Quanita Adams
Jare gelede is die outo-immuunsiekte alopesie by Quanita Adams gediagnoseer. Foto: Corrie Hansen

Sy weet hoe dit voel om oor haar hare skaam te wees. Eers het sy dit as ’n jong meisie ervaar oor haar kroesies; later as volwassene oor die “stresblesse” wat in haar eens welige krullebol verskyn het. 

Dit is dié dat Quanita Adams verlede jaar vroeg in die inperking besluit het dis tyd om die storie van hare te vertel, “want ons praat nog steeds oor hare”.

Toe begin die aktrise aan die draaiboek skryf van die nuwe Showmax-fliek Swirl: A Letter to Hair on the Cape Flats, waarvan sy toe ook die regie behartig het. Dit is nie noodwendig die verhaal van haar eie reis met haar hare nie, vertel Quanita, maar dele van haar storie het wel in verskillende karakters se ervaring neerslag gevind.

Op die stel van Swirl.
Op die stel van Swirl. Foto: kykNET&kie en M-Net

“Kyk, die alopesie met die hare wat uitval – that’s me, ek het alopesie nervosa,” verduidelik sy. Nes die hoofkarakter Elaine Williams (gespeel deur Chanelle Davids) is dié toestand 15 jaar gelede by Quanita (nou 43) gediagnoseer. 

“Ek het ’n outo-immuunsiekte waar die liggaam te veel van die streshormoon produseer en dit dan my hare aanval. Daar was ’n tyd dat ek al my hare hier voor en agter in sulke groot kolle verloor het,” beduie sy met haar vuis hier waar ons in De Waalpark aan die voet van Tafelberg sit.

Dis ’n hanetree van die huis waar Quanita en haar Amerikaanseman, Brian Monroe (32), in Kaapstad, woon, en hulle kom gereeld met hul 11 maande oue dogtertjie, Alia, hier stap.

Alia het haar talentvolle ma in Desember op die st
Alia het haar talentvolle ma in Desember op die stel van Swirl vergesel. Foto: Instagram/@quanitadams

Dit was drie weke ná Alia se geboorte dat Quanita ook aan haar “film baby” begin werk het. Al speel Quanita nie self in Swirl nie, maak haar hare – of stringe daarvan – wel ’n verskyning op die skerm. 

Oor die tonele waarin Elaine haar hare kam en klosse daarvan uitval wat sy dan in bolletjies rol, verklap Quanita: “Dis mý hare.” Haar hare het opnuut begin uitval nadat sy op 1 Mei verlede jaar ma geword het, verduidelik sy, “maar dit is algemeen ná swangerskap.”

Die belangrikheid van respek vir verskillende soorte hare en skoonheid het die afgelope paar jaar toenemend aandag in die media gekry, maar Quanita sê Swirl is nie “’n opvoedkundige opleidingsvideo oor diversiteit” nie.

“Dit is nie my werk om vir jou te leer om oukei met jou hare te wees nie. Ek wou net ’n rolprent maak wat mense sal laat lag, dink en huil. Dis my brief aan my hare, en dit praat van loss, growth and regrowth.

Net drie weke ná klein Alia se geboorte het Quani
Net drie weke ná klein Alia se geboorte het Quanita aan die draaiboek van Swirl begin skryf. Foto: Instagram/@quanitadams

Haar hare is nou eers aan die teruggroei ná Alia se geboorte, sê Quanita. Haar donker krulle is terug, maar dit is nog nie so welig soos die krullebol waarmee sy voorheen as die karakter Laetitia in Arendsvlei te sien was nie. Sy was ’n medeskrywer van die eerste twee seisoene van dié reeks, sowel as van die dramareeks Afgrond tans op kykNET. 

“Mense ken my as ’n aktrise, maar vir die afgelope ses jaar skryf ek ook,” vertel Quanita, wat veral bekendheid verwerf het vir haar spel as Zadie in Binnelanders en Lizzie in Sara se geheim.

