Hy is die man wat Amerika verdeel het. Nie Donald Trump nie, al doen dié omstrede president dit ook.

Ons praat hier van Colin Kaepernick, die 30-jarige Amerikaanse voetbalster wat in Augustus 2016 ’n opskudding veroorsaak het toe hy op ’n bankie langs die veld bly sit het terwyl sy spanmaats van die San Francisco 49ers gestaan en die Amerikaanse volkslied uit volle bors gesing het.

Die sterspeler het dit gedoen uit protes teen rasseongelykheid en polisiegeweld in sy land.

’n Maand daarna het die quarterback weer standpunt ingeneem, dié keer deur op een been langs die veld te kniel terwyl die Amerikaanse volkslied voor ’n wedstryd gesing word.

Dit was die begin van die landwye veldtog #TakeAKnee waarin ander atlete dit ook tydens groot sportbyeenkomste gedoen het. Dit sorg vir groot drama en debat in Amerika.

In Oktober 2016 het die voetbalster op een knie op die voorblad van die tydskrif Time verskyn met die opskrif: “The Perilous Fight: National anthem protests led by Colin Kaepernick are fuelling a debate about privilege, pride and patriotism.”

En nou gons dit weer oor dié voetbalster nadat die sportklerereus Nike Colin as die nuwe gesig van hul 30ste Just Do It-herdenkingsveldtog aangewys het. “Believe in something. Even if it means sacrificing everything. Just Do It,” is die slagspreuk.

’n Dag ná die begin van die veldtog op 3 September vanjaar het Nike-aandele met 3,2% geval.

Kritici het voorspel die veldtog sou die begin van die einde vir die handelsnaam wees. “Wat het Nike besiel?” het Trump in ’n twiet gekap.

Trump-ondersteuners het hul peperduur Nike-tekkies en -klere uit protes verbrand en video’s en foto’s daarvan aanlyn gedeel met die frase #JustBurnIt.

Maar toe gebeur die teenoorgestelde as wat kritici verwag het: Sedert Colin die gesig van Nike se nuwe veldtog is, het die prys van Nike-aandele met 36% gestyg en die maatskappy se markwaarde met ’n allemintige $6 miljard.

Nike se aanlyn verkope het met sowat ’n derde gestyg. Talle bekendes, soos ons eie Trevor Noah, wat deesdae The Daily Show in Amerika aanbied, en die Amerikaanse gholfkampioen Tiger Woods, het hul gewig agter Colin gegooi.

Nou lag Nike die hele pad bank toe terwyl Colin se boodskap wêreldwyd weerklink.

Die sportman is in Wisconsin gebore, en sy 19-jarige ma, Heidi Russo, ’n wit vrou, het Colin kort ná sy geboorte laat aanneem. Sy pa, ’n swart man, het sy ma net voor hul seuntjie se geboorte verlaat.

Colin was vyf weke oud toe ’n wit paartjie, Rick en Teresa Kaepernick, wat reeds ’n seun, Kyle, en dogter, Devon, gehad het, hom aanneem. Hy het in ’n Metodistehuis grootgeword en reeds kleintyd in sport uitgeblink.

In gr. 4 het hy ’n brief aan homself geskryf en voorspel hy sal eendag 2 m lank wees – hy is nou 1,9 m – en dat hy ’n quarterback in die nasionale voetballiga gaan wees.

Colin het in Turlock grootgeword, ’n stad in Kalifornië. Hy het sakebestuur aan die Universiteit van Nevada studeer en daar ’n belangstelling in die geskiedenis en kultuur van swart Amerikaners ontwikkel namate hy mense van ander agtergronde teëgekom het.

“Dit was vir hom belangrik om ’n identiteit te kry; in sekere aspekte van sy lewe het wit mense hom rassisties behandel omdat hy ’n swart quarterback is,” het John Bender, ’n medevoetbalspeler en klasmaat, aan die LA Times gesê.

Ná ’n indrukwekkende voetballoopbaan in sy universiteitsjare het hy in 2011 ’n kontrak met die 49ers losgespeel. Hy het die span gehaal vir 2013 se Super Bowl, en al het hulle verloor, was sy naam op almal se lippe. 

“Ek glo Kaepernick kan een van die grootste quarterbacks ooit wees,” het ’n kommentator van die sportkanaal ESPN, Ron Jaworski, gesê.

#TakeAKnee

Ná sy eerste protesoptrede in Augustus 2016, toe hy op die bankie bly sit het voor die wedstryd in Santa Clara, Kalifornië, het Nate Boyer, ’n Amerikaanse oorlogsveteraan en oudvoetbalspeler, aan die quarterback vertel soldate kniel by die grafte van hul gestorwe kamerade om respek te toon.

