Tydens hul toer deur Nieu-Seeland het die hertog en hertogin van Sussex die Abel Tasman Nasionale Park besoek, berig E Online

Terwyl hy die inheemse Manawhenua ki Mohua-mense toegespreek het het prins Harry sy oulike bynaam vir sy toekomstige kind bekendgemaak. 

“Van my, my vrou en ons klein boepie: Ons is baie dankbaar om hier te wees,” het die toekomstige pa gesê. 

“Ons bring seëninge van my ouma, die koningin, en ons familie. Ons is baie dankbaar vir jul gasvryheid en werk om na hierdie pragtige plek te kyk.” 

In ’n toespraak verlede week by die openingsplegtigheid van die Invictus Spele het prins Harry laat blyk hoe opgewonde hy daaroor is om hul “persoonlike reis” met die publiek te deel, berig Cosmopolitan.  

Harry is egter nie die enigste een wat opgewonde is om die bloubloedjie in die familie te verwelkom nie. Meghan is tydens hul Australasiese toer gereeld gekiek waar syhaar babamagie vashou. 

“Ons almal weet Meghan se bababoepie is nog piepklein – sowat die grootte van ’n boepie wat die meeste van ons ná ’n groterige bord pasta sal kry – daarom is dit veelseggend om te sien hoe graag sy daaraan raak tydens hul jongste uitstappies in Australië,” het die lyftaalkenner Judi James aan Mirror Online gesê.

“Die wyse waarop sy haar hand as't ware bak hou oor haar maag kombineer handevashou en aanraking met Harry met haar nuwe rol as verwagtende ma. 

“Haar openbare gebare teenoor Harry dui dikwels op ’n soort moederlike benadering van beskerming en gerusstelling en sy lyk gretig om dieselfde sorgsame toegeneentheid aan haar ongebore kind oor te dra.” 

Die koninklikes bring nog vandag in Nieu-Seeland deur voor hulle op Woensdag 31 Oktober na Brittanje terugvlieg, berig Bustle

Bronne: E Online, Cosmopolitan, Mirror Online, Bustle