Die skatryk Hugh Richard Louis Grosvenor (29), die sewende hertog van Westminster, en Britse aristokraat, miljardêr, sakeman en eienaar van die eiendomsagentskap Grosvenor Group, het onlangs R287 miljoen geskenk om Brittanje se gesondheidssektor te help in hul stryd teen COVID-19.

Die geld gaan na die gesondheidswerkers en hul families. "Ek wil 'n groot dankie sê aan al ons ongelooflike NHS-personeel en almal wat kritieke dienste lewer," het Hugh gesê.

“Ons is almal nederig en ongelooflik dankbaar dat u onvermoeid werk om ons veilig te hou en die land te laat funksioneer.”

Hoewel hy miljoene geskenk het, is Hugh, die peetpa van prins George (6) – die seun van die hertog en hertogin van Cambridge, Kate (38) en prins William (37) – se bankbalans steeds R229 miljard sterk, berig Bloomberg. 

Dit was ook die eerste keer dat talle mense buite Brittanje van dié jong koninklike gehoor het. 

Hugh en sy ma, die hertogin van Westminster, Natal
Hugh en sy ma, die hertogin van Westminster, Natalia Grosvenor, by sy pa se begrafnis. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy is ’n baie privaat mens, nes die res van sy familie. Maar in Oktober 2013 het hy wydverspreide aandag gekry toe daar aangekondig is dat hy die peetpa van prins George van Cambridge is. Hugh se ma, Natalia (60), die hertogin van Westminster, is die peetma van prins William.

Hugh het die titel as hertog gekry toe sy pa, Gerald Grosvenor, die voormalige hertog, in 2016 weens ’n hartaanval dood is. 

Hugh, na wie die Britse media al verwys het as die nuwe prins Harry, se familie het een van die grootste privaat eiendomondernemings in die wêreld en besit van die mees eksklusiewe en duurste eiendomme in Londen. 

Die gesin besit 1 500 eiendomme in 60 lande, waaronder 50% van Mayfair, 300 hektaar in Belgravia, 'n toring in Tokio, 'n winkelsentrum in Stockholm, 'n eiland in Kanada en groot dele van Silicon Valley in Amerika.

Hugh weet nie net hoe om geld te skenk nie; hy weet ook hoe om ’n goeie tyd daarmee te hê. 

By sy 21ste verjaardagpartytjie was daar 800 gaste by die familie se plattelandse huis, Eaton Hall, in Engeland.

Dié partytjie, wat glo R162 miljoen gekos het, is bygewoon deur onder andere prins Harry (35) en ’n komediant en hip-hop-groep het die gaste vermaak.

Die skatryk koninklike is ongelukkig nie enkellopend nie. Hy is al van skooldae af in ’n aan-af-verhouding met Harriet Tomlinson, wat in haar laat twintigs is. 

'n Bron het aan The Telegraph gesê: “Hugh en Harriet is albei gelukkig. Hulle het baie gedeelde belange en is albei plat op die aarde en familievas. Sy is 'n baie lieflike meisie en die liefde van sy lewe.” 

Bronne: Sky, Whimn, Bloomberg, Tatler

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.