Trump (72) is tans saam met sy vrou, Melania (49), en sy dogter, Ivanka (37), op ’n drie dae lange seremoniële besoek om onder andere koningin Elizabeth te ontmoet.

Die koningin (93), haar seun, prins Charles (70) en sy vrou Camilla (71), hertogin van Cornwall, het Trump en sy gesinslede by die Buckinghampaleis ontmoet waarna hulle hom ’n toer van dié paleis en die Westminster-abdy gegee het.

Maar dit was die eerste ontmoeting Maandag by die paleis tussen Trump en prins Harry (34) wat die media fyn dopgehou het.

Harry is glo nie ’n aanhanger van die president nie. Dit kom nadat Trump Saterdag in ’n onderhoud Harry se vrou, Meghan (37), “nasty” genoem het omdat Megs vir sy destydse verkiesingsmededinger, Hillary Clinton (71), ondersteun het.

Die media het Maandag opgelet Harry het Trump vermy en wou duidelik niks met die president te doen hê nie. “Harry het knorrig gelyk. Dit was asof hy nie daar wou wees nie,” sê ’n koninklike kommentator, Ingrid Seward.

“Wat ook al sy persoonlike gevoelens is, dit is sy plig om die koningin te ondersteun. Sy ouma is 'n goeie voorbeeld wat nie toelaat dat haar persoonlike gevoelens met haar pligte inmeng nie,” sê Ingrid.

Dit blyk Harry is nie die enigste koninklike wat min ooghare vir Trump het nie. Camilla is gewaar waar sy met 'n slinkse glimlag op haar gesig vir haar sekuriteitsmense knipoog – terwyl sy agter die president geloop het.

Charlie Proctor, redakteur van Royal Central, 'n koninklike nuuswebtuiste, het hieroor gegrap: “Koninklike beskermingsbeamptes: ‘Camilla, as jy in die moeilikheid is, knipoog, dan kom red ons jou.

Bronne: Express.co.uk, Yahoo