’n Siekte wat g’n mens ontsien nie – nie eens koninklikes nie, ten spyte van al hul rykdom en toegang tot die beste beskerming en mediese sorg denkbaar.

Toe prins Albert van Monaco onlangs aankondig hy het positief getoets vir COVID-19, het die wêreld opnuut besef die nuwe coronavirus kan enigiemand tref. Hy is die eerste staatshoof wat die gevreesde virus opdoen.

Albert (62) word nou in die Prins Se Paleis in Monaco deur ’n span spesialiste van die Prinses Grace-hospitaal behandel terwyl sy vrou, prinses Charlene, en hul vyfjarige tweeling, prinses Gabriella en prins Jacques, in afsondering in Roc Agel, die gesin se huis op die Franse platteland, is.

Sodra die dokters hom heeltemal gesond verklaar, sal Albert by hulle aansluit. Maar intussen het prinses Charlene (42) aan Huisgenoot vertel hoe die gesin hul situasie hanteer. “Dit gaan goed met my man en hy is in ’n goeie bui,” sê sy. “Die kinders is gesond en piekfyn. Dit kan met enige gesin gebeur.”

Sy beklemtoon dat sy nie ’n groot ophef oor hul omstandighede wil maak nie. “Almal gaan deur dieselfde ding,” sê sy. “Dis ’n baie ontstellende tyd vir almal en ons moet almal selfisolasie toepas en sosiale kontak beperk.”

Albert het ná sy diagnose aan Amerika se tydskrif People gesê sy simptome is soos dié van griep, maar matig. “Ek het ligte koors gehad en ’n bietjie gehoes. Die eerste paar dae het my neus geloop – dit was die eerste teken. Ek het effens verstop gevoel, maar dit was al.”

Volgens Albert het hy besluit om die toets anoniem te laat doen aangesien hy nie anders as ander mense behandel wou word nie.

“Daar is ernstiger gevalle wat getoets moes word; daarom wou ek nie voorkeur bo hulle geniet nie.” Hy kon die siekte by “ ’n hele klompie mense” aangesteek het, voeg hy by.

“Ek probeer nou al weke lank versigtig wees; ek gebruik handsteriliseermiddels en al daai dinge, maar ’n mens weet nooit.

“Ek kon dit gekry het by iemand wat nader as ’n meter of twee van my af was. En dit kon enige tyd die afgelope 10 dae of so gebeur het.”

Albert erken hy moet versigtig wees, nie net omdat hy ’n paar jaar gelede longontsteking gehad het nie, maar ook weens sy ouderdom. “So ja, ’n mens moet dit in gedagte hou,” sê hy.

“Maar net so is daar baie gevalle van mense jonger as 60 wat die virus opdoen. Dit kan enigiemand van enige ouderdom tref.”

Net nege dae voor dit by hom gediagnoseer is, het Albert ’n paneelbespreking oor die klimaatskrisis in Londen bygewoon.

Prins Charles was ook daar en is ook positief getoets vir die COVID-19. Die 71-jarige troonopvolger is ook kwesbaar weens sy ouderdom en die baie mense met wie hy in aanraking kom.

Prins Albert en Prinses Charlene
Prins Albert (LINKS) het onlangs ’n kongres in Londen bygewoon waar prins Charles (REGS) oorkant hom gesit het. Foto's: Gallo Images/Getty Images

Maar die koningin en haar man is die heel kwesbaarste lede van die Britse koninklikes – en die oorversigtige paleis waag nie kanse nie.

Terwyl Londen ál nader aan algehele inperking beweeg, het die 93-jarige monarg die Britse hoofstad met Candy, haar geliefde corgi-worshond, op haar skoot verlaat.

Sy was op pad na die Windsorkasteel, waar prins Philip hom by haar sou aansluit en waar sy sou bly “tot ná Paasfees”, het die Buckinghampaleis gesê.

Die hertog van Edinburgh (98) is per helikopter Windsor toe van sy kothuis op die Sandringhamlandgoed, waar hy rustig afgetree het.

Al die koningin se beplande afsprake is gekanselleer, onder meer haar tradisionele tuinpartytjies in Mei en die beroemde seremonie vir die aflossing van die wag, ook in Mei.

Die Vaandelparade, een van die hoogtepunte op die koninklike kalender, sal waarskynlik ook nie in Junie vanjaar plaasvind nie. Volgens dr. Anna Hemming, ’n gewese inwonende arts by die Buckinghampaleis, sal die koningin en prins Philip “daagliks met hul mediese span praat.

“Hulle sal alle redelike voorsorgmaatreëls tref, veral vir die hertog van Edinburgh, wat die broosste lid van die gesin is,” sê sy.

