PROJEK DINA

Chumani kuier deesdae in ons sit­kamers as die speurder Luxolo “Lux” Dladla in die kykNET-dramareeks Projek Dina. 

Hy en sy spanmaats, Deon Visagie (Tim Theron) en Ronel Oosthuizen (Chanelle de Jager), los sake oor vermiste persone op.

“Lux is die grapmaker van die span wat dinge op kantoor probeer ophelder. Hy het ’n groot netwerk mense wat hom help om sake op te los en leidrade te kry,” sê Chumani (34). 

chumani pan,akteur,projek dina
Chanelle de Jager, Tim en Chumani speel speurders wat sake oor vermiste persone probeer oplos. Foto: kykNET

Sy karakter is egter nie bang om die reëls te oortree nie – met die gevolg dat hy dikwels in die sop beland by sy kaptein, Deon.

Die reeks is sy eerste in Afrikaans, maar hy is g’n groentjie nie. Chumani is al 13 jaar in die vermaakbedryf. 

Hy het in 2007 sy televisiedebuut gemaak as die speler “Loop-en-val” Radebe in die sokkerdramareeks Shooting Stars op e.tv. 

Hy was ook al in die drama Donkerland, die derde Bakgat!-fliek en die polisiereeks The Docket.

AFRIKAANSE WORTELS 

Vir dié Ashes to Ashes-akteur was dit glad nie moeilik om Afrikaans te praat in Projek Dina nie. 

Hy is op die Oos-Kaapse platteland gebore en daar was hul huistaal Xhosa, maar hy het van sy laerskooldae af by sy grootouers Gladys en John Fisanti in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte gewoon. Hier het hy Afrikaans leer praat. 

“My ma het destyds besluit dit is beter om na Kaapstad te verhuis, want in die stad kon ons aan meer dinge blootgestel word.” 

chumani pan,akteur,pierre van pletzen
Hy sê dit was ’n groot eer om saam met bekende akteurs soos Pierre van Pletzen te werk. Foto: Instagram/@chumani_pan

Hy pendel deesdae tussen Johannesburg en Port Elizabeth, waar hy ’n deeltydse dosent by die Afda-rolprentskool is. 

Voor die kameras in Junie verlede jaar in die Kaap vir Projek Dina begin rol het, het hy ’n maand lank in die Moederstad kom bly om ingeburger te raak. 

Die Dwaalster-akteur Jarrid Geduld was die dialoogafrigter.

OP DIE STEL

Chumani het sy mede­sterre Tim, wat verlede jaar in Alles Malan te sien was, en Chanelle, wat veral bekend is vir haar rol as Des in Egoli, nie voorheen geken nie. 

“Ek het nie navorsing gedoen oor hulle nie, want ek wou sien hoe almal mekaar behandel ongeag hoe oud of jonk jy is. Hulle was regtig awesome mense om mee saam te werk.”

Al stamp hul karakters sommer van dag een af koppe, het Chumani dit geniet om saam met Tim te werk. 

chumani pan,tim theron,projek dina
Hy het saam met Tim Theron die meeste pret op die stel gehad, vertel Chumani. Foto: Instagram/@chumani_pan

“Ons het baie tonele saam gehad en daarom baie dae saam op die stel deurgebring.” 

Al het die twee ernstige en uitputtende tonele gehad in die 12 weke waarin die reeks verfilm is, was daar altyd tyd vir ’n grappie. 

“Hy is ’n snaakse ou en ons deel dieselfde humorsin. Ek het soms net vir hom gekyk en uitgebars van die lag.” 

SPEURHOND

Sy speurderrol het hom met ander oë laat kyk na die werk wat die polisie doen. 

“Die toestande waarin hulle moet werk, is skokkend. Ek dink nie ek sou alles bymekaar kon hou met die soort sake wat hulle moet hanteer nie.” 

Tog voel hy om deel te wees van ’n reeks wat stories oor mensehandel in Suid-Afrika takel, laat hom voel asof hy deel is van die oplossing. 

“Ek hoop kykers kan dit ook in die reeks sien.”

Ter voorbereiding vir sy rol het Chumani baie nagelees oor vermiste persone, speurreekse soos Elementary gekyk en selfs dopgehou hoe polisielede loop en praat. 

chumani pan,akteur,lee-ann van rooi
Hy het dit geniet om met die aktrise Lee-Ann van Rooi te werk. Foto: Instagram/@chumani_pan

“Ek wou in hul koppe klim en beleef hoe dit is om donker dinge te hanteer.” 

Die akteurs het geleer hoe om ’n geweer te hanteer, en ’n voormalige polisieoffisier was op die stel om hulle touwys te maak oor hoe om skelms van agter af te bekruip, mense te boei en deure af te skop. “Dit was groot pret,” sê Chumani. 

Hy het lang ure in die gimnasium deurgebring om weer fiks te word nadat hy ’n kort blaaskans daarvan geneem het.

Wanneer hy nie in die gimnasium sweet nie, bring hy tyd deur saam met die groot liefdes in sy lewe: sy agtjarige dogtertjie, Qhakaza, en sy meisie, Asanda Hugo.

KYKNET | DINSDAE 20:00

Blitsvrae
  • Wat is jou gunstelingspeurreeks?

Elementary; daar is niks soos ’n goeie twist in ’n dramareeks nie. 

  • Wie is jou gunsteling TV-speurder?

Sherlock Holmes wat deur Jonny Lee Miller in die boeiende reeks Elementary gespeel word. Hy het ’n skerp humorsin, en al neem niemand hom ernstig op nie, is hy ’n genius.

  • Wat sal lesers verbaas wees om te weet oor jou?

Ek kan vlieë vang! Ek hou nie van onnetheid en gemors nie, want dit lok vlieë. Daarom haat ek vlieë van jongs af en het ek hulle later begin vang. 

  • Wat is jou geheime plesiertjie?

Soetgoed. Al is ek mal oor die gim, kan ek nie genoeg daarvan kry nie. Ek werk dus ekstra hard in die gim om soetgoed te kan geniet.

  • As jy nie ’n akteur was nie, wat sou jy wees?

Ek sou graag enigiets wou doen waar ek met kinders of mense kan werk. Ek is mal daaroor om met mense te werk en hulle op ’n positiewe manier te help. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.