Die skrywers Andy Tillett en Dylan Howard beweer in ’n nuwe boek, Royals At War: The Inside Story of Harry and Meghan’s Shocking Split With the House of Windsor, die hertog van Sussex sukkel om by sy nuwe lewe aan te pas, berig The Sun.

In die boek sê ’n bron die sneller was toe sy pa, prins Charles (71), positief vir die coronavirus getoets is. Volgens Marie Claire het die bron ook vir die skrywers gesê die 35-jarige prins ly aan “kajuitkoors”. 

“Dit is allermins ’n ideale situasie. Harry was eers opgewonde oor die verhuising, maar voel nou heimlik gefolter,” sê die bron. 

Harry, sy vrou, Meghan (38), en hul 13 maande oue seun, Archie, het in Maart Los Angeles toe verhuis. Meghan, wat roem verwerf het vir haar rol as Rachel Zane in die regsdramareeks Suits, het in dié Amerikaanse stad grootgeword.

Die bron beweer die hertogin van Sussex is steeds optimisties oor hul skuif, terwyl Harry die koninklike familie terug in Engeland mis – veral in hierdie tyd. 

“Hy het besef Charles en die koningin gaan nie vir altyd leef nie,” sê die bron. “Harry se grootste vrees is dat hy nie daar sal wees as sy ouma sou sterf nie.” 

Meghan probeer hom ondersteun so goed as wat sy kan, berig NYPost. “Sy verseker Harry dat wanneer sake eers na normaal terugkeer, hy van hul nuwe lewe in LA sal hou,” sê die bron.

“Meghan wil hom op staptogte neem en praat van die plaaslike poloklub en hoe baie hy branderry sal geniet.”

Dié boek, wat tans die no.1-posisie beklee op Amazon se gewilde nuwe bekendstellings, verken Harry en Meghan se skeuring van die koninklike familie. 

Bronne: The Sun, Marie Claire, NYPost