Die donkerblou langmoutop van katoen was ’n geskenk van die miljardêr-entrepreneur Richard Branson en sal na verwagting meer as $5 000 (sowat R71 013) tydens die aanlyn veiling op 10 Julie haal, berig TIME

Die kledingstuk met die Virgin-logo en woorde Fly Atlantic daarop word deur prinses Diana se eertydse persoonlike afrigter, Jenni Rivett, deur PR Auction van Boston verkoop, berig die New York Post

Jenni, ’n Suid-Afrikaner wat in Brittanje woon, het tussen 1990 en 1997 vir die prinses gewerk.

Sy sê Diana het altyd dieselfde sweetpaktop gedra wanneer hulle mekaar ontmoet het om te oefen. 

“Sy was moeg daarvan dat die media oor haar klere bespiegel het terwyl daar belangriker dinge in die wêreld gebeur het.”

Prinses Diana se ikoniese top
Foto: Gallo Images/Getty Images

“Sy was die mees afgeneemde vrou ter wêreld en fotograwe het buite die plek vergader waar ons geoefen het; daarom het sy met opset dieselfde uitrusting gedra.” 

Prinses Diana het die blou sweetpaktop vir Jenni geskenk gegee voor haar dood in 1997. 

Volgens SApeople.com sal die opbrengs na ’n gesin van Malawi gaan om hul dogtertjie se skoolgeld te betaal.

 “Die prinses sou dit beslis goedgekeur het as sy nog gelewe het,” sê Jenni.

“Sake in Afrika het haar altyd na aan die hart gelê.”

Die fiksheidskenner het onthul Diana se oefenprogram was gewoonlik ’n kombinasie van kardiovaskulêre oefening en kragafrigting.

“Sy was baie gefokus en toegewyd aan haar oefenprogram,” voeg sy by. 

Jenni onthou prinses Diana as “’n absolute bondel pret met die wonderlikste humorsin”. 

Bronne: TIME, New York Post, SApeople.com