Elana, ’n radioaanbieder by Jacaranda FM, het haar skokverhaal op dié radiostasie se webtuiste gedeel. “Net om dié woorde te skryf, maak my bang en kwaad. Ek wil huil, bid, skree en weghardloop,” skryf Elana.

Sy verwys ook na die toename in kinderontvoerings in Suid-Afrika. “’n Paar skole het ouers al in nuusbriewe in kennis gestel; moeders waarsku gereeld op WhatsApp-groepe en dan . . . dan gebeur iets skokkends met my en my dogter,” skryf Elana.

In ’n video vertel sy hoe sy, haar man, Ian Bredenkamp, en hul dogtertjie by die Johannesburgse dieretuin was toe ’n onthutsende voorval hom in die badkamers afgespeel het.

Elana sê sy en haar dogtertjie was in die heel laaste toilethokkie. Sy het die deur oopgelos omdat die hokkie so klein was en sy meer ruimte nodig gehad het om die kind aan te trek. Dit is toe dat haar dogtertjie haar inlig van ’n vrou wat agter Elana staan en hulle twee dophou.

“Kan jy asseblief vir ons privaatheid gee,” het sy die vreemdeling gevra.

Die vrou het gesê sy hoef nie bekommerd te wees nie; sy kyk net. Elana het aangehou om vir haar te vra om hulle privaatheid te gee. Die vrou het haar stem verhef en gesê: “As jy privaatheid soek, moet jy die deur toemaak. 

Elana sê dit het haar groot laat skrik. “Ons bly nie meer in dieselfde tye as voorheen nie. Wees versigtig rondom ander mense se kinders,” sê Elana in die video. 

Daar is onlangs berig dat vreemde vroue in toilette by winkelsentrums in die geheim foto’s van kinders neem. Sommige skole het ouers ook gewaarsku dat daar vreemdelinge voor skole is wat kinders dophou. 

Huisgenoot het Elana om kommentaar genader, maar sy het nog nie gereageer nie.