Prins Harry en sy vrou, Meghan, doen regstappe nadat hommeltuie na bewering gebruik is om foto’s van hul seun, Archie, by hul blyplek in Los Angeles, Kalifornië, te neem. 

’n Klag is vroeër vandeesweek ingedien dat ’n onbekende fotograaf foto’s van hul 14 maande oue seuntjie geneem het by die Hollywood-ster en rolprentmaker Tyler Perry se herehuis waarin hulle tydens die coronavirusinperking woon, berig BBC

Die hertog en hertogin van Sussex beweer die foto’s was ’n skending van hul privaatheid. 

Volgens The New York Times wys die foto's Harry (35) en Meghan (38) saam met hul seun in die agterplaas van die afgeleë landgoed. 

Die egpaar dagvaar kragtens ’n paparazzi-wet in Kalifornië waarvolgens ’n individu aanspreeklik gehou kan word vir lugruimbetreding om foto’s van ’n mens op privaat eiendom te neem. 

“Die hertog en hertogin van Sussex maak ’n hofsaak aanhangig om hul jong seun se reg tot privaatheid in hul huis te beskerm sonder indringing deur fotograwe, en om diegene aan die kaak te stel en te stuit wat uit dié onwettige optrede wil munt slaan,” het hul prokureur aan The Daily Mail gesê.

Harry en Meghan sê hulle het verwag om in die openbaar gevolg te word, maar hulle voel “sekere paparazzi het ’n rooi lyn oorgesteek”. 

Die egpaar beskuldig in die hofsaak ook die paparazzi van “intimidasie, teistering en die toevoeging van ’n baie wesenlike veiligheidsbedreiging bo en behalwe dit wat reeds bestaan”. 

Die hofsaak is die jongste botsing tussen die gesin en die media oor privaatheidskwessies.

In ’n afsonderlike hofsaak beskuldig die egpaar die Britse skinderkoerant The Daily Mail daarvan dat hulle die ligging gepubliseer het van die landgoed in Los Angeles waar hulle woon. 

Die twee beweer ook die publikasie het die ligging bekendgemaak van die eiendom waarop hulle in Kanada gebly het. 

Vroeër vanjaar het die prokureurs wat Harry en Meghan verteenwoordig ’n brief aan party Britse nuusagentskappe gestuur waarin hulle dreig met regstappe oor die aankoop van foto’s waarop Meghan met Archie stap. 

Luidens berigte het Meghan se ma, Doria Ragland (63), glo by die egpaar se huidige 12-slaapkamerwoning ingetrek om klein Archie te versorg. "Doria bly by Meghan, Harry en Archie. Dis die meeste tyd wat sy al saam met haar kleinseun deurgebring het sedert hy gebore is," vertel bronne aan Us Weekly.

Doria geniet dit glo om "soggens op te staan en vir hom te lees", en om haar dogter te help om sy "organiese babakos" te maak, berig Vanity Fair.

Bron: BBC, New York Times, The DailyMail, Vanity Fair