Die hertog en hertogin van Sussex, Harry en Meghan, het op 11 Maart ’n  Statebond-geleentheid by Canada House, Londen, bygewoon om jong Kanadese te ontmoet, berig Entertainment Online. 

Met die paartjie se vertrek het die 34-jarige prins vir die kinders totsiens gewaai en ’n kort stukkie uit die liedjie So Long, Farewell uit The Sound of Music gesing.

Lizzie Robinson, ITV News-kanaal se koninklike verslaggewer, het die oulike oomblik op Twitter gedeel. 

“Harry sing ’n paar reëls uit die bekende Sound of Music-liedjie So Long, Farewell vir ’n trap vol jong Kanadese met die paartjie se vertrek van Canada House,” het Lizzie in die onderskrif geskryf. 

En dis nie die eerste keer dat hy sy sangvernuf ingespan het nie, berig People

Harry het tydens ’n aandjie uit saam met die hertogin op die verhoog gespring ná ’n opvoering deur die akteurs van die musiekblyspel Hamilton, en You’ll Be Back begin sing. 

Die prins het egter nie ver gevorder voor die gehoor se applous hom uitgedoof het nie.

Bronne: US Weekly, People, Entertainment Online