Nie net het ’n werker by Buckingham-paleis in Londen onlangs positief getoets vir dié virus nie, koningin Elizabeth se oudste seun, prins Charles, het Dinsdag positief vir die coronavirus getoets.

Clarence House het Woensdagoggend in ’n verklaring bevestig dat dié 71-jarige koninklike dié coronavirusssiekte het. 

Dit is kommerwekkend, veral omdat die coronavirus bejaardes, soos prins Charles, gewoonlik harder tref as jong, gesonde mense.

Die verklaring lui dat hy “in goeie gesondheid” is en “ligte simptome” toon. 

“Hy het ligte simptome getoon, maar sy gesondheid lyk goed en werk van die huis af die afgelope paar dae,” lui die verklaring.

Die prins van Wallis is nou in selfisolasie by sy huis in Skotland. Sy vrou, Camilla (72), die hertogin van Cornwall, is ook vir dié virus getoets. “Sy het nie die virus nie,” is daar bevestig. 

Dis egter nie duidelik hoe die prins die virus opgedoen het nie. Hy het die afgelope paar weke verskeie geleenthede bygewoon. 

Maar sommige berig dat Charles die virus opgedoen het nadat hy onlangs op 10 Maart langs prins Albert van Monaco, wat ook positief vir dié virus getoets het, by ’n geleentheid in Londen gesit het. Twee dae later het hy glo vlugtig sy 93-jarige ma, koningin Elizabeth, gesien toe hy by Buckingham-paleis was.

Prins Charles het ook 'n week gelede 'n toespraak gelewer by 'n ete om geld vir die Australiese veldbrande in te samel.  

Tot dusver het 442 mense in die Verenigde Koninkryk aan COVID-19 gesterf. 

Bronne: Sky, DailyMail