Prinses Charlene en prins Albert van Monaco vier v
Prinses Charlene en prins Albert van Monaco vier vandag hul 10de huweliksherdenking. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer Charlene Wittstock (43) en Monaco se prins Albert (63) het mekaar vir die eerste keer in 2000 by die Mare Nostrum-swembyeenkoms in die klein prinsdom aan die Franse Riviera ontmoet. Albert het sy pa, prins Rainier III, opgevolg as heerser van Monaco ná sy dood in 2005. 

In Junie 2010 het die Prins se Paleis in Monaco amptelik die twee se verlowing aangekondig. Albert het ’n peervormige knoets met ’n diamant van drie karaat aan Charlene se vinger gesteek. Die ring is volgens bronne deur die Franse juwelier Repossi geskep.

Die indrukwekkende Repossi-ring wat Albert aan Cha
Die indrukwekkende Repossi-ring wat Albert aan Charlene se vinger gesteek het. Foto: Gallo Images/Getty Images
 In 2014 het Charlene en Albert die ouers geword van ’n tweeling, 'n seun en dogter, prins Jacques en prinses Gabriella (nou 6). 
Charlene en Albert by hul tweeling, prins Jacques
Charlene en Albert by hul tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella. Foto: Gallo Images/Getty Images

Charlene is tans hier in Suid-Afrika en sal dus nie hul mylpaal-huweliksherdenking van 10 jaar saam met haar man kan deurbring nie. Sy het vroeër vanjaar hierheen gereis as deel van ’n bewaringsveldtog vir renosters. Die Prinses Charlene van Monaco-stigting het bevestig dat sy in Mei vanjaar ’n ernstige oor-, neus- en keelinfeksie opgedoen het en nog so onlangs as 23 Junie ’n operasie ondergaan het om dit te behandel. 

Dit is die eerste keer dat die paartjie apart sal wees op hul huweliksherdenking. 

Om die herdenking te vier kyk Huisgenoot terug na vyf uitstaan-oomblikke van Charlene se sprokiestroue.

1. Die datumverandering

Albert en Charlene sou oorspronklik op 8 en 9 Julie 2011 getrou het. 

Die troue is met ’n week vervroeg om ’n vergadering van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) van 5 tot 9 Julie daardie jaar in Durban te akkommodeer. Albert is lid van dié komitee, en die paartjie het ook die destydse IOK-voorsitter, Jacques Rogge, en ander lede van die beheerliggaam na hul troue genooi. 

Luidens ’n verklaring deur die paleis het Albert gevoel dit sou gepas wees as Charlene se eerste oorsese besoek as prinses na haar tuisland is. Ná hul spogtroue in Monaco het die pasgetroudes die vergadering van die IOK hier in Durban bygewoon. Die egpaar het toe na Mosambiek gereis om hul wittebrood voort te sit. 

Die paartjie in Suid-Afrika op 7 Julie 2011. Foto:
Die paartjie in Suid-Afrika op 7 Julie 2011. Foto: Gallo Images/Getty Images

2. Die seremonies en feesvieringe

Die vieringe vir die koninklike troue - Monaco se eerste koninklike troue in 55 jaar - het ’n volle vier dae geduur. Die laaste keer dat daar ’n troue van hierdie omvang was, was in 1956 toe Albert se ouers, Rainier, en die eertydse Amerikaanse fliekster Grace Kelly, getroud is. 

Charlene en Albert se trouvieringe het op 30 Junie 2011 begin met ’n konsert deur die Amerikaanse rockgroep The Eagles by die Stade Louis II-stadion in Fontvieille. 

'n Dag later is Albert en Charlene in ’n siviele seremonie getroud wat deur die president van Monaco se staatsraad, Philippe Narmino, behartig is.

Die paartjie glimlag breed tydens hul plegtigheid.
Die paartjie glimlag breed tydens hul plegtigheid. Foto: Gallo Images/Getty Images

Charlene het met die seremonie amptelik Haar Deurlugtige Hoogheid, die prinses van Monaco, geword. Die laaste vrou voor haar wat die titel gedra het, was haar ontslape skoonma, prinses Grace, wat in 1982 ná ’n motorongeluk in Monte Carlo oorlede is. 

Charlene en Albert groet die publiek na hul siviel
Charlene en Albert groet die publiek ná hul siviele troue. Foto: Gallo Images/Getty Images

Albert en Charlene het daardie aand nog ’n konsert aangebied, hierdie keer deur die Franse komponis en musikant Jean-Michel Jarre. 

Jean-Michel Jarre vermaak die skare. Foto: Gallo I
Jean-Michel Jarre vermaak die skare. Foto: Gallo Images/Getty Images
Albert (regs) en Charlene by Jean-Michel Jarre tyd
Albert (regs) en Charlene by Jean-Michel Jarre tydens sy konsert. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar die siviele troue was net die opwarming vir die sprokieseremonie wat op 2 Julie in die binneplaas van die Prins se Paleis afgespeel het. 

Die seremonie is deur Bernard Barsi, toe nog die aartsbiskop van Monaco, waargeneem. 

