Prins William vier vandag sy 39ste verjaarsdag. Fo
Prins William vier vandag sy 39ste verjaarsdag. Foto: Gallo Images/Getty Images

Met sy geboorte op 21 Junie 1982 in die Lindovleuel van die St. Mary’s-hospitaal in Paddington, Londen, het William die eerste aanspraakmaker op die Britse troon geword wat in ’n hospitaal gebore is. Sy pa, prins Charles, is by die Buckinghampaleis gebore. William se jonger broer, prins Harry, is in 1984 ook in die Lindovleuel gebore. 

Diana, met Harry in haar arms, Charles en William
Diana, met Harry in haar arms, Charles en William op die koninklike seiljag Brittania in April 1985. Foto: Gallo Images/Getty Images

William se ouma koningin Elizabeth vier vanjaar 69 jaar op die Britse troon, en al is sy 95 jaar oud, stoom sy nog volstoom voort met haar werk as monarg.

Charles en wyle prinses Diana se oudste seun se beurt om die troon te bestyg is dalk nog ’n hele paar jaar weg, maar alle tekens dui reeds daarop dat William die Britse monargie wil moderniseer. 

Die biografieskrywer Penny Junor het vroeër vanjaar aan The Sun gesê dat die hertog van Cambridge “besef hy is bestem om koning te word en probeer sy ouma se voorbeeld volg”. Tog doen dié pa van drie dit op sy eie moderne manier. 

Ter ere van sy verjaardag kyk Huisgenoot terug na hoe William ’n prins vir ’n nuwe era is. 

Jonger jare 

Diana het uit die staanspoor geweier dat haar kinders geheel en al deur oppassers grootgemaak word. Sy het hulle self by die skool gaan aflaai en optel, op uitstappies na Disney World geneem, en hulle het haar selfs op van haar liefdadigheidsgeleenthede vergesel.

Charles, William, Diana en Harry tydens ’n openba
Charles, William, Diana en Harry tydens ’n openbare aangeleentheid. Foto: Gallo Images/Reuters

Sy het haar seuns blootgestel aan haar werk by klinieke vir MIV/Vigs en hawelose skuilings. 

Prinses Diana neem William na sy eerste skooldag b
Prinses Diana neem William na sy eerste skooldag by die Ludgrove-skool. Foto: Gallo Images/Reuters

Terwyl Charles dikwels by die huis gelos is wanneer die koningin en haar man, wyle prins Philip, op toer gegaan het, het Charles en Diana besluit om William van jongs af saam te neem wanneer hulle reis vir amptelike pligte. Hy was net nege maande oud toe hy sy ouers vergesel het na Nieu-Seeland, waar skares mal was oor die klein Windsor-knapie. 

Diana, William en Charles in Auckland in 1983. Fot
Diana, William en Charles in Auckland in 1983. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die sorgvrye kindertyd wat Charles en Diana vir hul seuns wou skep, is in 1997 ’n geweldige slag toegedien toe Diana op net 36-jarige ouderdom weens ’n motorongeluk in die Franse hoofstad, Parys, gesterf het. William was net 15.

Opvoeding

William se oupa prins Philip, wat in April vanjaar oorlede is, sy pa, Charles, en sy broers, prinse Andrew en Edward, asook prinses Anne se kinders, Peter en Zara Phillips, is almal na die Skotse kosskool Gordonstoun gestuur om hul opvoeding daar te kry. William het soos Diana se pa, graaf John Spencer, en haar broer, graaf Charles Spencer, Eton-kollege in Windsor bygewoon. 

William was ’n prefek tydens sy Eton-dae. Foto: Ga
William was ’n prefek tydens sy Eton-dae. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná skool het hy ’n oorbruggingsjaar geneem waartydens hy die lande Belize en Chili, asook verskeie Afrika-lande besoek het. 

In 2001 het hy by die St. Andrews-universiteit aangedoen om sy studies in kunsgeskiedenis te begin. Hy het later sy studierigting verander na geografie. Anders as die mediasirkus wat afgespeel het toe sy pa 30 jaar tevore by die Universiteit van Cambridge begin studeer het, was William se aankoms in Skotland as eerstejaarstudent baie rustiger. Die media is gevra om hom privaatheid te gun. 

By St. Andrews kon hy in die pad afstap en inkopies gaan doen by die plaaslike kruidenierswinkel sonder die kliek van kameras in sy gesig. 