Maar die koningin gaan nie ophou doen wat sy veronderstel is om te doen net oor sy nou in isolasie is nie: haar plig. Die monarg, wat op 21 April 94 jaar oud word, het ’n verklaring uitgereik waarin sy mediese personeel, wetenskaplikes en staatsdienswerkers prys.

“Dis in tye soos dié dat ek daaraan herinner word dat ons land se geskiedenis gevorm is deur mense en gemeenskappe wat saamkom en soos een mens saamwerk waar ons ons gesamentlike pogings ter wille van die algemene welsyn inspan.

koningin elizabeth
Koningin Elizabeth het aan haar mense gesê hulle moet saamstaan. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Wees gerus dat ek en my familie gereed is om ons deel te doen.” Ander lede van die koningsgesin het ook reeds die krisis bespreek.

Kate en William het op hul Kensington Royal-Instagramblad berig oor hul besoek aan werkers aan die voorpunt teen die pandemie by ’n inbelsentrum in die suide van Londen.

Op die foto by die inskrywing sit hulle die verpligte 2 m weg van die personeellede. In woorde wat baie soos sy ouma s’n klink, het William gepraat oor “hoe mense van alle agtergronde en beroepe saamspan ter wille van die algemene welsyn”.

kate en william
Prins William en Kate het gesê hulle het gesondheidswerkers in die spervuur besoek. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy en Kate het ook op Brittanje se Moedersdag ’n foto geplaas van William wat George op sy rug dra en Kate met Charlotte op haar rug – saam met ’n hartlike boodskap aan al die ma’s in die land.

Die boodskap was eenvoudig: “Aan al die ma’s, oud en nuut, en aan al die gesinne wat vandag saam of apart deurbring: Ons dink aan julle in hierdie moeilike tyd.”

Dan was daar Harry en Meghan . . . Doer ver in hul wegkruipplek in Kanada het die Sussexe ’n lang boodskap geplaas op hul Sussex Royal-blad, wat binnekort ’n nuwe naam kry, oor omgee en “die belangrikheid daarvan om mekaar en ons gemeenskappe met empatie en welwillendheid te behandel”.

Hulle het ook onderneem om “akkurate inligting en feite van ons betroubare kenners” te deel, asook “inspirerende stories oor hoe so baie van julle wêreld- wyd op groot sowel as klein maniere na mekaar toe uitreik om ons almal te bemoedig”.

“Ons is almal saam in hierdie ding,” het hulle bygevoeg, “en as globale gemeenskap kan ons mekaar deur hierdie proses ondersteun en ’n digitale buurt skep wat vir elkeen van ons veilig voel.”

meghan en harry
Meghan en Harry is bespot omdat hulle gesê het hulle gaan “akku­ra­te feite” oor die virus deel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle het dit ongetwyfeld goed bedoel, maar dis nie goed ontvang nie.

Pleks van die lof laat instroom, soos wat hul inskrywings gewoonlik doen, het dit verontwaardiging ontlok.

“Jou broer en skoonsuster werk in hierdie aaklige tyd onverpoos om mense te help, terwyl jy net afgesaagde banaliteite op jou webtuiste kwytraak,” het een gebruiker geskryf.

“Regte mense is besig met die versorging van hul bejaarde ouers wat in kwarantyn is en hulle gee hul kinders tuisonderrig,” het ’n ander laat hoor. Richard Kay, wat dikwels oor die koninklikes skryf, voel ook so.

“Hul bydrae daar uit die baie duur herehuis kon nie in groter teenstelling met die sorgsame en waardige reaksie van die koningin en ander koninklikes hier by die huis wees nie,” het hy gesê.

“Is die Sussexe ernstig wanneer hulle beweer dat ons nie die waarheid vertel is nie? En dat ons hulle moet vertrou oor wat akkuraat is en wat nie?”

Volgens hom is een van die koningin se eerste take nou om “te wys op die smaaklose verwaandheid van hul mediaplasings vanuit ’n wegkruipplek in die vreemde”.

Intussen het prins Albert ’n boodskap van hoop vir sy landgenote in Monaco en die wêreld. “Moenie met hierdie siekte speel nie. Die virus is baie ernstig. Ons gaan wel hierdeur kom, maar dit sal tyd duur. Volg intussen raad. “Niemand is immers hierteen immuun nie.”

. . . En wat sê Nigella?

Nigella
Die TV-kos­program­aanbieder en skrywer Nigella Lawson. Foto: Gallo Images/Alamy

Eerlik: Die TV-kosprogramaanbieder en skrywer Nigella Lawson het erken sy is een van talle wat haar in hierdie tyd van selfisolasie in haar Londen-woonstel aan soetgoed oorgee. “Al wat ek nou doen, is sjokolade eet. Ek is tans op ’n 250 g-stafie per aand,” het sy getwiet

Bronne: dailymail.co.uk, npr.org, insider.com, deadline.com, theguardian.com, people.com, mirror.co.uk