Daarom het Colin die volgende maand, op 1 September 2016, by ’n wedstryd in San Diego, Kalifornië, langs die veld op een knie gegaan tydens die sing van die volkslied.

Dit was die geboorte van die #TakeAKnee-veldtog.

Ander voetbalspelers, onder andere Tom Brady (41), wat getroud is met die model Gisele Bündchen (38), het hom ondersteun, en spelers van ander sportsoorte het hom dit begin nadoen.

Gou was die tonge los. Ondersteuners het Colin geloof vir sy waagmoed en gemoedsoortuiging; kritici het gekap hy het nie respek vir sy land of volkslied nie.

Trump was so die josie in, hy het op ’n saamtrek vroeg in 2017 in Alabama geëis dat Colin uit die 49ers “afgedank” word. Maar Colin het self in Maart verlede jaar sy kontrak met die 49ers beëindig.

Hy het laat hoor hy gaan nie sy trots wys vir ’n land waar swart mense onderdruk word en onder polisiegeweld deurloop nie. “Daar is lyke in die strate en mense (die Amerikaanse polisie) wat betaalde verlof kry en wegkom met moord.

Ek weet ek staan op vir wat reg is,” het hy toe gesê. Te midde van die herrie trek sy loopbaan swaar: Die invloedryke NFL, die beheerliggaam van Amerikaanse voetbal, behandel hom stief, klubs weier om vir hom ’n kontrak te gee en hy was twee jaar laas op ’n voetbalveld.

’n Knielende Colin op die voorblad van die tydskrif Time.

Waar pas Nike in?

Nike het deur die jare tydens verkiesings meer geld aan Trump se party, die Republikeine, as aan die Demokratiese Party geskenk. Die enigste uitsondering was met die presidentsverkiesing in 2016, toe Nike meer geld aan Trump se teenstander, die Demo-kraat Hillary Clinton, geskenk het.

Phil Knight (80), medestigter van die maatskappy en steeds ’n groot kokkedoor daar, is volgens Forbes die 28ste rykste mens in die wêreld met ’n allemintige bankbalans van R500 miljard. Hy was op sy dag self ’n kranige sport-man en atleet aan die Universiteit van Oregon, waar hy ’n joernalistiekgraad behaal het.

Phil Knight, mede­stigter van Nike. Foto: Gallo Images/Getty Images

Ná sy studie het hy die wêreld vol gereis. In Kobe, Japan, het hy in November 1962 die eerste keer die Tiger-handelsnaam se hardlooptekkie gesien.

Hy het later die regte bekom om dié skoene in Amerika te verkoop. Phil en sy voormalige atletiekafrigter, wyle Bill Bowerman, het in die 1960’s elk $500 opgedok om die tekkiemaatskappy Blue Ribbon Sports te begin.

Dit is in 1971 tot Nike herdoop. Vandag spog Nike met jaarlikse verkope van meer as R500 miljard. Die maatskappy het 74 400 werknemers en kantore in 52 lande.

Ondanks Nike se steun aan Colin bly Phil ’n lid van die Republikeinse Party. En Nike bly nou betrokke by die NFL, die liggaam wat die wêreld vir Colin moeilik maak.

Die maat-skappy het in Maart vanjaar hul kontrak met die NFL hernu om tot 2028 kleredrag aan die liggaam te verskaf. Of Colin weer in hul klere op die voetbalveld sal verskyn, bly ’n ope vraag.

#JustDoIt

Die advertensie wat die internet aan die gons het en die miljoene vir Nike laat inrol. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Oktober verlede jaar het Colin die NFL hof toe gevat omdat hulle glo saamsweer om hom uit die sportliga te hou. Die saak duur voort, maar NFL-eienaars het onlangs besluit spelers móét op die veld die volkslied sing.

Dié wat nie wil sing nie, moet in die kleedkamer wag. Die klub van ’n speler wat wel kniel terwyl die lied gesing word, sal deur die NFL beboet word. Jed York, eienaar van die 49ers, het geweier om te stem.

Hy sê Colin het die reg om vir sy beginsels op te staan, maar die span oorweeg dit steeds nie om hom weer ’n kontrak aan te bied nie.

Ondanks die uitdagings was daar ook lof vir Colin se otrede. Hy is verlede jaar met die Sports Illustrated Muhammad Ali Legacy-prys vereer.

Die Amerikaanse wêreldkampioenbokser na wie die prys genoem is, het in die 1960’s opgestaan teen rassisme en geweier om in Viëtnam diensplig te doen. 

Bronne: Vox.com, Washingtonpost.com, Huffpost.com, Yahoo.com, Highsnobiety.com, Independent.co.uk, People.com, CBSN.ws