Rikus het pas teruggekeer van Peru in Suid-Amerika waar hy die bekende Dakar-wedrenresies buite die hoofstad, Lima, bygewoon het, en waar hy elke dag (in styl!) in die woestyn gekampeer het.

Dié jaarlikse byeenkoms vir 4x4-liefhebbers is 'n groot trekplester vir renjaers van oor die wêreld heen, waar hulle oor sandduine, deur modder, kameelgras en oor rotse jaag.

Die resies is opgedeel in 12 fases wat oor etlike dae strek en renjaers moet sowat 300 km per dag aflê. Die wedren begin en eindig in Lima en deelnemers kan kies om dit per motorfiets, vierwielmotorfiets, vragmotor, 4x4-voertuig of SxS te voltooi.

Rikus en die motorbandhandelaar BF Goodrich het kragte saamgespan en hy het nie twee keer gedink toe hy die kans kry om saam met hulle Peru toe te gaan nie. “Ek is maar 'n ou wat hou van die buitelewe, grondpaaie en 4x4’s,” vertel die bekende grapjas.

“Ek werk kort-kort saam met hulle om 'n bietjie inhoud te skep wat daai lewenstyl uitbeeld. Daar was 'n klomp ander mense van dwarsoor die wêreld ook in ons groep. So toe hulle my vra of ek wil in-pull, het ek gespring! (Dit is) baie nice!”

Rikus het gereeld foto’s en video’s op sy sosiale blaaie gedeel en het sy volgelinge, wat net so lief is vir die buitelewe, groen van jaloesie gemaak.

“Ek het so twee jaar terug 'n paar projekte saam met BF Goodrich begin doen nadat ek hulle bande op my bakkie begin gebruik het. Ek is nogal lief vir die bos, sand, duine en buitelewe en die meeste van die mense wat my volg, is Afrikaners wat ook hou van jag, kamp en 4x4’s,” sê hy. 

View this post on Instagram

#dakarpakkie #dakar2019 #bfgoodrich #teamupwithbfg

A post shared by Radio Raps (@radioraps) on

Rikus sê hoewel hulle nie self gejaag het nie, het hulle lekker gespeel en in standaard voertuie oor Peru se duine gery. Hulle het ook 'n paar keer in 'n spesiale Dakar-voertuig om die baan gejaag om nuwe bande te toets.

“Hulle laat jou in die middel van die woestyn in luukse kampe reg langs die roete kampeer. Jy word 06:00 in die oggend wakker met die gebrul van die voertuie wat langs jou tent sand kom opskiet.”