"Drie jaar sonder alkohol!" het Rozanne op Instagram geskryf. "Ek het op 28 November 2016 besluit om 'n maand lank op te hou drink en hier is ek drie jaar later. Ek kan nie begin om te verwoord hoe trots ek is en op hoeveel maniere my lewe ten goede verander het nie,” skryf sy.

“Vanjaar was vir baie mense ’n moeilike jaar, insluitend vir my. Ek het ’n aantal terugslae en teleurstellings gehad, dinge wat enigeen sou dryf tot drank. Nie ek nie.

"Ek het 'n groot deel van verlede jaar en die eerste ses maande van hierdie jaar gevoel ek het myself 'n bietjie verloor. Ek het toegelaat dat mense my vreugde steel.

"Die afgelope vyf maande het ek my vreugde weer gevind en dit wys. Die fokus is om myself te omring met mense wat my goed laat voel en dinge te doen wat my gelukkig maak.

"My vrede is te duur om in situasies te bly wat nie goed is vir my nie. Hierdie mylpaal sal een wees wat ek elke keer sal vier as dit aanbreek,” skryf sy verder. 

Die jaar was juis ’n uitdaging vir haar omdat sy in haarself begin twyfel het, vertel Rozanne aan Huisgenoot. 

“Ek het vir myself begin vra of ek werklik goed is in my loopbaan en of ek ’n goeie ma en vrou is. Die konstante twyfel in myself het my amper heeltemaal geknak. Ek dink ek het bietjie uitgebrand,” voeg sy by. 

Rozanne en haar musikantman, Chris Bishop (40), het twee kinders, James (5) en Fallon (2). 

Die onverwagse einde van die Afrikaanse nuusbulletin Nuusdag op e.tv se gratis televisiediens OpenView en die DStv-kanaal eExtra was ook ’n groot skok vir Rozanne, wat een van die ankeraanbieders op die program was.

"Dis nie ’n geheim dat dit my droomwerk was nie. Dit was ’n ongelooflike span om mee te werk en ek mis hulle almal. Ek is vryskut, so gelukkig was al my eiers nie in daai een maandjie nie, maar emosioneel was dit vir my ’n groot verlies,” vertel die Jacaranda FM-omroeper. 

Sy moes boonop ook toksiese mense uit haar lewe sny.

"Daar is mense in die lewe wat nie die beste vir jou wil hê nie en niks goed vir jou toewens nie. Daar was ’n paar sulke mense in my lewe. Regte boelies. Dat ek op 37 nog boelies teëkom, was amper onwerklik vir my!’’ 

Gelukkig het Rozanne se ma, Ann McKenzie, wat ook haar beste vriendin is, tot haar redding gekom. 

“Sy was baie bekommerd oor my en het daarom gesê ek moet myself eerste sit en weer op my eie welsyn fokus, ongeag die gevolge,” sê sy.

“Ek is nou heeltemal selfsugtig oor wie ek in my lewe toelaat. Dis mense wat my ophef en wie se geselskap en energie ek geniet. My lewe is minder gejaagd en ek kies om op projekte te werk wat by my lewe inpas,” vertel sy.

“Ek fokus op my geestesgesondheid. Ek eet gesond, doen joga, en is nou ernstig weer besig in die gim. Nuusdag se einde was op ’n manier goed vir my skedule. Ek is nou meeste aande met my kinders en man by die huis en dit maak ’n groot verskil.”