Sy is al uitgekryt as ’n partytjieprinses wat traag is om vir koninklike verpligtings moue op te rol. Ook haar aweregse modestyl en “teepotvormige rompe” het al die oë laat rek.

En nou klap die tonge opnuut oor prins Andrew en Sarah Ferguson se jongste dogter, prinses Eugenie.

Die rede? Die donkerkopprinses (28) beplan ’n bruilof met net soveel prag en praal as prins Harry en sy bruid, Meghan, s’n wanneer sy en haar verloofde, Jack Brooksbank (32), op 12 Oktober afhaak.

Nes die nuwe hertog en hertogin van Sussex wil die verloofdes in die St. George-kapel by die Windsorkasteel trou en daarna in ’n oop koets deur die strate van die prentjiemooi Engelse dorpie ry.

En nie al haar landgenote jubel oor dié ambisieuse trouplanne nie.

“Wie de hel dink Eugenie ís sy?” vra die Britse skrywer Jan Moir in ’n rubriek in die Daily Mail.

“Kom ons wees eerlik. Haar eerste 28 jaar op dié planeet het haar koninklike hoogheid prinses Eugenie van York byna niks noemenswaardigs gedoen nie. ’n Bietjie ligte liefdadigheidswerk hier. ’n Vae betrekking in die kunswêreld daar. Wil enigeen hul kleurpotlode laat skerp maak? Sy’s jul meisie,” kap sy na die prinses, wat ’n mededirekteur van die kunsgalery Hauser & Wirth in Londen is.

Al roem Eugenie haar graag daarop dat sy ’n “bloedprinses’’ is, reken die bitsige rubriekskrywer sy is “grondwetlik so belangrik soos een van die koningin se corgi’s”.

Sy is immers net die negende aanspraakmaker op die Britse troon. Harry, daarenteen, is sesde.

“Eugenie se trouplanne stroop die skyn van ons-is-so-normaal selfs meer en onthul ’n begeerte na swier en koninklike glans nog monsteragtiger as ma Fergie s’n,” skryf Jan.

Meghan en Harry 2.0

Dit lyk kompleet asof Eugenie aantekeninge gemaak het toe haar gunstelingneef, Harry (33), en die Suits-aktrise Meghan Markle (37) in Mei voor die kansel gestaan het.

Eugenie en Jack se bruilof sal nou wel nie regstreeks wêreldwyd uitgesaai word nie, maar daar is talle ooreenkomste.

Ná die plegtigheid by die Windsorkasteel sal koningin Elizabeth (92) ’n onthaal vir haar kleindogter en haar bruidegom hou, net soos met Harry en Meghan se troue.

En nes dié twee sal Eugenie en Jack lede van die publiek en liefdadigheidsorganisasies nooi om op reuseskerms in die binnehof van die kasteel na die troue te kyk.

Harry en Meghan het 2 600 sulke ekstra gaste gehad; Eugenie en Jack het op 1 200 besluit. Eugenie se ma, Fergie (58), speel self trouebeplanner.

Sy en prins Andrew (ook 58), wat in 1996 geskei is maar steeds saam onder een dak woon in die Royal Lodge in Windsor Great Park, reël glo ’n aandpartytjie vir die bruidspaar.

En dalk word dié partytjie ook in Frogmore House gehou – nes met Harry-hulle se troue . . .

Siestog, die arme ou tweetjies!

Eugenie se ousus, Beatrice (30), gaan haar hoofstrooimeisie wees. Dié twee susters het al gesê hulle is “mekaar se rots’’.

In hul eerste gesamentlike onderhoud nog het hulle onlangs teenoor die tydskrif Vogue hul lot bekla oor hul moeilike lewe.

“Ons is jong vroue wat ’n loopbaan probeer opbou en ’n persoonlike lewe lei, maar ons is ook prinsesse en doen dit alles in die openbare oog,’’ het Beatrice, ’n mededirekteur van ’n Amerikaanse tegnologiemaatskappy, gekla.

Dit lyk darem nie of hulle hulle doodwerk nie. Beatrice het die bynaam “vakansiekoningin’’ gekry toe sy in 2015 ’n volle 18 keer met vakansie was.

Ook Eugenie is skerp gekritiseer toe sy in die eerste 10 weke by haar werk by ’n Londense kunsgalery 25 dae verlof geneem het. Hierdie kritiek in die media het hulle al tot trane gedryf, het Eugenie aan Vogue vertel.

Eenmaal was hulle so ontsteld oor ’n storie oor Beatrice dat albei op ’n tuinpartytjie by die Buckinghampaleis in trane uitgebars het.

Hulle moes ook al spot verduur soos oor die vreemde hoede wat hulle na William en Kate se troue in 2011 gedra het. Beatrice s’n is met ’n pretzel en ’n seekat vergelyk en Eugenie s’n met ’n poustert.

Die glanslewe

Met die jare het Eugenie nie soos haar neef Harry haar stempel afgedruk met die koninklike verpligtings wat sy uitvoer of die liefdadigheidswerk wat sy doen nie.

Sy is ook glad nie so geliefd onder die Britse publiek soos Harry en sy ouboet, William (36), nie. Sy is eerder vir haar modeblapse en vreemde hoede bekend.

Haar verloofde, Jack, is ’n voormalige bankbestuurder en sosiale vlinder in Londen. Hy het geen adellike titel nie, maar is bekend as die “koning van Londen se klubtoneel”.

“Ons het mekaar ontmoet toe ek 20 was en Jack 24 en ons het verlief geraak,” het Eugenie al oor hul romanse vertel. Hul paadjies het die eerste keer by ’n ski-oord in Switserland gekruis. Hulle is al sewe jaar saam. Hy en Eugenie is verlangs familie.

Haar ma, die hertogin van York, is die agter-agter-kleindogter van lady Julia Coke, wat die dogter is van Jack se grootgrootjie Thomas Coke.

Nes Meghan het Jack ’n band met Hollywood – hy is ’n handelsnaamambassadeur vir die tequilamaatskappy Casamigos, wat aan die akteur George Clooney en Rande Gerber, Cindy Crawford se man, behoort.

Dalk daag die Clooneys nog by sy troue op – nes laas by Harry en Meghan s’n.

’n Bruid nes ma

Daar word gegis dat Eugenie inspirasie vir haar trourok sal soek by die ivoorkleurige skepping wat haar ma op haar en Andrew se troue in 1986 gedra het. Sy gaan glo ook dieselfde tiara dra.

Fergie is ’n uitgeworpene in die koningsgesin sedert steelfoto’s in 1992 verskyn het waarop haar Amerikaanse kêrel, John Bryan, “haar tone suig”.

Op Harry se troue moes sy met ’n plekkie agter in die kerk tevrede wees, maar as ma van die bruid sal sy waarskynlik haar plek in die voorste kerkbank langs haar eks inneem.

Mal oor Meghan

Jack en Eugenie het vroeër vanjaar in die Ivy-kothuis by die Kensingtonpaleis ingetrek. Harry en Meghan woon ’n klipgooi van hulle af in ’n woonstel in die paleis. Eugenie het al goed bevriend geraak met haar nuwe buurvrou.

Sy en Meghan deel ’n liefde vir honde, kuns en laatnag-macaroni-etes, skryf Andrew Morton in sy biografie, Meghan: A Hollywood Princess.

Eugenie boots graag Meghan se klerestyl na. Sy’s onlangs by die uitstalling in Londen ter viering van Madiba se 100ste verjaardag gewaar met dieselfde paar bleek hakskoene van Aquazzura wat Meghan gedra het toe sy en Harry hul verlowing aangekondig het.

Eugenie het dié hakke by ’n groen rok deur die Britse ontwerper Osman gedra. Meghan is tevore in ’n P.A.R.O.S.H.-skepping met dié einste skoene daarby gesien.

Nuwe titels?

Op ’n koninklike troudag is die gebruik dat koningin Elizabeth as trougeskenk ’n titel aan die bruidspaar gee.

Die tydskrif Hello! berig Jack het die opsie gehad om ’n graaf te word, maar het dit van die hand gewys.

Eugenie kry wel ’n nuwe titel: haar koninklike hoogheid prinses Eugenie, mev. Jack Brooksbank.

Bronne: Dailymail.co.uk, E! Online, Express.co.uk, Cosmopolitan.com, Harpersbazaar.com, Hellomagazine.com, The Telegraph, Vanityfair.com, Marieclaire.co.uk 

Foto's: Gallo Images/Getty Images, Greatstock/Shutterstock, Pan Media