Sy het deur die jare al heelwat onder kwetsende aanmerkings deurgeloop, maar dit skeel haar gewoonlik min omdat sy aanvaar dis deel van haar lewe in die openbare oog – sy het immers met ’n prins getrou.

Meestal kry Haar Deurlugtige Hoogheid prinses Charlene van Monaco dit reg om ’n waardige stilte te handhaaf en anderpad te kyk wanneer bitsige stories opduik. Maar soms voel sy dis belangrik om te praat – veral wanneer haar reputasie en als waarvoor sy so hard gewerk het op die spel is. Soos nou.

Dit het begin toe die Franse tydskrif Paris Match onlangs ’n artikel publiseer wat ’n prentjie van die Benoni-boorling probeer skets as ’n eensame, brose prinses wat nooit glimlag nie en gesukkel het om nes te skop in Monaco. Maar wat haar die meeste ontstel, is aantygings dat haar stigting in wanorde gedompel is.

Een van die bewerings is dat die eertydse Springbokrugbykaptein Francois Pienaar, ’n jarelange lid van die bestuur, sy tassies gepak het weens ’n interne twis en dat Charlene self belangstelling in haar stigting verloor het.

Francois ontken dit, en die stigting se direksie het die bewerings ook verwerp. Die artikel voer ook aan sy “vlug” gereeld na Korsika of Turkye en beweer sy het vroeër vanjaar “rietskraal” gelyk toe sy en haar man, prins Albert (62), hul negende huweliksherdenking gevier het.

Dis onsin, meen ingeligtes. Charlene (42) was juis vol energie, dolgelukkig en fiks toe sy saam met haar man en twee kinders in Korsika was om te oefen vir ’n waterfietswedren wat sy ten bate van haar stigting wil aanpak. 

prinses charlene
Prinses Charlene, haar man, prins Albert, en hul tweeling, prinses Gabriella en prins Jacques, op die balkon van die Pienk Paleis. Foto: Gallo Images/AFP

Daar is beweer sy het “agterdogtig” geraak oor almal – selfs dié wat haar al jare ondersteun – en dat sy glo sy het “onaantasbaar” geraak en dikwels verskynings op die nippertjie kanselleer.

’n Paleisbron meen dis onwaar en voeg by die prinses pas soms tot drie koninklike verpligtinge op ’n dag in. Paris Match berig wel sy het met die jare selfversekerder geraak en “stap met haar kop omhoog”.

Sy is aangehaal dat sy sê: “Ek is dalk ’n plattelandse meisie van Suid-Afrika, maar ek kan deur mense sien.” Die kwessie van die “wegholbruid” word ook opgehaal – hoe Charlene na bewering voor haar troue uit Monaco probeer vlug het te midde van berigte van onmin. Maar nou praat die prinses vanuit die Prinslike Paleis in Monaco met Huisgenoot en sê dié bewerings is “ ’n totale versinsel”.

“Niks daarvan is waar nie. Dis skokkend, en ek is hartseer daaroor.” Die publikasie het nie vir haar of Albert om kommentaar genader nie, sê sy.

Charlene was verstom, want die familie is op goeie voet met Paris Match en het in Oktober 2015 saam met hul tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella (toe 10 maande), vir ’n voorblad poseer. Maar Albert het al in die verlede ’n stel met die tydskrif afgetrap.

Hy het hulle in 2005 gedagvaar nadat hulle ’n storie gepubliseer het waarin die identiteit van sy liefdeskind, Alexandre (nou 17), gebore uit ’n kortstondige verhouding met ’n Togolese lugwaardin, Nicole Coste, bekendgemaak is.

Die saak is hof toe en Paris Match is beveel om sowat R400 000 op te dok. Albert het die Britse Sunday Times ook suksesvol vir dié storie gedagvaar. Maar in 2015 het die Europese menseregtehof dié Franse hof se beslissing verwerp en bevind Paris Match het die artikel regmatig publiseer omdat dit in die openbare belang was.

Dis geen geheim dat dit die prinses ’n rukkie geneem het om haar voete te vind in ’n land waar Frans ’n vereiste is en buitestanders sukkel om in te pas nie – maar Paris Match vat dit nog verder. “Hulle het vir haar Frans gelag,” lui die artikel.

“Ten spyte van ’n kursus, is dit beperk tot ’n paar woorde wat haar wagte haar geleer het. Om dit te beredder, het die paleis ’n butler aangestel wat reeds vir die koninklike familie werk en Charlene deur paleisprotokol lei.”

