George en Anneke het onlangs ’n pragfotosessie geh
George en Anneke het onlangs ’n pragfotosessie gehad. Foto: Matt Carr

George, wat provinsiale krieket vir die Westelike Provinsie speel, het op 30 April sy meisie van die afgelope vyf jaar, Anneke Germishuys (22), gevra om te trou. Die groot oomblik het by die Parsons Hilltop Safari-kamp in die Balule-reservaat plaasgevind wat inskakel by die groter Krugerwildtuin. 

Hy het trane in sy oë gekry toe hy Anneke die groo
Hy het trane in sy oë gekry toe hy Anneke die groot vraag vra, verklap George. Foto: Facebook/Anneke Germishuys

En al het George die Proteas al in die grootste krieketarenas verteenwoordig, kom dit nie naby die gevoelens wat die verlowing meegebring het nie, vertel hy aan Huisgenoot

“Jissie, senuwees is een ding, maar ek het darem nog nooit trane in my oë gekry op die krieketveld nie,” vertel die Kapenaar laggend. 

“Ek het glad nie vooraf beplan wat ek vir Anneke gaan sê nie, want ek het geweet as die tyd kom gaan ek dit als vergeet. Toe sak ek net op my knie en vra of sy met my sal trou.”

George is mal oor die Bosveld en het vooraf met die personeel by die safarikamp gereël vir die groot oomblik. 

“Hulle het ons op ’n wildrit geneem. Toe ons daar kom, het een van die personeellede ons na ’n boom geneem wat ons kwansuis móés sien. Ek het natuurlik geweet wat daarna sou volg.”

Die troue sal waarskynlik volgende jaar plaasvind
Die troue sal waarskynlik volgende jaar plaasvind vertel George. Foto: Facebook/Anneke Germishuys

Anneke, ’n onderwyseres in Kaapstad, het vooraf agtergekom dat George so ietwat senuagtig was, maar die oomblik het steeds mooi uitgedraai. 

“Sy was so gelukkig, maar ek was beslis die emosionele een. Sy het eers na die ring gekyk, en toe dit aan haar vinger is toe sê sy ja,” verklap George. 

Die paartjie het mekaar jare gelede vir die eerste keer in die Canal Walk-winkelsentrum in Kaapstad gesien. Elkeen was saam met hul ouers daar wat mekaar voorheen geken het. George, wat nege jaar ouer as Anneke is, vertel hy het hom daardie dag nie veel gesteur aan die jong meisie nie. “Terwyl ons ouers gesels het, wou ek nie by die kinders sit nie, so toe stap ek aan,” lag hy.

Vyf jaar gelede stuur sy ma toe vir hom foto’s van Anneke op haar matriekafskeid en George het gedink sy is beeldskoon. Kort daarna het Anneke hom ’n boodskap op Facebook gestuur. Twee weke later het hulle vir ’n drankie gegaan, en soos hulle sê, die res is geskiedenis. 

George en Anneke is al 5 jaar saam. Foto: Instagra
George en Anneke is al 5 jaar saam. Foto: Instagram (@george_linde)

Die trouplanne moet maar eers wag tot volgende jaar, want die krieketseisoen lê al weer voor vir George, wat die laaste paar maande goed presteer het op die veld. 

George en Anneke het onlangs ’n pragfotosessie geh
George en Anneke het onlangs ’n pragfotosessie gehad. Foto: Matt Carr

“Ons het nog nie ’n presiese idee van die datum nie, maar ek het wel met Anneke gesels en gesê ons kan dit nie in die somer doen nie, want dis wanneer ek krieket speel,” laat George hoor. 

Die verloofdes het net oë vir mekaar. Foto: Matt C
Die verloofdes het net oë vir mekaar. Foto: Matt Carr

George sien ook uit na dit wat voorlê op die krieketkalender. 

In November 2020 tydens ’n wedstryd teen Engeland.
In November 2020 tydens ’n wedstryd teen Engeland. Foto: Backpagepix

“Daar is ’n Wêreldbeker wat voorlê, en ek hoop ek sal gekies word daarvoor. Ek is opgewonde om na die Wes-Indiese Eilande en Ierland te toer in die volgende paar maande.

“Ek kan nie beskryf hoe dit voel om so te kan toer saam met jou nasionale span nie. Dit maak dit so spesiaal vir my om die groen-en-goud oor my kop te kan trek,” vertel hy opgewonde.