Prinses Charlene
Foto: Gallo Images/Getty Images

Die gewese Suid-Afrikaanse Olimpiese swemmer en vrou van prins Albert was onlangs opmerklik afwesig by familieverskynings in Monaco.

Dit het selfs gelei tot bespiegelinge dat haar huwelik dalk in die moeilikheid is – veral ná die nuus vroeër vanjaar dat Albert (63) in die gesig gestaar word deur ’n vaderskapsaak oor ’n liefdeskind wat in die vroeë dae van sy en Charlene se verhouding gebore is.

Maar dit blyk die 43-jarige prinses is deur haar mediese span aangesê om nie te reis voor sy sterker is nie. 

Dit is bevestig in ’n verklaring wat haar stigting uitgereik het. “Haar Deurlugtige Hoogheid Prinses Charlene van Monaco ondergaan verskeie ingewikkelde prosedures nadat sy in Mei ’n ernstige oor-, neus- en keelinfeksie opgedoen het."

Die mees onlangse operasie is Woensdag 23 Junie gedoen. "Die prinses se mediese span het haar opdrag gegee om nie na Monaco terug te reis nie, want die prinses moet nog verskeie prosedures ondergaan en daarvan herstel.”  

Charlene en Albert vier op 1 Julie hul 10de huweliksherdenking.

In die verklaring sê die prinses: “Vanjaar sal die eerste keer wees dat ek nie op ons huweliksherdenking in Julie by my man sal wees nie. Dit is moeilik en dit maak my hartseer.

“Maar ek en Albert het geen keuse as om die mediese span se voorskrifte te volg nie, al is dit uiters moeilik. Hy is vir my die ongelooflikste steunpilaar.” 

Charlene sê sy mis haar sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, verskriklik, maar praat elke dag met hulle. 

“My daaglikse gesprekke met Albert en my kinders help ontsettend om my op te beur, maar ek mis dit om by hulle te wees. Dit was spesiaal dat my gesin hier kom kuier het en dit was werklik wonderlik om hulle te sien. Ek kan nie wag om met hulle herenig te word nie.”

Albert en die tweeling het vroeër vandeesmaand vir Charlene kom kuier om haar broerskind se vyfde verjaardag te vier – ’n gelukkige geleentheid wat die prinses op Instagram gedeel het. Charlene het ook ’n foto van haar man en hul tweeling tydens ’n bosrit gedeel.

Voor sy die infeksie opgedoen het, was sy by verskeie bewaringsprojekte in Suid-Afrika betrokke, een daarvan die renoster-teenstropingseenheid in KwaZulu-Natal in samewerking met haar stigting en die Thanda Foundation Trust.

Sy was veronderstel om in Mei na Monaco terug te keer vir die prinsdom se Grand Prix waar sy ’n eregas sou wees, maar weens haar siekte moes Albert en die tweeling die geleentheid alleen bywoon.

Hulle sal blykbaar so gou as wat hulle kan na Suid-Afrika terugkeer sodat hulle Charlene kan sien.