Paleisbronne vertel egter Charlene is nou bedrewe in Frans en haar bemeestering van die taal was duidelik toe sy in Junie 2015 ’n “perfekte toespraak” gelewer het ter viering van haar man se eerste dekade op die troon. Daar word ook daarop gesinspeel dat Albert en Charlene ongelukkig is en sy vir haarself “voorheen ondenkbare vryhede” gun.

prinses charlene
Charlene oefen op die oop see vir die waterfietswedren. Foto: Instagram/@pcmfsouthafrica

Niks daarvan is waar nie, sê ’n nabye familievriend aan Huisgenoot. “Hulle is meer toegewy aan mekaar as ooit. Hy het baie respek vir haar omdat sy op haar eie bene staan, en sy het op haar beurt groot bewondering vir hom.”

Uit al die bewerings is dié wat die seerste maak oor die Suid-Afrikaanse tak van haar Prinses Charlene van Monaco-stigting (PCMF).

Dié liefdadigheidsorganisasie, wat sy in 2015 gestig het, spruit uit ’n persoonlike tragedie. “My nefie het verdrink toe hy vyf jaar oud was,” het sy in 2013 aan die Times Weekend Magazine vertel. “Hy het by die bure se swembad gaan swem en ingeval.”

Sy werk sedertdien onvermoeid om bewusmaking oor waterveiligheid onder kinders te skep. Die stigting het ook talle liefdadigheidsgeleenthede ondersteun.

Charlene het in Januarie besluit om die kantoor in Suid-Afrika toe te maak omdat sy glo dit sou doeltreffender wees om alles onder haar PCMF-sambreel vanuit Monaco te bestuur, sê Chantell Wittstock, die stigting se direkteur.

“Dit het vir haar sakesin gemaak. Ons sal steeds projekte in Suid-Afrika bestuur, maar besluite word in Monaco geneem. Daar was geen kwaadwilligheid nie en niemand is gedwing om te bedank nie.”

Francois Pienaar (53) het aan Huisgenoot gesê die bewerings in die artikel is “kategories onwaar”. “Ek is nooit om kommentaar genader nie,” sê hy.

Hy erken dis waar dat hy bedank het, maar “dit was omdat die stigting in Suid-Afrika gesluit het en om geen ander rede nie. My verhouding met Charlene is so sterk soos altyd.”

Nog voor die stigting sy deure behoorlik in Suid-Afrika kon sluit, het die coronakrisis kop uitgesteek. Chantell, wat met Charlene se jonger broer Sean Wittstock (37) getroud is, sê hulle kon nie net terugstaan en niks doen nie.

“Ons het die veldtog #StrongerTogether van stapel gestuur, en dit was ’n groot sukses. Wêreldwyd het die veldtog 92 miljoen mense bereik en ons kon 45 plaaslike organisasies ondersteun. Ons het altesaam R2,57 miljoen ingesamel vir gemeenskappe en liefdadigheidsorganisasies wat tydens die pandemie gesukkel het.”

Ná die sukses van die projek is besluit om die stigting nie te sluit nie en dit eerder te herstruktureer en “nuwe lewe daarin te blaas”, sê Chantell.

Een van die groot veranderinge was om die televisieaanbieder en sakevrou Clare Wiese-Wentzel (37), die dogter van die Suid-Afrikaanse sakemagnaat Christo Wiese, te betrek. “Ek is verheug om Clare as ’n nuwe bestuurslid te verwelkom,” sê Charlene. “Sy is ’n merkwaardige individu in eie reg.”

Een van hul doelwitte is om dit verder in Afrika suid van die Sahara uit te brei. “Charlene het reeds ’n skool en kerk gebou in Zambië, waar haar oom ’n pastoor is, en ons wil meer daarvan doen,” sê Chantell.

prinses charlene
Saam met kinders tydens een van haar waterveiligheid- en swemprogramme in Monaco. Foto: Instagram/@pcmfsouthafrica

As sportvrou skroom Charlene nie om ’n fisieke uitdaging te doen nie, en sy pak eersdaags een van die grootstes in haar lewe: ’n waterfietswedren van Calvi in Frankryk tot Monaco wat op 12 September begin.

Dié sportgebeurtenis, genaamd “The Crossing”, samel geld in vir verskeie programme wat deur haar stigting bestuur word, en sy gaan haar eie span, Serenity, oor 180 km oop see lei. Charlene oefen al maande lank om topfiks hiervoor te wees.

Chantell sê dis belaglik om te sê die prinses is te maer. “Sy lyk beter as ooit. Sy het daagliks geoefen. Sy is fiks, sterk en gesond.” En Albert steun haar heelhartig.

“Dikwels wanneer sy in die water oefen, is hy op die kantlyn om haar te ondersteun. Hy’s werklik trots op haar en steun haar volkome.”