prins philip
Prins Philip. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koningin Elizabeth se man van die afgelope 73 jaar het twee maande voor sy 100ste verjaardag gesterf. Die koninklike familie het met weemoed aangekondig dat die koningin se man oorlede is.

Die prins is Vrydagoggend by die Windsor-kasteel oorlede. Die prins het van die begin van die jaar 'n gesondheidstryd gevoer. Hy is op 16 Februarie opgeneem in die King Edward VII-hospitaal opgeneem, waar hy geveg het teen ’n infeksie. Hy is op 3 Maart na die St. Bartholomew’s-hospitaal in Londen waar hy 'n operasie ondergaan het om ’n bestaande harttoestand te behandel. Hy is begin Maart ná 28 dae in die hospitaal ontslaan. 

In a handout picture released by Buckingham Palace
Die koningin het die afgelope ruk meer tyd saam met haar man van 73 jaar, prins Philip, deurgebring.

"Met sy dood betreur die koninklike familie die verlies van die prins saam met mense reg oor die wêreld.

Die prins, wat in 2017 van openbare diens afgetree het, het die afgelope dekade met verskeie gesondheidsprobleme gesukkel, waaronder ’n verstopte slagaar in Desember 2011 en ’n blaasinfeksie in Junie 2012.

prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

In Desember 2019 het hy vier nagte in die King Edward-hospitaal deurgebring vir behandeling vir ’n “bestaande toestand” (dit was nooit amptelik bekend gemaak nie). Dit het gelyk of dit goed gaan met hom tydens die inperking in 2020, en hy het selfs die gevreesde covid-19 ontduik – en in Januarie 2021 was hy en die koningin onder die eerstes wat die entstof gekry het. Maar die ouderdom haal 'n mens eindelik in, soos hulle sê – en vir Philip was dit tyd om te groet. 

Sy dood sal ongetwyfeld ’n ondenkbare verlies wees vir die koningin, wat al op verskeie geleenthede gepraat het van haar man se onwrikbare liefde en ondersteuning wat haar deur talle moeilike tye gehelp het. 

Sy stuitige sin vir humor het ook gepas by hare, en talle het al gesê dit was een van die geheime vir hul lang huwelik – die langste van enige Britse koninklike. 

prins philip
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Hul verhouding het die toets van die tyd deurstaan, veral omdat hulle baie lief was vir mekaar,” het die koninklike kenner en historikus, Christopher Warwick, in Mei 2020 aan Vanity Fair gesê.

“Dit is ’n uiters simbiotiese verhouding en vaste vennootskap, wat natuurlik begin het met daardie vroeë ontmoetings, hul vroeë korrespondensie, wat ’n vriendskap en toe toegeneentheid en eindelik liefde geword het.”

Ons bekyk hierdie buitengewone liefdesverhaal van nader.

TYDLYN VAN HUL VERHOUDING

1934: Eerste ontmoeting

Elizabeth was net agt jaar oud toe sy Philip by prinses Marina en prins George se troue ontmoet het. 

Julie 1939: Toe vonke spat

Vyf jaar later het die twee weer mekaar raakgeloop by die Royal Naval College in Dartmouth toe Elizabeth se ouers, koning George VI en koningin Elizabeth, vir Philip, toe 18 en ’n jong vlootbeampte, gevra het om hul kinders, Elizabeth (toe 13) en Margaret (toe 11), te vergesel.

Die twee het dadelik goed oor die weg gekom en het kort daarna vir mekaar begin skryf, iets wat voortgeduur het reg deur die Tweede Wêreldoorlog waarin albei gedien het. 

1947: Die verlowing

Philip het op 24 Julie 1947 die groot vraag gevra. 

November 1947: Die troue

Die koninklike paartjie het by die Westminster-abdy voor sowat 2 000 gaste getrou in ’n afgeskaalde seremonie in ooreenstemming met Brittanje se na-oorlogse besuinigingsmaatreëls. Hulle het wittebrood gehou op die Skotse koninklike landgoed Balmoral in Skotland. 

November 1948: Geboorte van Charles

Hul eersteling – prins Charles Philip Arthur George – is op 14 November 1948 gebore.  

Augustus 1950: Geboorte van Anne

Die paartjie het hul tweede kind en enigste dogter, prinses Anne Elizabeth Alice Louise, op 15 Augustus 1950 verwelkom.

Junie 1953: Elizabeth se kroning 

Elizabeth is op 2 Junie 1953 in die teenwoordigheid van meer as 8 000 gaste in die Westminster-abdy en 20 miljoen mense wat wêreldwyd ingeskakel het, as die koningin van Engeland gekroon. Philip het tydens die kroning gekniel en vir haar gesê: “Ek, Philip, hertog van Edinburgh, word jou troue volgeling van lewe en ledemaat en van aardse aanbidding.”

