’n Advertensie vir die pos van huishouer vir prins William en sy vrou, Catherine, is onlangs op die webtuiste vir koninklike vakante poste opgemerk. 

William, Kate en die kinders
Prins William, Kate en hul spruite. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar afgesien van skoonmaak en opruim, is een ding vir die Cambridges veel belangriker – en dit is betroubaarheid. 

In die advertensie beklemtoon die gesin die belangrikheid van hul nuwe spanlid se vermoë om “vertroulikheid te handhaaf en diskresie te beoefen”. 

Nog vereistes is om uitstekende organisasievaardighede te hê, ’n uiteenlopende werklas te kan hanteer, inisiatief en buigsaamheid te toon, en te kan reis. 

Hulle noem ook hulle soek ’n “ervare persoon”.

pos adversie
Die pos van huishouer vir prins William en Kate. Foto: Royalvacancies.tal.net

Die pos, in die Cambridges se koninklike blyplek by die Kensingtonpaleis in Londen, word beskryf as ’n “opwindende geleentheid” wat vir ’n “ondernemende mens” geskik sal wees. 

Die posbeskrywing sê nie hoeveel die suksesvolle aansoeker sal verdien nie, maar ’n onlangse vakante pos vir ’n voltydse huishou-assistent vir koningin Elizabeth se beginsalaris was sowat R406 500 per jaar.

Die suksesvolle aansoeker sal in die Buckinghampaleis of die Windsorkasteel gebaseer wees en vyf dae per week werk. 

Die persoon moet ook vir tot drie maande per jaar na enige van die koninklike familie se ander blyplekke in Brittanje kan reis. Dit sal ongetwyfeld die Sandringham-landgoed oor Kersfees en die Balmoralkasteel oor die somer insluit. En natuurlik die Cambridges se landgoed Anmer Hall in Norfolk waarheen hulle dikwels saam met hul kinders, prins George (7), prinses Charlotte (5) en prins Louis (2), ontvlug.

Die paar se huis by Kensington paleis
Die Cambridges se koninklike blyplek by die Kensington-paleis in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Daar sal van die suksesvolle aansoeker verwag word om “die interieurs en items te onderhou, skoon te maak en te versorg en te verseker dit word op hul heel beste voorgestel”.

Terwyl vorige ervaring in huishouding en gasvryheid ’n voordeel is, is dit nie ’n vereiste nie. 

“Ons stel meer belang in jou verbintenis om nuwe vaardighede aan te leer, ’n proaktiewe benadering en ’n bereidheid om nuwe uitdagings aan te pak,” lui die posbeskrywing. 

Bronne: dailymail.co.uk, insider.com