Tog was daar heelwat vrolikheid en vreugde toe prins William se hegte vriend Thomas van Straubenzee (38), die peetpa van sy dogter, prinses Charlotte, onlangs met Lucy Lanigan-O’Keefe (32), ’n onderwyseres aan Charlotte en haar ouboet, prins George, se skool, Thomas’s Battersea, in Londen afgehaak het. 

Die paartjie het in Julie in ’n stemmige seremonie in die Londense buurt Chelsea getrou en in ’n dubbeldosis goeie nuus aangekondig hulle verwag hul eersteling.

Die oorspronlike troudatum was in April en die vyfjarige Charlotte sou ’n blommemeisie en haar pa, William, sou ’n plekaanwyser gewees het. 

Maar weens die covid-19-pandemie is die paartjie gedwing om die troue uit te stel en kon slegs ’n paar hegte familielede weens die inperkingsregulasies hul spesiale dag op 24 Julie bywoon.

Dit is Thomas, ’n eiendomskonsultant, se tweede huwelik. Hy was voorheen met lady Melissa Percy getroud, maar hulle is in 2016 ná 'n huwelik van net drie jaar geskei.

William en sy vrou, Kate, het glo Kupido gespeel vir die paartjie wat vir meer as ’n jaar in ’n verhouding was voor hulle afgehaak het. Albei paartjies is in Januarie afgeneem toe hulle ’n kerkdiens in Sandringham bygewoon het.

Thomas en sy jonger broer, Charlie, is hegte vriende van William en sy broer, prins Harry, sedert hul dae aan die seunskool Eton.

Die broers het albei die prinse se troues bygewoon. Thomas het glo in 2011 'n toespraak op William en Kate se troue gelewer en hy en sy broer Charlie was sewe jaar later plekaanwysers op Harry en Meghan se troue. Charlie is glo Harry en Meghan se eenjarige seun, Archie, se peetpa.

Harry en William is albei beskermhere van ’n liefdadigheid in die naam van Thomas en Charlie se oorlede broer, Henry van Straubenzee, wat in 2002 in ’n motorongeluk gesterf het.

Laura gee klas in aandagtigheid en buitemuurse leer by George en Charlotte se skool en is ook ’n assistent-hoofonderwyser by nog ’n tak van Thomas in Clapham ’n paar kilometer verder.

Bronne: people.com, tatler.com