Die kreatiewe paartjie, Regardt van den Bergh en C
Die kreatiewe paartjie, Regardt van den Bergh en Clara Joubert het in 2019 China toe gegaan toe werksgeleenthede vir hulle in Suid-Afrika opgedroog het. “Ons is nie eintlik deur ’n hewige inperking geraak nie,” vertel Regardt, wat ’n legendariese akteur en regisseur in Suid-Afrika is. Hier is hullle in Yixung. Foto: Verskaf

Dit was ’n moeilike seisoen vir die rolprentmaker en sy vrou – ’n tyd van soek en wag, en van vele gebede. Hul soektog na nuwe geleenthede het reeds in China en Amerika gaan draai, en veroorsaak dat hulle al maande lank duisende kilometers van mekaar af woon.

Maar nou is daar eindelik lig aan die einde van die lang, donker tonnel en wink ’n nuwe hoofstuk vir die regisseur Regardt van den Bergh (68) en sy aktrisevrou, Clara Joubert (57). En dis eindelik weer een wat hulle sáám sal kan aanpak.

Regardt bevind hom tans in die stad Baton Rouge in Louisiana, Amerika, waar hy werk aan die ontwikkeling van ’n nuwe western-fliek, terwyl Clara bly in die stad Wuxi in China waar sy Engels-klasse aan skoolkinders gee.

Van Hes op TV se gewilde Orkney Snork Nie, tot ond
Van Hes op TV se gewilde Orkney Snork Nie, tot onderwyseres wat poppespel en haar vernuf as akrise inspan om kinders Engels te leer praat. Foto: Verskaf

Die tydsverskil tussen dié twee stede is 14 uur, en hulle moet hul verhouding al sedert Augustus verlede jaar oor die langafstand maak werk.

Natuurlik is dit moeilik om so ver van mekaar te wees, erken Regardt via ’n video-oproep op Zoom. “Maar ons is baie lief vir mekaar; ons hou uit en ons hou aan.

“Ons kommunikeer elke dag – oggend en aand. As ek nou in die oggend met haar praat, is dit aand daar. Dan praat sy weer in die oggend daar met my hier in die nag.”

Dit is ’n groot toets, maar hulle hou moed. “Ons hou vas aan die Here en aan mekaar,” sê Regardt.

Regardt en Clara in Beijing by die Verbode Stad. F
Regardt en Clara in Beijing by die Verbode Stad. Foto: Verskaf

Die rolprentpaar het in Februarie 2019 na die stad Yixung in China getrek toe werkgeleenthede hier op eie bodem min geraak het, vertel Regardt, wat veral bekend is as regisseur van flieks soos Faith Like Potatoes, Klein Karoo en Uitvlucht en laas in 2018 self voor die kameras te sien was as Thys van Wyk in die fliek Dominee Tienie.

Ook vir Clara, in die tagtigerjare bekend as die tienerkarakter Hes in die gewilde TV-reeks Orkney Snork nie!, was daar net hier en daar rolle nadat sy in 2015 gespeel het in Regardt se fliek Uitvlucht. Dié fliek is op hul eie liefdesverhaal gegrond, en Regardt sê dit is steeds sy gunstelingfliek waaraan hy nog gewerk het.

Toe Clara sowat twee jaar gelede in China werk kry as Engels-onderwyseres, het Regardt saam met haar soontoe getrek en gewerk aan nuwe draaiboeke terwyl sy klasgee. “Dis iets wat sy kon doen vir tyd en wyl,” verduidelik hy. “Dit was ’n lang gewag vir ’n geleentheid.”

Hy het vir ’n rukkie daarna weer teruggekeer na Suid-Afrika, maar was teen Oktober 2019 terug by sy vrou in China.

Toe die covid-19-pandemie einde 2019 in China begin ontvou, was die inperking in die streek in die suide van die land waar hulle gewoon het, “minimaal”, vertel hy. Tog was hul lewe nie maklik nie en te midde van die onsekerheid oor die pandemie en wêreldwye inperkings, het Regardt bly wag op sy volgende deurbraak.

Eindelik kry hy toe te danke aan kontakte in die fliekbedryf die geleentheid om in Amerika aan ’n nuwe fliek te begin werk. En in Augustus verlede jaar het hy sak en pak soontoe verhuis.

Clara het in die stad Wuxi in die ooste van China as Engels-onnie aangebly, en sedertdien kon die twee mekaar nog nie weer in lewende lywe sien nie.

Maar nou beplan Regardt om einde Februarie te trek na Atlanta in Amerika, waar hy hom as ontwikkelingshoof en inhoudsvervaardiger sal aansluit by die fliekmaatskappy Ori International. Dié maatskappy maak flieks met ’n Christelike boodskap of geloofgebaseerde waardes, soos die flieks waarvoor Regardt al jare lank hier in Suid-Afrika bekend is.

Clara sal so gou as moontlik daar by hom aansluit, vertel hy, en hulle sal daar “bly vir ’n lang ruk, if not forever.”

