Rebel, wat haar jaar van gesond leef met haar 9,3 miljoen aanhangers op Instagram deel, het in Augustus foto’s gedeel van haar transformasie en geskryf: “Dankie vir al die liefde tot dusver op my jaar-van-gesond-leef reis – toe ek gisteraand ná aandete na die soetgoed reik, het ek gedink: ‘Mm, liewer nie’ en eerder ’n bottel water gedrink.”

Die aktrise (40), wat veral bekend is vir die Pitch Perfect-fliekreeks, het in daardie inskrywing gesê sy is naby haar doelgewig. “Ek het nog agt kilogram om te verloor tot ek my doelgewig bereik – hopelik kan ek dit teen die einde van die jaar regkry.”

En sy het dit reggekry en ’n foto gedeel van die skaallesing wat “74,6 kg” aandui.

“Ek het my doelgewig bereik met nog een maand oor!” het sy geskryf. “Al gaan dit nie oor ’n syfer nie, maar oor gesond wees, het ek ’n tasbare meting as doelwit nodig gehad en dit was 75 kg.” 

Rebel het vandeesweek ’n uur lank op Instagram Live oor haar besluit gepraat om vanjaar op haar gesondheid te fokus, oor hoe dit voel om 40 jaar oud te word en om haar eierselle te vries.

“Ek het gedink aan vrugbaarheid en om goeie gehalte eiers in die bank te hê en dink toe: ‘Goed, ek gaan dit doen, ek gaan gesond leef’,” het sy gedeel.

“Behalwe dat ek 40 geword en gedink het ek gaan dalk nie vanjaar so baie werk nie, het ek op ’n sielkundige vlak geweet ek sou meer tyd op hande hê en dat ek my eierselle wil laat vries.

"Soos alle loopbaangerigte vroue weet – indien dit iets is waarin jy belangstel – is dit ’n goeie tyd om dit te laat doen. Om te wag tot jou 40’s is eintlik ’n bietjie laat. Dis beter om dit ’n bietjie vroeër te doen as jy kan.”

Die komediant het ook gesels oor haar verhouding met haar kêrel, Jacob Busch.

“Iemand het my gevra ‘Is die sexy ou op jou Instagram jou kêrel?’ Ja, ja, dis korrek,” het sy glimlaggend laat hoor.

“Maar hy is ’n baie privaat mens en ek wil nie te veel in daardie afdeling deel nie. Maar ons was saam voor ek my reis na gesondheid begin het. Dit wys jou net, vroue hoef nie ’n sekere grootte te wees om ’n kêrel te kry nie.”

BRONNE: PEOPLE, DAILY MAIL, METRO