Prins William mis nou sy broer, ná woede bedaar

akkreditasie
Prins William en prins Harry in gelukkiger dae. 
Foto: Gallo Images/Getty Images
Prins William en prins Harry in gelukkiger dae. Foto: Gallo Images/Getty Images
Hulle het eens ’n hegte band gehad, koninklike broers vir altyd saamgebind deur bloed en familieomstandighede, maar dinge het intussen tussen prins William en sy broer, prins Harry, verander.

Harry (36) se vertrek uit Engeland, sy uittrede as werkende koninklike en die skok-onderhoud wat hy en sy vrou, Meghan (39), onlangs met Oprah Winfrey gehad het, het ’n wig tussen die prinse ingedryf wat ál groter word.

Maar ten spyte van al die drama sê ’n koninklike bron William (38) mis steeds sy jonger broer en die gelukkige tye wat hulle eens saam gehad het. 

“Toe die aanvanklike woede oorgewaai het, het sy broer se afwesigheid hom getref,” het die bron aan die Britse koerant The Sunday Times vertel.

“Hulle het alles oor hul lewens gedeel – ’n kantoor, ’n stigting, vergaderings. Hulle het die meeste dae saam deurgebring en daar was hope pret. Hy sal dit altyd mis.”


Die bron het ook gesê die toekomstige koning hoop hul verhouding sal in die een of ander stadium herstel word. “Hy is baie ontsteld oor wat gebeur het, maar ook absoluut vasbeslote dat sy en Harry se verhouding mettertyd sal genees.”

Harry, Meghan en hul eersteling, Archie, wat in Mei sy tweede verjaardag vier, woon deesdae in Santa Barbara, Kalifornië. Meghan is tans swanger met hul tweede kind, ’n dogtertjie.

Harry het in sy onderhoud met Oprah gesê hy “het sy broer baie lief”, maar dat hulle nou op “verskillende lewenspaaie is”.

“Wiliam voel ook nou die druk op hom,” beweer nog ’n bron in die artikel. “Sy toekoms lyk anders as gevolg van sy broer se keuses – dis nie maklik nie.”

Senior lede van die Britse koninklike familie, waaronder William en sy vrou, Catherine, moes reeds almal ekstra pligte nakom nadat die Sussexe as koninklikes uitgetree het.

Daar word bespiegel of Harry in Junie na Engeland sal terugkeer vir sy oupa, prins Philip, se 100ste verjaardag, en ook of hy op 1 Julie teenwoordig sal wees vir die onthulling van ’n standbeeld van sy ma, prinses Diana. 

Harry en William het beplan om “skouer aan skouer” by die gedenkteken te staan om wat hul ma se 60ste verjaardag sou wees, te herdenk. Volgens ’n koninklike korrespondent beplan albei broers om steeds die geleentheid by te woon. 

“Ek kan eksklusief bekendmaak dat William en Harry steeds daartoe verbind is om byeen te kom vir die onthulling van die standbeeld in die Kensingtontuine,” het Russell Myers verlede week aan die Britse oggendprogram Lorraine gesê.

“Dit kan ’n monumentale oomblik vir die broers wees. En ek dink mense sal in die wolke wees om hulle weer saam te sien.”

BRONNE: NYPOST.COM, HEART.CO.UK, THETIMES.CO.UK
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees