Foto: Instagram (@rebelwilson)
Foto: Instagram (@rebelwilson)

Die Australiese aktrise het die onthulling gemaak tydens ’n gesprek met die Britse televisieaanbieder en avonturier Ant Middleton in sy reeks Straight Talking

Volgens Sky News is die aktrise en ’n groep vroue oornag deur hul ontvoerders aangehou. 

“Daar was een keer in Afrika waar ek ontvoer was. Mans het op ’n trok gekom met groot vuurwapens en ons is aangesê om van ons trok af te klim. Hulle het ons na 'n huis in die middel van nêrens geneem,” het Rebel (40) vertel.  

Rebel meen sy het die situasie baie goed hanteer. 

“Ek voel ek was baie goed te midde van die krisis. Ek was soos ’n spanleier,” het sy aan Ant verduidelik.

“Hulle het ons laat sit, en ek het vir almal gesê om mekaar se arms te vat, want ek was doodbang dat hulle dalk een van die meisies in die nag sal kom vat of so iets,” het sy bygevoeg. 

Gelukkig vir Rebel en haar medereisigers is almal die volgende dag ongedeerd vrygelaat. "Ons het nie enige vrae gevra nie. Ons het terug op die trok geklim en net daar weggekom en toe 'n paar uur later die Suid-Afrikaanse grens oorgesteek."

Hoewel sy nie verstaan hoekom hulle ontvoer is nie, is Rebel se teorie dat die ontvoerders onwettige smokkelaars was, het sy verklap. 

Rebel het nie in Straight Talking vertel wanneer presies die ontvoering plaasgevind het nie. Die Bridesmaids-ster was in 2014 in Tanzanië op safari terwyl sy in Kaapstad aan die fliek Grimsby geskiet het. 

Rebel en Ant verken in die episode die Mexikaanse wildernis en die aktrise het ook gesels oor die emosionele stryd wat sy gevoer het oor haar gewig. “Ek het nie myself liefgehad soos ek moes tussen 20 tot 40 nie – dis 20 jaar," het sy vertel.

“Ek is so hartseer dat ek dit aan myself gedoen het,” het Rebel gesê. 

Sy ly aan polisistiese ovariële sindroom en dit het bygedra tot haar geneigdheid om te eet sodat sy beter kan voel. 

“Ek het geeët vir enige emosie wat ek ervaar het. As ek gestres was of as ek eksamens gehad het. Maar dan sou ek ook eet as gelukkig was, soos as ek uit gegaan het en ’n wonderlike tyd gehad het,” het sy laat hoor. 

Rebel het haar in 2020 daarop toegespits om gesond te leef. Sy het 28 kg afgeskud en haar teikengewig van 74 kg bereik. Sy het ook liefde gevind. 

Die aktrise en die sakeman Jacob Busch (29) het in September 2020 hul eerste verskyning as paartjie gemaak by prins Albert se Monte Carlo-gala vir die gesondheid van die planeet in Monaco.

Rebel en Jacob in September 2020. Foto: Gallo Imag
Rebel en Jacob in September 2020. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jacob is ’n erfgenaam van die bierreus Anheuser-Busch, wat produkte soos Budweiser en Stella Artois vervaardig. 

Rebel koer gereeld in die sosiale media oor haar Amerikaanse liefie. 

Bronne: Sky News, Stuff, Daily Mail, New Zealand Herald