Februarie 1960: Geboorte van Andrew en nuwe naam

Enkele dae voor die geboorte van hul derde kind, prins Andrew Albert Christian Edward, op 19 Februarie in 1960, het Elizabeth aan die geheime raad gesê haar nageslag sal die naam Mountbatten-Windsor, ’n kombinasie van haar en Philip se vanne, dra. 

Maart 1964: Geboorte van Edward

Hul vierde en laaste kind, prins Edward Antony Richard Louis, is op 10 Maart 1964 gebore.

November 1972: Silwer huweliksherdenking

Toe hulle hul 25ste huweliksherdenking gevier het, het hulle ’n uitstorting van liefde van oor die wêreld ontvang. Dit het ongeveer 15 000 briewe en 2 500 telegramme ingesluit, waaronder gelukwensings van die konings van Tonga en Thailand en die keisers van Japan en Ethiopië.

November 1977: Eerste kleinkind

Prinses Anne het aan die koninklike paartjie hul eerste kleinkind gegee toe sy op 15 November 1977 die lewe aan Peter Mark Andrew Phillips geskenk het.

November 1992: Elizabeth se “Annus Horribilus”

Philip was weer ’n rots van onwrikbare steun toe die koningin een van haar slegste jare deurgemaak het. “1992 is nie ’n jaar waarop ek met onverdunde genot sal terugkyk nie,” het Elizabeth gesê in ’n toespraak ter herdenking van haar 40ste jaar as koningin.

“In die woorde van een van my meer simpatieke korrespondente het dit in ’n annus horribilis ontaard.

”Drie van hul kinders – prins Charles, prinses Anne en prins Andrew – het in daardie jaar van hul lewensmaats geskei, en ’n brand het byna die Windsor-kasteel vernietig. 

1997: Goue huweliksherdenking 

Elizabeth en Philip het hul 50ste huweliksherdenking met ’n middagete by die Banqueting House in Londen gevier.

Oor haar man het Elizabeth gesê: “Hy is iemand wat nie maklik komplimente aanvaar nie, maar hy was eenvoudig my krag en ondersteuning al die jare,” het sy gesê.

“En ek en sy hele gesin, en hierdie land en baie ander lande, is meer aan hom verskuldig as wat hy ooit sou eis, of ons ooit sal weet.”

2002: Elizabeth vier 50 jaar op die Britse troon

In haar toespraak ter viering van haar 50ste jaar as koningin het Elizabeth Philip geloof as die bron van haar krag. “Ek maak gebruik van die geleentheid om die krag te noem wat ek van my familie kry. Die hertog van Edinburgh het onskatbare waarde tot my lewe gevoeg oor die laaste 50 jaar omdat hy so baie liefdadigheidsorganisasies het waarby hy betrokke was."

In November daardie jaar het hulle ook hul 55ste huweliksherdenking gevier.

April 2009: Nog ’n mylpaal

Sonder enige fanfare het Philip die langs dienende eggenoot van ’n Britse monarg geword toe hy George III se eggenote, koningin Charlotte, se rekord van 57 jaar en 70 dae verbygesteek het.

2010: Eerste agterkleinkind

In Desember 2010 het Elizabeth en Philip vir die eerste keer ouma- en oupagrootjie geword met die geboorte van hul oudste kleinseun, Peter Phillips, en sy vrou, Autumn, se dogter, Savannah.

2011: Groot eer vir sy 90ste verjaardag

Met sy 90ste verjaardag in Junie 2011 het Elizabeth haar geliefde man die titel van Lord High Admiral of the Navy gegee. Die posisie is die seremoniële hoof van die koninklike vloot. Dit is bestempel as haar manier van erkenning gee aan die feit dat Philip sy belowende loopbaan as vlootoffisier opgegee het toe sy koningin geword het.

Die mylpaal is ook gevier met ’n private diens in die Sint George-kapel by die Windsor-kasteel.

2012: Diamantjubileum

Koningin Elizabeth se 60ste jaar as monarg is in 2012 reg oor Brittanje gevier. Maar Philip is midde-in dit alles op 4 Junie in die hospitaal opgeneem weens ’n blaasinfeksie. Gevolglik het Elizabeth net ’n gedeelte van daardie aand se konsert ter ere van haar diamantjubileum bygewoon. Hy is op 9 Junie uit die hospitaal ontslaan.

2017: Philip staan terug uit die kollig

In Mei 2017 het Buckinghampaleis aangekondig dat Philip in Augustus daardie jaar uit koninklike pligte sal tree. Met sy uittrede op 2 Augustus het Philip 22 219 solo-verskynings gemaak en 5 496 toesprake gelewer in sy 65 jaar as openbare figuur.

