Bronne na aan R. Kelly (52) beweer die sanger is “gewalg” en beskuldig die rolprentmakers daarvan dat hulle ’n “vendetta” teen hom het.

R Kelly
Foto: Gallo Images/Getty Images

In die ses aflewerings van die onthullende doku-reeks word onderhoude met voormalige vriende, familielede en kollegas gevoer.

Hulle maak almal onsmaaklike bewerings oor hoe die sanger deur sy hele loopbaan van drie dekades lank vroue en minderjarige meisies mishandel het.

Tog is die sanger agter die treffer I Believe I Can Fly nie al een wat die skokbewerings in die omstrede dokumentêr as leuens afmaak nie.

Die oorlede sangeres Aaliyah se ma, Diane Haughton, het ’n verklaring uitgereik waarin sy die voormalige agtergrondsangeres Jovante Cunningham – wat beweer sy het gesien hoe R. Kelly met ’n 15-jarige Aaliyah seks het – daarvan beskuldig dat sy “leuens en versinsels” versprei.

Aliyah
Die sangeres Aaliyah. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die program se vervaardiger, Dream Hampton, het onlangs vertel van die gesukkel om beroemdes wat R. Kelly gekritiseer het te oorreed om uit te praat.

“Ons het Lady Gaga gevra. Ons het Erykah Badu gevra. Ons het Celine Dion gevra. Ons het Jay-Z gevra. Ons het Dave Chappelle gevra,” sê sy.

“Dis daardie wegwysery wat dit vir R. Kelly moontlik gemaak het om met sy streke voort te gaan.”

Een beroemde wat nie bang was om uit te praat nie, was die sanger John Legend (40), wat in ’n twiet sy besluit verdedig het om in die dokumentêr te verskyn.

John Legend
John Legend Foto: Gallo Images/Getty Images

‘R. Kelly het soveel pyn vir soveel mense veroorsaak. Die tyd is verby vir R. Kelly’ – John Legend