Maar tog ry die 97-jarige prins Philip steeds sy eie voertuig en dit het hom Donderdag glo amper sy lewe gekos.

“My bene, my bene!,” het die prins Donderdagaand luidens berigte uit sy Land Rover gegil toe hy uit sy voertuig gered is. 

Die koningin se man het Donderdagmiddag teen ’n Kia naby die koningin se Sandringham-landgoed gebots. 

Die prins se viertrekvoertuig het omgeslaan, maar hy is wonderbaarlik ongeskonde na die ongeluk. Die bestuurder van die Kia het snye opgedoen en haar vroulike passasier se arm is beseer en albei is in die hospitaal opgeneem. Hulle is reeds ontslaan het die polisie luidens berigte bevestig.

Al is prins Philip die gade van Brittanje se invloedrykste vrou en die pa van die eerste aanspraakmaker op die troon, prins Charles, moes die prins – soos ander doodgewone Britte – ná die ongeluk in ’n pypie blaas om seker te maak hy was nie onder die invloed van alkohol nie.

Hy en die vrou wat die ander voertuig bestuur het, het negatief vir alkohol getoets, het die polisie gesê.

Philip is deur ’n dokter by Sandringham-landgoed ondersoek en nie na ’n hospitaal geneem nie. Maar hy sal vir die volgende paar dae gemonitor word vir enige tekens van interne beserings, berig die Mirror

Luidens berigte is die ongeluk glo veroorsaak deur die skerp sonlig wat in die prins se oë geskyn het.

Bronne: Mirror, BBC, Sky News