’n Duidelik aangedane Charlene het die paadjie na die kansel aan die arm van haar pa, Michael Wittstock, gestap. 

Charlene en haar pa, Michael, oppad na die kansel.
Charlene en haar pa, Michael, op pad na die kansel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná die seremonie is die pasgetroudes in ’n hibriede Lexus vervoer na die Sainte-Devote-kapel waar Charlene die tradisie voortgesit het van haar ruiker by die kerk neerlê. 

Die onthaal het op die trap van die Monte Carlo-operahuis plaasgevind. Gaste is bederf met optredes deur operasterre soos Andrea Bocelli en Renée Fleming. 

3. Die uitrustings

Vir die siviele plegtigheid op 1 Julie het Charlene gestraal in ’n poeierblou katpak deur die ontslape Karl Lagerfeld. Die ikoniese modedirekteur van die Chanel-modehuis het die skakering spesiaal vir Charlene geskep en dit agterna na die nuwe prinses genoem.  

Die pasgetroudes word geluk gewens deur Georges Ma
Die pasgetroudes word gelukgewens deur Georges Marsan, burgemeester van Monaco. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir die seremonie op 2 Julie het Charlene ’n sy-vloerlengterok deur die Italiaanse ontwerper Giorgio Armani gedra. Dit het 2 500 uur geneem om die rok te maak. Dit was versier met 40 000 Swarovski-kristalle, 20 000 pêrels en 30 000 stene in verskillende skakerings van goud. 

Charlene en Albert word met konfetti bestrooi na h
Charlene en Albert word met roosblare bestrooi ná hul plegtigheid. Foto: Gallo Images/Getty Images
’n Nadere kykie na die bokant van Charlene se rok.
’n Nader kykie na die bokant van Charlene se rok. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir die onthaal daarna het sy nog ’n Armani Privé-skepping gedra, dié keer van sy en chiffon. Albert het Charlene verras met ’n fyn tiara gemaak van 11 dun strepies diamante en in witgoud geset. Die diamante is so geplaas dat dit die illusie skep van vallende waterdruppels, ’n ode aan Charlene se dae as swemmer. 

Charlene en Albert arriveer vir hul onthaal. Foto:
Charlene en Albert kom by die onthaal aan. Foto: Gallo Images/Getty Images

4. Die Afrikaanse geur

Charlene het seker gemaak dat haar troue haar Suid-Afrikaanse wortels vier. 

Die paartjie in Suid-Afrika op 7 Julie 2011. Foto:
Die landsvlae van Monaco en Suid-Afrika versier die buitekant van die Sainte-Devote-kapel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dele van die godsdienstige plegtigheid is in Afrikaans gedoen. Die Suid-Afrikaanse sanggroep Romanz sowel as die sopraan Pumeza Matshikiza het deur die loop van die feesvieringe opgetree. Romanz het die paartjie toegesing met hul liedjie "With All My Heart" terwyl Pumeza die legendariese Miriam Makeba se "Click Song" gesing het nadat Charlene en Albert ringe uitgeruil het. 

Verskeie Suid-Afrikaners het die plegtigheid bygewoon, waaronder die destydse ministers Marthinus van Schalkwyk en Jeff Radebe asook sportsterre soos Ryk Neethling, Roland Schoeman en Elana Meyer. 

Wyne van die Kaapse wynlandgoed Haskell Vineyards is op die onthaal voorgesit. 

5. Die gaste

Die gastelys vir Charlene en Albert se troue het gewemel van koninklikes en ander glanspersoonlikhede. 

Albert se susters, prinsesse Caroline en Stephanie, en hul kinders het hom op sy groot dag ondersteun.

Princess Stephanie of Monaco and Princess Caroline
Albert se susters, prinsesse Stephanie en Caroline, tydens die siviele plegtigheid. Foto: Gallo Images/Getty Images

Koningin Elizabeth van Brittanje is deur haar jongste seun, prins Edward, en sy vrou, Sophie, gravin van Wessex, verteenwoordig. Die Sweedse koningspaar, Carl XVI Gustaf en Silvia, sowel as België se koning, Albert II, en sy vrou, Paola, het die plegtigheid bygewoon saam met hul kinders en dié se gades. 

Swede se koningin Silvia en koning Carl XVI Gustaf
Swede se koningin Silvia en koning Carl XVI Gustaf. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die ontslape akteur Roger Moore en sy vrou, Kristi
Die ontslape akteur Roger Moore en sy vrou, Kristina, stap na die Prins se Paleis. Foto: Gallo Images/Getty Images
Charlene en Albert word met konfetti bestrooi na h
Naomi Campbell en Vladimir Doronin tydens die troue. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vriende van die pasgetroudes soos die Britse supermodel Naomi Campbell, aan wie Albert ook voorheen romanties verbind was, die James Bond-ster sir Roger Moore, die voormalige Franse presidentsvrou Bernadette Chirac en die Suid-Afrikaanse sakeman Johann Rupert het ook in die vreugde gedeel. 

Bronne: People, Hello, Vogue, TimesLive, The Royal Couturier, Today, Honey Nine

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.