Met Swirl het sy nie net as skrywer en regisseur ontpop nie; sy sing ook die temalied, “She’s a Girl”. Dis spesiaal vir haar geskryf deur ’n vriend, dr. Marc Hendricks, ook bekend as die singende dokter van die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

Quanita het die fliek opgedra aan haar oorlede tannie Ghamieda, wat haar getroos het toe sy dit die nodigste gehad het. “Ons was by ’n familiebyeenkoms en my uncles en cousins het my oor my kroeshare geterg. My auntie het my herinner dat hare nie alles is nie,” onthou sy.

Sy het in Lotusrivier op die Kaapse Vlakte grootgeword, en haar jeugjare was die inspirasie vir die komediedramareeks The Riviera uit haar pen, wat verlede jaar op SABC2 te sien was.

Sy onthou nog hoe haar medepassasiers in taxi’s in haar jonger dae soms haar bos hare uit die pad sou skuif wanneer hulle oorleun om die bestuurder te betaal. Al was sy nog nooit op haar mond geval nie, het hulle aanmerkings by haar gespook.

Dit het haar lank geneem om eindelik haar eie natuurlike hare te aanvaar. “Ek sê altyd ons moet minder worry oor wat óp my kop is; ons moet eerder fokus op wat ín my kop is, want wat binne aangaan, is belangriker.” 

Quanita in Arendsvlei.
Quanita in Arendsvlei. Foto: kykNET&kie

Maar ná haar interne stryd om vrede te maak met ’n welige bos hare, tref die teenoorgestelde lot haar toe onverwags in 2006. 

“Ek het deur ’n rowwe patch gegaan met ’n toneelstuk wat op ’n sielkundige vlak baie moeilik was,” vertel Quanita oor ’n vier maande lange internasionale toer – van Rwanda tot in Bosnië – met ’n teaterproduksie. “Ek weet nie hoe dit gebeur het nie, maar iemand op toer het met my hare gespeel en gevra: ‘Waarom het jy dit aan jou hare gedoen?’”

Sy was uit die veld geslaan, want sy was toe nog salig onbewus van die kaal kolle aan haar kopvel. “Ek het meer van die stresblesse gekry en skielik was ek nie meer so vol selfvertroue oor my hare nie.” 

Quanita as Lizzie in Sara se geheim.
Quanita as Lizzie in Sara se geheim. Foto: kykNET

Terug in die Kaap is alopesie by haar gediagnoseer. “Ek dink die diagnose was ’n waarskuwing en ’n wake-up call oor hoe ek stres hanteer,” sê sy vandag. “Die siekte is in my familie, en ek noem die kolle sommer my stresbles.” 

Haar ma, Felicity Adams, tannies en peetkind is almal te sien as ekstras in Swirl. Ma Felicity het tydens die inperking by Quanita en haar man ingetrek om hand by te sit met haar kleindogter. “Sy is Good Times Granny,” vertel Quanita. 

Quanita noem haarself weer “Milky Mom”, want sy borsvoed steeds vir Alia. Die kleinding was verlede Desember saam op die stel van Swirl. “Dit was amazing om haar daar te hê, maar dit was ook uitdagend om te borsvoed en terselfdertyd die shots te call.

Gelukkig is Brian ’n raakvat-pa. Quanita noem hom “Diaper Dad”. “Ek het seker nog net 11 keer doeke omgeruil, want hy doen dit. Hy is net ongelooflik.” 

Die aktrise het tydens die inperking vir die eerst
Die aktrise het tydens die inperking vir die eerste keer ma geword. Hier is sy met haar man, Brian en hul dogtertjie, Alia. Foto: Instagram/@quanitadams

Sy het die Amerikaanse ekonomienavorser agt jaar gelede deur gemeenskaplike vriende in Kaapstad ontmoet en hulle is in 2018 getroud. Oor die ouderdomsverskil van 11 jaar spot sy: “Ek is sy Old Mutual en hy is my Ben 10!”

Hy werk van die huis af vir die University College Dublin in Ierland. Ook Quanita werk reeds weer aan ’n volgende projek – die draaiboek van ’n TV-reeks vir SABC.

“Ek hou daarvan om toneel te speel, dis my eerste liefde,” sê sy, “maar daar is iets daaraan om karakters te skep en te kyk hoe mense jou woorde vat en magic maak.”

  • Swirl: A Letter to Hair on the Cape Flats is op Showmax beskikbaar.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe