Die oudste seun van prins Charles en wyle prinses Diana is op 21 Junie 1982 in die Lindo-vleuel van die St. Mary-hospitaal in Londen gebore.
Vandag is William, die hertog van Cambridge, self die pa van twee klein prinsies, George (6) en Louis (2), en ’n dogter, prinses Charlotte (5). Hy is in 2011 met sy universiteitsliefde, Kate Middleton, getroud.
Siende dat dit Vadersdag is, bekyk ons ses van William se oulikste oomblikke saam met sy kinders.
Toemaar, liefling
William troos ’n huilende George na afloop van sy kleinsus, Charlotte, se doopseremonie in 2015 in die St. Mary Magdalene-kerk op koningin Elizabeth se landgoed Sandringham.
Klein George het boonop ’n replika gedra van die uitrusting wat William in 1984 aangehad het toe hy vir die eerste keer sy jonger broer, Harry, ná sy geboorte gaan besoek het.
Kyk net daar George!
In 2016 het die Cambridge-gesin die eerste keer as familie van vier op die Buckinghampaleis se balkon verskyn tydens die jaarlikse vaandelparade ter viering van William se ouma, koningin Elizabeth, se verjaardag. William het knielend vir George die aankomende vegvliegtuie gewys.
Daar was ook 'n bietjie komedie toe kameras die oomblik vasvang waar die koningin vir haar kleinseun William sê om op te staan. Dit kan in die video hieronder gesien word.
Drukkie vir pappa
William, Kate, George en Charlotte het in 2016 hul eerste amptelike toer as gesin van vier na Kanada geneem.
Die viertal het ’n tuinpartytjie vir militêre gesinne in die stad Victoria bygewoon en die koninklike fotograaf Chris Jackson het hierdie oulike oomblik tussen pa en seun vasgevang.
Pappa se prinses
William haal alte oulik Charlotte se hare uit haar gesig sodat sy mooi kan sien waar die gesin op die balkon van die Buckinghampaleis staan.
George se eerste skooldag
William en Kate se eersteling, prins George, is in 2017 vir die eerste keer “grootskool” toe. Op sy groot dag moes pa William hom egter alleen gaan afsien by die Thomas’s-skool in Battersea in die suide van Londen omdat ma Kate platgetrek was deur kwaai oggendnaarheid. Sy was toe swanger met George se kleinboet, Louis.
Hand-aan-hand het pa en seun die hekke van die privaat skool binnegestap.
Die Kensingtonpaleis het ook ’n foto van George en William op die trap buite die paleis vrygestel. En William het omtrent gestraal van trots.
’n Soen vir Louis
Op Kersdag 2019 het die Kensingtonpaleis op hul amptelike Instagram-blad ’n swart-wit-foto van William en sy kroos gedeel om hul volgelinge ’n geseënde Kersfees toe te wens.
Op die foto soen William vir Louis op die wang terwyl Charlotte en George reguit na die kamera kyk. Die foto is deur Kate geneem by die gesin se woning Anmer Hall op die Engelse platteland in Norfolk.
Ter viering van die geleentheid het die Kensington-paleis ook hierdie foto op hul Instagram-profiel gedeel.
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET