Ná die verlies van toppersoneellede is Meghan en Harry glo besig om ’n nuwe span saam te stel, berig die Daily Mail.

Dit kom ’n maand nadat die 37-jarige hertogin se privaat sekretaris Amy Pickerill haar tassies gepak het. Harry se privaat sekretaris, Heather Wong, is glo na ’n ander posisie geskuif.

Die koninklike paartjie het diplomate met “senior leierskap en bestuurervaring” wat “selfvertroue het om alternatiewe idees te deel” gevra om aansoek te doen, berig Marie Claire.

“Die buitelandse kantoor is baie soortgelyk aan die struktuur van die koninklike huishouding, en dis hoekom personeel dikwels vandaar gekies word,” vertel iemand in die koninklike binnekring.

“Die hertog en hertogin van Sussex gaan baie reis, en ’n aanstelling uit hierdie administrasie maak sin.”

Die Buckinghampaleis het bevestig nuwe personeel word gewerf, maar die egpaar het ontken dat hulle net aansoekers van die buitelandse kantoor aanvaar, berig Express.

Intussen doen gerugte die ronde dat Meghan ’n plaasvervanger vir haar persoonlike assistent, Melissa Toubati, gekry het, wat ná ses maande die pad gevat het, berig The Sun.

Bronne: Daily Mail, Marie Claire, Express, The Sun