Tydens ’n onlangse besoek aan Ghana het die prins van Wallis gepraat oor hoe besoedeling toekomstige geslagte sal raak, berig Daily Telegraph

“Ek is op die punt om nog ’n kleinkind te kry. Ek vermoed heelwat van julle het ook dalk kleinkinders of sal binnekort kry,” het prins Charles gesê. 

“Dit lyk vir my na malligheid as ons die totaal besoedelde, beskadigde en vernietigde wêreld aan hulle gee. 

“Alle kleinkinders verdien ’n beter toekoms.”

Prins Charles, wat later dié maand sy 70ste verjaardag sal vier, het ook gepraat oor maniere om plastiekafval te verminder, berig People

“’n Goeie begin is gemaak. Die saak van plastiekoorblyfsels in die omgewing, in die besonder in die oseaan, is nou op die agenda,” het die 69-jarige gesê. 

“En ons moet dit daar hou, want die aantal plastiek wat die see elke jaar binnegaan, sal erger raak pleks van beter.”

Meghan Markle en prins Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Plastiekbesoedeling is ’n saak wat die prins na aan die hart lê, berig Elle

Vroeër vanjaar het die koningin se oudste kind op ’n vergadering met omgewingsgesindes en sakeleiers by The British Academy openlik oor die ernstige saak gepraat. 

“Ons kan nie, moet inderdaad nie, die situasie laat voortduur nie. Ek bid vurig dat julle almal jul uiterste sal doen om in die komende jaar saam te werk om werklike, beduidende vordering te maak,” het hy gesê. 

Bronne: Daily Telegraph, People, Elle