 dag-lange toer van die Karibiese streek. 

Die twee koninklikes se eerste stop in Kuba was om ’n kransleggingsplegtigheid by te woon wat aan die skrywer en digter Jose Marti, een van Kuba se rewolusionêre helde, hulde bring, berig die BBC

Hulle sal ook Brittanje se kulturele en akademiese verhouding met Kuba verken, insluitend sleuteltemas soos die kunste, jeug-entrepreneurskap en die herstel van erfenis, berig People

Koningin Elizabeth II het die land nooit besoek sedert dit in 1959 onder kommunistiese heerskappy gekom het nie, maar daar word gehoop Charles se besoek sal ’n geleentheid bied vir die twee nasies om nouer bande te smee. 

Bronne:Daily Mail, BBC, People.