“Die woestyn-seisoen is verby,” sê hy oor die vooruitsig om weer by sy vrou te wees en saam met haar in die rolprentbedryf te werk. Daarvoor dank hy die Here. “As dit swaar gaan met jou, roep jy uit na die Here, en ervaar Sy ware liefde.”

Wuxi in China, waar Clara Engels-klasse aan skoolk
Wuxi in China, waar Clara Engels-klasse aan skoolkinders gee. Foto: Verskaf

Ook Clara laat weet uit China haar geloof het haar gedra tot hier waar ’n gedeelde toekoms weer wink. “Aan die einde van elke dag is dit: Dankie Here, U ken die pad wat ons loop,” sê sy.

Met hul troue in 2012 het Regardt aan Huisgenoot vertel: “Clara sê altyd sy het nie met my getrou om my te verander nie en ek het nie met haar getrou om haar te verander nie – ons wil mekaar laat vlieg.”

Met die vlerke wat hulle mekaar gee, sal hulle nou saam anderkant die waters nesskop.

Terwyl Regardt voortaan flieks vir Ori International sal ontwikkel, sal Clara aanvanklik betrokke wees by die maatskappy se kinderprogramme. Sy wil ook graag weer voltyds toneel speel en sal hopelik verskyn in van die Bybelse flieks waaraan hy werk, vertel Regardt.

Die fliekmaatskappy is deur die Suid-Afrikaners Leon en Zania Schoeman, twee “Boerekinders”, soos Regardt hulle beskryf, op die been gebring. Hy en Leon het vriende geword toe hulle saam gewerk het aan Regardt se 2010-fliek Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom. Die maatskappy se flieks is ingestel op verhale met Christelike waardes, vertel Regardt.

Hulle sal onder meer saam werk aan die volgende aflewering van die “Visuele Bybel”, Regardt se fliekreeks gegrond op Die Bybel, met die flieks The Gospel of Matthew en The Gospel of Acts wat reeds in die negentigerjare uitgereik is.

Daar’s boonop nog ’n rits projekte in die pyplyn waarby “enigiemand sal kan aanklank vind,” voeg hy by.

“Ons het op die oomblik 86 programme wat in die ry staan om vervaardig te word. Ons mik om dit gemaak te kry teen die einde van 2021 en die begin 2022. Dit gaan ’n goeie jaar vir ons wees . . .”

Ook Clara laat weet vanuit China sy sien uit daarna om weer saam met haar man voor én agter die kameras te woeker nadat sy die afgelope tyd harde klippe moes kou.

“Regardt is nie net my man nie,” sê sy. “Hy is my beste vriend, my koffie-, shopping- en Scrabble-pêl, my vertroueling.”

Clara op die kanale van Yixung. Foto: Verskaf
Clara op die kanale van Yixung. Foto: Verskaf

Hy is vort na Amerika net nadat sy na Wuxi moes trek om daar te begin skoolgee, en dit was vir haar swaar om alleen agter te bly. “Die waarde van iemand wat altyd daar is – om mee te gesels, mee te sit, net mee te wees – was skielik weg.”

Sy erken dit het by tye gevoel of sy “ineenstort” op haar eie in die vreemde. Skielik was alles ’n uitdaging, en sy het verlang na die dinge wat voorheen vanselfsprekend was: “Netflix, KykNET, in ’n winkel instap, sê wat jy nodig het en waai. In China kom niks maklik nie . . .”

Maar sy moes noodgedwonge deurdruk. “Dis China, nêrens om heen te vlug nie, the show must go on,” verduidelik sy.

“Dis steeds moeilik,” erken sy. “Ek sou dit verseker nie gemaak het as ek nie die Here gehad het nie.”

Noudat hul nuwe lewe saam in Amerika wink, is daar weer hoop, maar albei sal dan steeds ver van ander geliefdes wees: Clara van haar twee seuns, Solomon en Joubert, uit haar eerste huwelik, en Regardt van sy dogters uit sy eerste huwelik met die aktrise Jana Cilliers – die aktrises Lika Berning en Léan van den Bergh – sy aangenome seun, Tinus, en sy seun uit sy tweede huwelik, Dawid. Dawid en sy ma, Hermien, werk saam in ’n sendingbediening.

“Ek hou van Chinese kos,” vertel Regardt droogweg.
“Ek hou van Chinese kos,” vertel Regardt droogweg. Hulle tyd daar in die Ooste het dit net weer bevestig, maar hy bly weg van die meer eksotiese disse in aanbod. Foto: Verskaf

Dis nie net sy kinders wat Regardt sal mis nie – hy is al oupa van vyf, vertel hy trots. Lika en haar man het drie spruite, en Léan en Tinus het albei dogters.

Maar ook oor dié nuwe langafstandverhouding bly hy positief en pragmaties. “Ons sal gereeld gesels oor video-oproepe en ek kan nie wag tot wanneer hulle dalk eendag in Atlanta kan kom kuier nie.”

En selfs wanneer die kinders, kleinkinders en Suid-Afrika ver weg voel, sal hulle aan hul geloof vashou, se Regardt. Dit is immers wat hom en Clara deur hul moeilike tyd gedra het.

“Die Here verander ’n vallei van trane in ’n fontein van hoop.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe