Koningin Elizabeth maak ál meer van ander senior k
Koningin Elizabeth maak ál meer van ander senior koninklikes gebruik. Haar man, prins Philip, is in April oorlede. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Dis ’n byna onwerklike gedagte, maar ook ’n onvermydelike werklikheid – die lang heerskappy van koningin Elizabeth nader sy slothoofstuk. 

Met die dood van prins Philip vyf maande gelede ná 73 jaar van getroude lewe, het die monarg nie net haar metgesel verloor nie; ook haar steunpilaar, anker en die man wat die koninklike familie vele kere deur onstuimige waters gestuur het.

Boonop is die reëlings vir wat ná die koningin se eie dood moet gebeur vroeër vandeesmaand uitgelek – iets wat mense na aan haar glo erg ontstel het. 

Dis protokol dat dié soort begrafnisreëlings al voor die dood van Britse hooggeplaastes getref word, maar immers nie iets waaraan almal voortydig herinner wil word nie. Maar koningin Elizabeth is ’n sterk, formidabele vrou wat haar nie sommer laat onderkry nie.

View this post on Instagram

A post shared by Duke and Duchess of Cambridge (@dukeandduchessofcambridge)

Sedert Philip se dood het sy dit reggekry om haar eie hartseer opsy te skuif en dapper met haar koninklike pligte voort te gaan. Tog bly die feit staan dat die koningin 95 en stewig in haar skemerjare is.

Sy werk dalk nog, maar haar strawwe program is aansienlik afgeskaal. En terwyl sy nou sonder haar eggenoot moet klaarkom, het haar oudste seun en oudste kleinseun, haar troonopvolgers, en die vroue aan hul sy ingespring om haar te ondersteun.

Hul jonger broers, prins Andrew en prins Harry, besorg dalk steeds vir die koningin hartseer en hoofbrekens, maar prins Charles en prins William tree trots na vore. Dit is deel van ’n strategie vir senior koninklikes om die koningin, wat nou permanent in Windsorkasteel bly, se werklas te verlig, sê ’n koninklike bron.

“Sy maak ál meer op haar familie staat.”

Prins Charles (72) en Camilla, die hertogin van Cornwall (74)

Die koningin bied vir Charles in 2009 die Victoria
Die koningin bied vir Charles in 2009 die Victoria-erepenning aan by die Chelsea-blomme­skou. Foto: Gallo Images/Getty Images

As Engeland se volgende monarg het Charles die grootste verantwoordelikheid, en hy tree nou reeds as ’n soort skynkoning na vore.

Hy het voor sy pa se dood met Philip in die hospitaal oor sy rol gepraat, en hulle het saamgestem hy sou die grootste deel van die koninklike pligte behartig.

Die toekomstige koning het reeds van sy ma se pligte oorgeneem, onder meer oorsese reise, inhuldigingsplegtighede waar mense tot ridder geslaan word en die bywoning van staatsdinees en spesiale geleenthede.

“Die prins van Wallis sal sy kant bring – soos wat hy reeds die afgelope vyf jaar doen,” sê die koninklike skrywer Robert Jobson aan ABC se podsending The Heir Pod. “Maar nou is hy waarlik die patriarg van die familie, want die hertog van Edinburgh is dood.”

Die Finding Freedom-skrywer Omid Scobie meen Charles is “nou amper tussen rolle – soos ’n skynkoning”.

Hy sal eers die troon bestyg nadat sy ma gesterf het – die koningin het ’n leeftyd van diens aan haar land en die Statebond beloof toe sy 21 was en sal nooit haar belofte verbreek nie, sê die kenners.

Volgende jaar sal sy haar platinumjubileum vier ter herdenking van 70 jaar op die troon – ’n rekord.

Charles se prioriteit is nou om die monargie te hervorm tot sy visie van ’n vaartbelynde koningshuis. En dié oorgang is versnel deur die dood van Philip; prins Harry en Meghan Markle wat die koninklike binnekring verlaat het; en prins Andrew wat weens sy betrokkenheid by die Jeffrey Epstein-skandaal van al sy koninklike pligte onthef is.

Charles se grootste uitdaging is nou om ’n balans te kry tussen die kleiner getal werkende koninklikes en hul werklas.

Sy visie sal blykbaar om homself en Camilla, William en Kate, sy broer Edward en sy vrou, Sophie, en sy suster, prinses Anne, gebou word.

Kate, Camilla en die koningin het in Junie saam ’n
Kate, Camilla en die koningin het in Junie saam ’n groot ete vir liefdadigheid aangebied. Foto: Gallo Images/Getty Images

Camilla het reeds ’n prominenter rol aanvaar en het haar man en die koningin vanjaar vir die eerste keer na die opening van die parlement vergesel – die koningin se eerste amptelike verpligting sedert Philip se dood.

In ’n spesiale gebaar van steun het sy ’n stuk juweliersware gedra wat vir haar skoonma betekenis inhou – Camilla het blykbaar die koninginmoeder se kristalborsspeld by die koningin self geleen.

Ten spyte van Camilla se onstuimige toetrede tot die koninklike familie nadat sy vir baie jare Charles se minnares was, het sy mettertyd die koningin en die publiek se vertroue gewen.

“Sy is beslis as die bose Camilla beskou wat ’n wig tussen die sprokie van prinses Diana en die prins van Wallis ingedryf het,” sê Roddi Vaughan-Thomas, die reklamehoof by OBS Communications. Maar hy sê die paleis het hom uitstekend van sy taak gekwyt om haar reputasie te herstel.

“Haar houding het ook in haar guns getel,” sê Roya Nikkhah, die koninklike korrespondent vir die Britse Sunday Times.

“Ek dink die manier waarop Camilla verander het hoe mense haar sien, is deur soos ’n gewone mens te lyk – wat sy is. Sy is nederig. Sy het nie daardie stywe aanstellerigheid nie.”

Die hertogin het ook bewys sy het ’n toegewyde werketiek, iets wat die koningin van haar geliefdes en naastes vereis. Sy het in 2016 in een jaar 221 openbare verpligtinge nagekom – net Charles en die koningin het aan meer deelgeneem.

Tydens die inperking het sy en die koningin saam ’n videoverskyning gemaak om vrywilligers van die Royal Voluntary Service te bedank.

Die koningin is ’n beskermvrou van dié diens en Camilla die president. Paleisbronne meen sy sal in die dae wat kom Charles, en gevolglik die koningin, se waardevolste spanlid wees.

Prins William (39) en Kate, die hertogin van Cambridge (39)

Prins William en sy ouma hou ’n verby­vlug in 2015
Prins William en sy ouma hou ’n verby­vlug in 2015 van Buckinghampaleis af dop. Foto: Gallo Images/Getty Images

Soos sy pa het William skouer aan die wiel gesit om meer pligte te verrig, ’n rol wat gewigtiger geraak het sedert sy broer se vertrek verlede jaar. William word ál gemakliker in sy groter rol en laat sy stem hoor.

Hy is byvoorbeeld geloof toe hy ná Engeland se nederlaag in die eindstryd van die Euro 2020-sokkertoernooi in Julie sterk standpunt ingeneem het teen rassisme in sport.

“Ek is gewalg oor die rassistiese beledigings wat ná gisteraand se wedstryd op Engeland se spelers gerig word,” het hy getwiet.

“Dit is onaanvaarbaar dat spelers dié aanstootlike gedrag moet verduur. Dit moet nou end kry – en al die betrokkenes moet verantwoordelik gehou word.”

Aan sy sy is Kate, wat ál meer selfvertroue kry en ál meer verantwoordelikhede op haar neem.

“William en Kate is vasbeslote om van voor af te lei. William se huldeblyk aan sy oupa ná sy dood, waar hy onderneem het om die ‘werk voort te sit’, was baie gepas,” sê ’n koninklike bron. 

Die Cambridges was in die pandemie aan die voorfront en het met virtuele boodskappe en besoeke gehelp om die gemoedere ’n hupstoot te gee. Toe die koningin haar in die Windsorkasteel moes afsonder, het sy op William en Kate gesteun om die fort te hou.

“Die wete dat sy op Kate en William kan staatmaak om sake in haar afwesigheid te hanteer, is die grootste gerusstelling waarvoor sy kon vra,” sê die bron.

“Die koningin beskou die Cambridges as die toekoms van die monargie en vertrou Kate en William se oordeel volkome.

“Hul benadering tot alles is baie eenders – hulle vergestalt daardie Britse ‘keep calm and carry on’-ingesteldheid van die koningin deur te kies om op die positiewe te fokus in moeilike tye.”

“Kate en die koningin het ’n wonderlike verhouding,” sê die koninklike kenner Duncan Larcombe. Albei respekteer en bewonder mekaar, en Kate het blykbaar ’n spesiale voorreg gekry.

“Die hertogin het ’n direkte lyn om met haar majesteit te praat. Sy gebruik dit om te hoor hoe dit met haar gaan, raad te vra en vir haar nuus oor haar agterkleinkinders, George, Charlotte en Louis, te gee.”

Dit was Kate wat die koningin geleer het hoe om Zoom te gebruik, en die koningin het dié program tydens die pandemie ingespan vir werk en om met haar familie in aanraking te bly.

Die familie het die kans gekry om mekaar van aangesig tot aangesig te sien toe die Cambridges tydens die koningin se jaarlikse somerwegbreek by Balmoral in Skotland by haar gaan kuier het.

“Hulle tyd saam met haar was baie besonders,” sê ’n bron. Nog ’n bewys dat William en Kate meer verantwoordelikhede opneem, is die nuus dat die Cambridges in Windsor huis soek.

“Hulle oorweeg dit om te verhuis en Windsor hul hoofblyplek te maak,” sê ’n bron aan Mail on Sunday. Die bron sê hulle sal die uurlange rit na Londen vir werkverpligtinge aanpak. “Dit sal nuttig wees om nader aan die koningin te bly terwyl die monargie vir groot veranderinge voorberei.”

Bronne: vanityfair.com, nytimes.com, marieclaire.com, thesun.co.uk, express.co.uk, hellomagazine.com, goodhousekeeping.com, nbcnews.com
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe