’n Lyfwag van die ontslape prinses Diana blameer die paleis vir Thomas se uitlatings teenoor die koninklike familie. 

Meghan, die hertogin van Sussex, se uitgesproke Amerikaanse pa, Thomas (74), het al verskeie dinge in die media kwytgeraak oor hoe hy uit sy dogter se lewe gesny is voor en nadat sy in Mei met prins Harry, Diana se seun, getrou het. 

Ken Wharfe (69), wat vyf jaar lank ’n lyfwag vir Diana was, sê Harry en sy broer, prins William, het ook “hulself teleurgestel’’.

Ken Wharfe en prinses Diana. FOTO: Instagram

Hy het tydens ’n onderhoud gesê Harry het ook die koninklike familie se reputasie geskaad toe hy in 2005 tydens die 60-jarige herdenking van die Joodse volksmoord, waartydens sowat 6 miljoen Jode deur die Nazi-Duitse-regering vermoor is, ’n Nazi-uitrusting na 'n partytjie gedra het.

“Mense het hulle nie teleurgestel nie,” sê Ken en voeg by Harry en William het “moontlik hulself’’ teleurgestel.  

Prinse William en Harry. Foto: Instagram/kensingtonroyal Verified

Meer moes gedoen word om Thomas te help, sê Ken. "Die paleis het Thomas op sy eie gelos.” 

Ken sê hy sou daarop aangedring het dat Buckingham-paleis helpers na Thomas stuur om hom te wys hoe om die intense mediakollig in die aanloop tot die koninklike troue in Mei te hanteer. 

“Ek dink dis die paleis se skuld dat hulle nie dié probleem vroeër raakgesien het nie.

“Dit is ’n saak wat swak deur die paleis hanteer is,” sê Ken.

Hy het die skuld ook op Meghan gepak, wat na die paleis se “swak raad” luister oor hoe om haar pa te hanteer. 

Prins Harry en die hertogin van Sussex, Meghan. Foto: Instagram/kensingtonroyal

Thomas het vroeër na die koninklike familie verwys as “kultusagtig, soos Sciëntologie, omdat hulle geheimsinnig is” en dat Meghan “niks sonder my sou wees nie”.

Hy het ook gesê hy is bang as sy dogter en Harry binnekort gaan kinders hê, hulle die kinders van hom sal weghou omdat hy uitgesproke is teenoor die koninklike familie, wat volgens hom sy dogter van hom “afsny”. 

Bronne: mirror.co.uk, express.co.uk, daily star