Die 29-jarige sosiale vlinder en model het voor Kersfees glo aan haar 60-jarige kêrel, die Suid-Afrikaans gebore multi-miljoenêr Michael Lewis, verloof geraak. 

Hy word vandeesmaand 61 jaar oud en is 32 jaar ouer as Kitty en vyf jaar ouer as haar pa, graaf Charles Spencer (55). 

Hy is ook veel ouer as Kitty se eks, die ryk Italiaanse eiendomsmagnaat Niccolo Barattieri di San Pietro, wat sowat 47 jaar oud is. 

Michael het 'n bankbalans van sowat R1,5 miljard en is 'n direkteur van die Foschini-groep.

Kitty was in Kaapstad vir die vakansietyd en het toe aan haar ma, Victoria Aitken (54), en die res van haar gesin onthul dat Michael die jawoord gevra het, sê een van Kitty se vriende aan die Britse media. Hy het glo in die Moederstad voor Kersfees die jawoord gevra – en dit kort voor haar 29ste verjaardag op 28 Desember.

View this post on Instagram

???? First sunset of the new year ????

A post shared by Kitty Spencer (@kitty.spencer) on

Kitty, die oudste van Diana se jonger broer, graaf Charles Spencer, en sy eksvrou, Victoria, se vier kinders, het in Kaapstad grootgeword en het sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad geswot.

Nadat haar ouers in 1997 geskei het, verdeel sy haar tyd tussen haar pa se herehuis by Althorp in Northampshire, Engeland, en haar ma Victoria s’n in Kaapstad. Charles en Victoria het ook nog 'n seun, burggraaf Louis Spencer (25), en tweelingdogters, Lady Eliza en Amelia Spencer (27).  

“Hulle almal is lief vir Michael. Ten spyte van sy rykdom is hy baie nederig en beskeie,” vertel dié vriend.

Michael en Kitty is die eerste keer in Mei verlede jaar saam gekiek toe hulle op 'n uitstappie in New York was. 'n Maand later is sy in Londen met 'n groot diamantring aan haar ringvinger gekiek.

In Augustus is die twee ook gesien terwyl hulle gekoer en mekaar gesoen het terwyl hulle die Club 55 restaurant in St. Tropez, 'n kusdorpie aan die Franse Riviera, verlaat het.

Michael, wat in ’n luukse woning van R351 miljoen in Londen woon, het reeds drie volwasse kinders wat glo almal in hul dertigs is. Hy was voorheen in 1985 getroud met 'n vrou genaamd Leola. 

Kitty het verlede jaar in 'n onderhoud gesê sy is nie in enige haas om haar eie kinders te hê nie. “Ek sal een of ander tyd kinders het, maar ek is net in my twintigs. Kinders is oulik, maar ek dink almal moet dinge op hul eie tyd doen,” het Kitty toe gesê. 

Bronne: DailyMail, Mirror