Rikus, wat beter bekend is as sy gewilde alter ego Jonathan van Radio Raps, is tans besig by die Nampo-oesfees buite Bothaville in die Vrystaat, maar het by navraag die nuus bevestig. 

“Dit kom al lank. Ons is nie kwaad vir mekaar nie, maar ons wil dit net privaat hou,” het Rikus aan Huisgenoot vertel.

“Dit is maar traumaties, maar ons het nie kwade gevoelens nie. Dit is net so,” voeg hy by.

Die paartjie is op 25 November 2017 op die Harmonie-proteaplaas tussen Rayton en Cullinan buite Pretoria getroud.

“Ek is buite my gemaksone. Dit is die eerste keer in my lewe dat ek so op my senuwees is. Ek het al voor 5 000 mense opgetree, en dit was niks. Maar nou is ek op my kwesbaarste,” het Rikus destyds in ’n onderhoud met Huisgenoot oor dié dag gesê.

Radio Raps
Rikus en Kaylee op hul troudag. Foto: Jolandi Nel van Pixel Pro Photography.

“Toe sy die eerste keer vir my lag en so lékker lag, het ek geweet sy is die een. Wanneer sy by my is, is alles fine,” het hy toe gesê.

Kaylee het toe bygevoeg dat Rikus haar beste maat is. “Al wil ek hom soms vermoor, is hy net my mens,” het sy gesê.

In ’n verklaring oor die egskeiding sê Zinta Kymdell, Rikus se bestuurder: “Ná 'n lang maar stil skeiding, is die egskeidingsdokumente ingedien.”

View this post on Instagram

Hennie, wie is dié? @therealhennies @budweiserza

A post shared by Radio Raps (@radioraps) on

“Rikus en Kaylee gee steeds om vir mekaar; die skeiding is uiteraard 'n sensitiewe en emosionele tyd vir hulle. Hulle wens is om die nuwe seisoen in hulle lewe privaat te hanteer,” sê Zinta.

“Dit is ’n privaat ding en ons het dit uitgesort. Al die ouers weet al daarvan, want dit kom al lankal. Die mense het net nou bewus geraak daarvan,” sê Rikus.