William en Charles met Wills se aankoms by St. And
William en Charles met Wills se aankoms by St. Andrews. Foto: Gallo Images/Getty Images

En al het hy ’n relatief normale studente-ervaring by die historiese universiteit gehad, was sy tyd daar ook lewensveranderend. 

Met hul besoek aan St. Andrews in Mei vanjaar het
Met hul besoek aan St. Andrews in Mei vanjaar het die hertog en hertogin van Cambridge nog netso verlief soos in hul studentedae gelyk. Foto: Gallo Images/Getty Images
Met hul besoek aan St. Andrews in Mei vanjaar het
Met hul besoek aan St. Andrews in Mei vanjaar het die hertog en hertogin van Cambridge nog netso verlief soos in hul studentedae gelyk. Foto: Gallo Images/Getty Images

En toe kom Kate . . .

In sy eerste jaar as student het ’n donkerkopskoonheid die jong prins se oog getref: Catherine Middleton. Catherine, oftewel Kate soos sy alom bekend was, was ’n skaam jong vrou van Bucklebury op die Engelse platteland. 

William en Kate is in 2011 getroud, ná ’n verhouding van 10 jaar. 

Twee jaar ná hul troue, in Julie 2013, het hulle hul eersteling, prins George, verwelkom. 

Anders as sy pa, Charles, wat glo polo gaan speel het net ’n paar uur ná sy eersteling se geboorte, het William ná klein George se geboorte twee weke verlof gevat van sy werk as reddingsvlieënier om tyd saam met Kate en hul kleinding te bestee. 

William neem George na sy eerste skooldag. Kate mo
William neem George na sy eerste skooldag. Kate moes die dag misloop terwyl sy siek was met erge oggendnaarheid tydens haar swangerskap met Louis. Foto: Gallo Images/Getty Images

William het dieselfde gedoen met die geboorte van George (nou 7) se jonger sibbes, prinses Charlotte (6) en prins Louis (3). Met Charlotte se geboorte in 2015 het die Cambridge-egpaar ook geskiedenis gemaak deur ’n aankondiging op hul amptelike Twitter-profiel, @kensingtonroyal, te maak. Gewoonlik word koninklike geboortes bekendgemaak deur die uitreiking van ’n verklaring deur die Buckinghampaleis. 

Die gesin deel met geleenthede soos verjaardae, herdenkings en Kersfees kiekies van hul oulike gesin in die sosiale media. 

In onlangse jare het William en Kate begin om meer pligte namens koningin Elizabeth uit te voer, maar hul eerste prioriteit bly hul kinders. Die raakvatouers word gereeld gesien waar hulle self vir George en Charlotte by hul skool, Thomas’s Battersea in Londen, gaan aflaai. 

Prins William en Catherine saam met Charlotte en G
Prins William en Catherine saam met Charlotte en George op Charlotte se eerste skooldag. Foto: Gallo Images/Reuters

Kwessies na aan sy hart

William was nog altyd oop oor die liefdadigheidswerk wat na aan sy hart lê. In die era van sosiale media het William en die res van die koningsgesin ook daarby aangepas. In Mei vanjaar het William op Instagram verklap hy het die covid-19-inenting ontvang. 

Hy en Kate het Instagram- en Twitter-profiele, en het vroeër vanjaar ook ’n YouTube-kanaal begin. 

William is passievol oor omgewingsbewaring en geestelike gesondheid. In onlangse jare het hy ook uitgesproke geraak oor die kwessie van rassisme in die sokkerwêreld. Hy is sedert 2006 die president van die Britse Sokkerfederasie (FA).

William oorhandig die FA-beker aan Kasper Schmeich
William oorhandig die FA-beker aan Kasper Schmeichel. Foto: Gallo Images/Reuters

In dié hoedanigheid het hy vroeër vanjaar die FA en ander sokkerverwante sosialemediaprofiele ondersteun deur ’n hele naweek geen inskrywings in die sosiale media te deel nie, ter ondersteuning van pogings om rassisme en aanlyn boeliegedrag hok te slaan. 

Die wêreld kan natuurlik nog baie verander voor William koning word, maar dié prins wil duidelik wys dat hy nie sy posisie ligtelik opneem nie. 

Bronne: Marie Claire, US Weekly, Vanity Fair, Insider.com, The Guardian, Town and Country