Al het Camilla (72) vir die virus negatief getoets, moes sy 14 dae lank in afsondering bly. Albei het hulle by die egpaar se Birkhall-landgoed in Skotland ingevolge Britse regulasies afgesonder. Nou is hulle eindelik herenig, berig die Amerikaanse glanstydskrif People.

’n Koninklike bron sê Camilla en haar man, prins Charles (71), het mekaar deur die moeilike tyd emosioneel ondersteun al was hulle in verskillende dele van hul woning in selfisolasie.

“Albei is steeds opgeruimd. Daar heers ’n gevoel van kalmte,” sê die bron.

“Die hertogin is besorg oor hom, maar sy is bewus van sy opgewekte stemming; daarom hou sy ’n ogie oor hom en monitor terselfdertyd haar eie gesondheid. Sy voel positief,” sê die bron.

Al het die prins van Wallis uit selfisolasie gekom en na sy koninklike pligte teruggekeer net sewe dae nadat hy matige COVID-19-simptome getoon het, sê ’n koninklike bron hy is “gesond”.

Die egpaar, wat op 9 April 2005 getroud is, vier Donderdag hul 15de huweliksherdenking. Hulle gaan glo die mylpaal alleen tuis op Birkhall vier.

Bronne: People, Hello! Magazine, Express.co.uk