Die koninklike egpaar trek sak en pak uit hul Kensingtonpaleis tuiste. Dié tweeslaapkamer tuiste is net ’n paar deure weg van waar William, sy vrou Kate, en hul drie spruite, prins George (5), prinses Charlotte (3) en die 10 maande oue prins Louis, woon. 

Meghan (37) en haar man, Harry (34), se personeel gaan ook nou saam met koningin Elizabeth s'n in Buckinghampaleis in Londen werksaam wees totdat die egpaar se amptelike woning by Frogmore Cottage by Windsor-kasteel in Windsor, net langsaan van waar hulle ’n jaar terug afgehaak het, reg is.

Dit beteken die hertog en hertogin van Sussex en hul personeel gaan nie meer ’n kantoor deel met Kate (37) en William (36) nie.

En dit laat natuurlik verder die oë rek en tonge klap dat dinge nie so rooskleurig is tussen die "fab four" - soos die vierstuks in die media gedoop is nie.

’n Bron hou egter vol die skuif is nie oor daar onmin is tussen die broers nie.

"Harry doen dit met William se ondersteuning en seëning," vertel een aan die Britse Daily Mail gesê.

"Dis net iets wat moet gebeur. Dis om die toekoms van die monargie te verseker."

Megs en Harry sal hul eie entourage en aparte kommunikasiespanne hê en hulle sal ook nie meer aan Wills en Kate se personeel hoef te rapporteer nie.

Die Frogmore-eiendom het reeds verskeie groot opknappingswerk ondergaan om dit in die perfekte familietuiste te omskep vir Meghan en Harry, wat binnekort hul eersteling in die wêreld verwelkom.

Kate en haar skoonsus, Meghan, en hul prinse sal egter nog steeds saam werk aan groot projekte soos hul geestesgesondheidsveldtog, Heads Together, en sal saam betrokke wees by die Royal Foundation, die egpare se hoof liefdadigheidsliggaam. 

Maar dit blyk of Meghan vir eers haar werkskoentjies opgehang het. Sy het glo onlangs haar laaste openbare diens verrig voor haar kraamverlof begin. 

Die 92-jarige koningin en haar oudste seun en troonopvolger, prins Charles (70), steun Meghan en Harry se skuif van Kensingtonpaleis.

"Die lang beplande skuif sal verseker dat die hertog en hertogin se ondersteuningsreëlings in plek gestel word terwyl hulle hul gesin begin en skuif na hul amptelike verblyf by Frogmore Cottage," sê Buckinghampaleis. 

Meghan en Harry het glo Sara Latham van die publisiteitsfirma Freuds aangestel om die hoof van hul kommunikasiespan te wees. Sy het onder meer vir die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton in die laat 1990's gewerk en was ook sy vrou, Hillary, se raadgewer tydens haar Amerikaanse presidensiële veldtog in 2016. 

Bronne: Mirror, Elle, Express