Volgens Harry se woordvoerder doen valse gerugte die ronde dat die 36-jarige prins ingestem het tot ’n “aanloklike vierboek-ooreenkoms waarvan die tweede boek slegs uitgereik sal word nadat die koningin gesterf het”.  

Harry het wel ’n boekooreenkoms gesluit, maar sy memoires se uitreiking word glo nie beplan volgens sy ouma, koningin Elizabeth (95), se gesondheid of sterfte nie.

View this post on Instagram

A post shared by Archewell by Harry and Meghan (@archewell_hm)

Verskeie kenners van die koninklike familie glo die boek wat skynbaar laat volgende jaar uitgereik gaan word, gaan die verdeling tussen Harry en sy familie net nog meer skade aandoen. Daar is ook woede en teleurstelling in die paleis omdat die koningin onnodige angstigheid oor die boek kan ervaar enkele maande ná die afsterwe van haar man, prins Philip.

Die groot vraag waarmee geworstel word, is of die senior koninklikes enige insae gaan hê in Harry se manuskrip voor dit gepubliseer word, of selfs ingelig sal word oor wat daarin vervat is.

Nick Bullen, 'n koninklike kenner en stigter van True Royalty TV, het aan Us gesê die tydsberekening rondom Harry se boek gaan bydra tot verhoogde konflik tussen hom en sy familie pleks daarvan dat die oop wonde tyd kan kry om te genees.

Dit val juis saam met die koningin se platinum jubileumjaar wanneer talle feeste gehou gaan word om haar ongekende 70 jaar op die troon te gedenk.

Daar word ook bespiegel dat Harry se memoires die monargie kan destabiliseer omdat dit die reputasie van sy pa, prins Charles (72), negatief sal beïnvloed wanneer hy in alle waarskynlikheid die troon sal bestyg.

Prins Harry.
Prins Harry. Foto: Gallo Images/Getty Images

Baie voorspel dat die boek meer in die lyn van “arme ek”-introspeksie en meer verskonings gaan wees waarmee Harry sy bedanking uit die sogenaamde Firma gaan regverdig. Harry en sy vrou, Meghan (39), het vroeg in 2020 ná hul onverwagte uittrede van koninklike pligte met hul seun, Archie (nou 2), na Amerika uitgewyk.

In ’n verklaring het Harry gesê hy het die boek geskryf “nie as die prins wat ek gebore is nie, maar as die man wat ek nou geword het”.

“Ek het verskeie hoede deur die jare gedra, letterlik en figuurlik gesproke, en my hoop is dat met die vertelling van my storie - die hoogte- en die laagtepunte, die foute, die lesse wat geleer is - ek kan help om te wys ongeag waar ons vandaan kom, ons meer gemeen het as wat ons dink."

“Ek is diep dankbaar vir die geleentheid om te deel wat ek tot dusver deur die jare geleer het en is opgewonde dat mense ’n eerstehandse weergawe van my lewe kan lees.”

Volgens die uitgewer Penguin Random House wat saam met Harry werk, behels sy manuskrip ’n eerlike en innemende persoonlike prentjie wat lesers wys dat agter alles wat hulle dink en weet, daar ’n inspirerende, dapper en besielende menslike storie skuil.

Harry het luidens gerugte ’n voorskot van minstens $20 m (ongeveer R290 miljoen) vir sy memoires en nog drie ander boeke, waaronder een waar Harry en Meghan saam sal werk oor “leierskap en filantropie”, ontvang. As dit inderdaad die geval is, is dit een van die grootste voorskotte in die literêre geskiedenis.

Koningin Elizabeth.
Koningin Elizabeth. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sommige mense kryt die stap uit as ’n “geldmaak-oefening ten koste van sy bloedfamilie”, maar Harry sê al die wins wat uit die boek se verkope gemaak gaan word, sal aan liefdadigheid geskenk word. Dit is in hierdie stadium nog nie duidelik of hy na die wins uit sy outobiografie verwys of die wins uit al die boeke waarvoor die ooreenkoms gesluit is nie.

Volgens ’n bron na aan die koninklike gesin het Harry glo eers oomblikke voor die nuus van sy nuwe planne in die openbaar bekend gemaak is, sy ouma, pa en sy ouer broer, prins William (39), daaroor ingelig.

Harry se regspan het intussen ’n verklaring uitgereik waarin duidelik gestel word dat die hertog van Sussex nie wag vir sy ouma om te sterf voor hy ’n tweede boek gaan skryf nie.

“Daar is net een memoires wat deur die hertog beplan word en dit sal volgende jaar verskyn; uitgewers het nie na Amerika gevlieg nie; die publikasieooreenkoms was nie deur die hertog persoonlik beding nie en die syfers is onakkuraat; hy het nie persoonlik ’n 'pakket' na die tafel gebring nie.”

  • Intussen het William aangekondig dat hy ook help skryf aan 'n boek, maar in hierdie geval gaan dit oor hoe mense kan help om die planeet te bewaar. Earthshot: How to save our planet sal voor Oktober vanjaar uitgereik word.

Bronne: usmagazine.com, dailymail.co.uk, vanityfair.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe