Foto: Misha Jordaan
Prinses Charlene. Foto: Misha Jordaan

Charlene is op 25 Januarie 1978 in Bulawayo, Zimbabwe (toe nog Rhodesië), gebore. Sy is op 1 Julie 2011 met prins Albert van Monaco getroud en staan sedertdien as haar deurlugtige hoogheid, die prinses van Monaco bekend.  

Charlene het in Desember 2014 die lewe geskenk aan haar en Albert se tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella (nou 6). 

As vrou van Monaco se heersende prins het Charlene verskeie rolle en verantwoordelikhede, maar dis in haar rol as ma wat die stylvolle voormalige swemster behoorlik straal. 

Ter ere van haar verjaardag kyk Huisgenoot terug na van Charlene se oulikste oomblikke saam met haar tweeling. 

Soene vir haar piepklein prinsie

Albert en Charlene het hul tweeling op 7 Januarie 2015 aan die inwoners van Monaco voorgestel met ’n verskyning op die balkon van die Prins se Paleis. 

Charlene is afgeneem waar sy ’n soen op haar maand oue prinsie, Jacques, se voorkop plant. 

Prinses Charlene en prins Jacques in 2015. Foto: G
Prinses Charlene en prins Jacques in 2015. Foto: Gallo Images/Getty Images

Klein kampvegtertjies

Charlene en Albert is albei aktief betrokke by pogings om die klimaatskrisis hok te slaan. En dit lyk asof hulle Jacques en Gabriella sommer van kleins af bewus wou maak van die kwessie. 

Op die vooraand van die 21ste jaarlikse konferensie oor klimaatsverandering (COP 21) in Parys in 2015, het Charlene, Albert, Jacques en Gabriella (snoesig toegedraai in hul stootwaentjie) aan ’n “Staptog vir die klimaat” deelgeneem. 

Charlene en Albert neem aan ’n staptog vir klimaat
Charlene en Albert neem aan ’n staptog vir die klimaat deel met Jacques en Gabriella in hul stootwaentjie. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2020 het Charlene saam met ander internasionale atlete aan ’n waterfietsuitdaging deelgeneem. Charlene is op kamera vasgevang waar sy ’n teer oomblik met Jacques en Gabriella geniet voor die uitdaging begin het. 

Ma en kinders net voor die aanvang van die Calvi t
Ma en kinders net voor die aanvang van die Calvi tot Monaco-waterfietsuitdaging. Foto: Gallo Images/Getty Images

Suid-Afrikaanse wortels

Ná haar uittrede uit swem het Charlene steeds aktief gebly in organisasies wat verskeie sportsoorte bevorder, waaronder rugby. Haar liefdadigheidsorganisasie, die Prinses Charlene van Monaco-stigting, bied elke jaar die Sint Devote-rugbytoernooi aan saam met die Rugbyfederasie van Monaco. 

Charlene en haar tweeling is gereelde gesigte by die geleentheid. 

In 2016 het Charlene en Jacques die aksie knap op die kantlyn dopgehou. 

Charlene en Jacques langs die rugbyveld. Foto: Gal
Charlene en Jacques langs die rugbyveld. Foto: Gallo Images/Getty Images

By 2019 se toernooi het die skattige prins en prinsessie nes hul ouers met modieuse donkerbrille gepryk. 

Tydens 2019 se Sint Devote-rugbytoernooi. Foto: Ga
Tydens 2019 se Sint Devote-rugbytoernooi. Foto: Gallo Images/Getty Images

Charlene het in 2019 haar kleingoed vir die eerste keer Suid-Afrika toe gebring. Sy het toe aan Huisgenoot vertel dat hulle al ‘ag, shame’ sê en biltong eet na dié kuiertjie. 

Die gesin het ook op safari gegaan op ’n wildplaas.

Die hele gesin, Jacques, Albert, Gabriella en Char
Die hele gesin, Jacques, Albert, Gabriella en Charlene, tydens ’n wildrit. Prinses Charlene van Monaco en haar man, prins Albert, het hul eerste gesinsvakansie in Suid-Afrika saam met die tweeling, Jacques en Gabriella, geniet. Foto: Éric Mathon/Palais Princier

Stylvol nes mamma

Charlene sit selde ’n voet verkeerd op die modefront en haar tweeling se uitrustings vul soms dié van hul modieuse ma aan.

Tydens Monaco se nasionale dag vieringe in 2020. F
Tydens Monaco se nasionaledag-vieringe in 2020. Foto: Gallo Images/Getty Images
Die gesin woon die vieringe vir Sint Devote by in
Die gesin woon die vieringe vir Sint Devote by in 2020. Foto: Gallo Images/Getty Images


Moderne ma

Nes enige ander trotse ma spog Charlene gereeld met haar kinders in die sosiale media. 

Sy deel gereeld foto's op haar Instagramblad van groot oomblikke in Jacques en Gabriella se lewe. 

In 2018 het sy gespog met foto’s van Jacques en Gabriella se eerste besoek aan die Franse hoofstad, Parys. Tydens die besoek het Charlene en haar kinders by die Franse presidentsvrou, Brigitte Macron, vir tee ingeloer. 

In Desember verlede jaar het sy hierdie foto van haar kroos se sesde verjaardagvierings gedeel. 

“Gelukkige verjaardag, my mooi kinders,” het sy daarby gekoer. 

In 2019 het Charlene Huisgenoot na Monaco genooi en openhartig gepraat oor hoe dit is om ’n tweeling groot te maak. 

“Ja, dis uitputtend. Maar hulle gee my krag,” het sy destyds vertel. Maar deur dit alles sal sy “alles en enigiets doen om hulle te beskerm en leiding te gee”, het sy bygevoeg. 

Prinses Charlene by haar kinders, prins Jacques en
Prinses Charlene by haar kinders, prins Jacques en prinses Gabriella. Foto: Misha Jordaan

Ekstra bronne: Hello!, Princess Charlene of Monaco Foundation