November 2017: Eerste koninklike egpaar wat platinumherdenking vier

Ná sy uittrede het Philip hom op die Sandringham-landgoed tuisgemaak. Met hul 70ste huweliksherdenking daardie jaar het die paartjie ’n intieme aandete gehou om dit te vier. Amptelike foto’s wat vooraf geneem is, is deur die paleis uitgereik.

Met hul 70ste huweliksherdenking in 2017. Foto: Ga
Met hul 70ste huweliksherdenking in 2017. Foto: Gallo Images/Getty Images

2018: Die familie brei uit

2018 was vir die koninklikes ’n taamlik goeie jaar. Twee van Elizabeth en Philip se kleinkinders, prins Harry en prinses Eugenie, is onderskeidelik in Mei en Oktober getroud.

Voor Harry en Meghan, nou die hertog en hertogin van Sussex, se troue is wyd bespiegel of Philip dit wel sou bywoon nadat hy in April daardie jaar ’n heupvervanging ondergaan het. Philip het almal verbaas toe hy op die troudag sonder enige hulp die Sint George-kapel binnegestap het.

By hul kleinseun prins Harry se troue in 2018. Fot
By hul kleinseun prins Harry se troue in 2018. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Oktober was hy op sy plek aan Elizabeth se sy toe hul kleindogter Eugenie met Jack Brooksbank afgehaak het.

Daarby het Harry se ouboet, William, en sy vrou, Catherine, die hertogin van Cambridge, in April 2018 hul derde kleinding, prins Louis, verwelkom. Hul niggie Zara Tindall en haar man, Mike, se tweede dogter, Lena, is ook in Junie gebore.

2019: Philip gee sy rybewys op ná ongeluk

In Januarie 2019 het die toe 97-jarige hertog opslae gemaak toe die Range Rover wat hy bestuur het naby Sandringham in 'n ongeluk betrokke was. Twee vroue is in die botsing beseer. ’n Nege maande oue baba wat ook in die ander voertuig was, het ongedeerd daarvan afgekom. Philip het in die openbaar verskoning gevra vir sy aandeel in die ongeluk, en het drie weke later sy rybewys vrywillig opgegee.

Mei 2019: Laaste verskynings

Op 8 Mei het Harry en Meghan hul twee dae oue seun, Archie, aan sy ouma- en oupagrootjie voorgestel. Op ’n foto wat later daardie dag op Instagram gedeel is, glimlag Philip trots terwyl hy na sy agtste agterkleinkind staar.

Tien dae later is Philip vir die laaste keer by ’n koninklike aangeleentheid gesien toe hy die troue van prins Michael van Kent se dogter, lady Gabriella, in die Sint George-kapel bygewoon het.

2020: Agter slot en grendel

Met die uitbreek van die coronavirus-pandemie in 2020 het Philip Sandringham verlaat en by die koningin in Windsor-kasteel aangesluit vir isolasie. ’n Foto van die egpaar is in Junie uitgereik ter viering van die hertog se 99ste verjaardag. Philip het ook in Julie op ’n foto verskyn wat tydens prinses Beatrice se intieme troue met Edoardo Mapelli Mozzi geneem is. Hy en Elizabeth was deel van die 20 gaste wat die geleentheid bygewoon het.

Koningin Elizabeth en prins Philip het hulle versk
Koningin Elizabeth en prins Philip het hul verskyning gemaak by prinses Beatrice en die Italiaanse sakeman Edoardo Mozzi se troue. Foto uitgereik deur Buckinghampaleis.

In November is nog ’n foto van hulle uitgereik met hul 73ste huweliksherdenking. Op die foto is hulle besig om na ’n kaartjie te kyk wat deur prins William se kroos, prinse George en Louis en prinses Charlotte, gemaak is.

In a handout picture released by Buckingham Palace
Die koningin spandeer nou meer tyd saam met haar man van 73 jaar lank, prins Philip.

In Desember het Philip vier dae in die King Edward-hospitaal vir ’n bestaande toestand deurgebring. Daarna het hy en die koningin die Kerstyd rustig by Windsor deurgebring, in kontras met ander jare se groot familiebyeenkomste by Sandringham.

2021:

Drie dae nadat hy in die hospitaal opgeneem is, het Philip se kleindogter Eugenie bekendgemaak dat sy haar 11 dae oue seun na haar oupa genoem het. Die kleinding heet August Philip Hawke Brooksbank en is Philip en Elizabeth se 10de agterkleinkind.

Benewens Elizabeth word Philip oorleef deur hul vier kinders, agt kleinkinders en 11 agterkleinkinders. Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, verwelkom later vanjaar nog ’n Windsor-baba. 

Bronne: BBC, The Guardian, royal.co.uk, ITV, Brides.com