Die aktrise Simoné Nortmann het in Huisgenoot se 2016-eeufeesfliek Vir die Voëls die rol vertolk van die vurige rooikop Irma Humpel, wat voor die kansel vir kykers vertel het hoe hard haar geliefde Sampie (Francois Jacobs) moes werk om haar hand te wen.

Van links is Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Sam
Van links is Simoné Nortmann, Francois Jacobs, Sampie en Irma de Klerk.

Die fliek was natuurlik op Irma en Sampie de Klerk se ware liefdesverhaal gegrond en Simoné het Irma voor en tydens die verfilming goed leer ken om haar in die rol in te leef.

Die aktrise is verlede maand deur haar vriendinne verras met ’n kombuistee terwyl sy in Kaapstad saam met haar ma, Tinkie, was om haar trourok aan te pas.

Sy is die naweek, kort voor haar en haar verloofde, Andries Pretories, se troue, weer onverwags met ’n tweede kombuistee verras.

Simoné het die naweek foto’s van haar tweede kombuistee met haar 91 200 Instagram-volgelinge gedeel.

"Ek het nie woorde nie. My hart is net vol. Kombuistee #2. My huis is vol geskenke ek het skaars toegang tot my sitkamer. Gesigte ingevoer van  Potch, Namibië (my liefste sus @nadinepienaar6), Newcastle, Pretoria . . . soveel blydskap en diep vriendskappe. So so dankbaar. Ps. Ja. Ek het twee keer my uitrusting verander. Dis my partytjie ek kan klere verander as ek wil,” skryf die aktrise.

"Simoné se vriendinne, wat ook van haar strooimeisies is, het my genooi na haar kombuistee," vertel Irma aan Huisgenoot.

"Dit was die ideale plek om ’n kombuistee te hou. Dit was  ’n lieflike atmosfeer en ons almal het lekker gesels, ’n regte somersbruidstee!"

Irma en Simoné het vreeslik geheg geraak aan mekaar. Geen wonder sy was vreeslik verras toe sy vir Irma onder die meer as 30 gaste sien nie.

“Ek en Simoné het ’n hegte band na die fliek ontwikkel en ek en Sampie het haar familie goed leer ken,” vertel Irma.

“Haar ma is ook ’n ongelooflike gasvrou en as ons in Johannesburg moet wees sal ons altyd oorslaap by haar haar, sê sy.

“Ek en Simoné het ’n ongelooflike goeie verhouding en ons band het definitief in vriendskap verander. Sy en Andries sal ons altyd insluit in al die mylpale wat hulle vier,” sê Irma trots.

Irma het in ’n Facebook-inskrywing oor die ooreenkomste met Simoné se kombuistee en haar eie een 35 jaar gelede geskryf.

"Gister staan ek met rollers in my hare in ’n parkering in die middel van Johannesburg. Op die enjinkap het ek ’n spieëltjie staan gemaak en is besig om grimering aan te wend. Dit help nie om tuis te titivate nie, na meer as 300 km is dit alles weer af. Vandag kuier ek saam met die mooi mense.

"Ons hou bruidstee by die Botaniese Tuine onder die bome op piekniek komberse en kussings. Daar is fynproewer-platters en heerlike koel drinkgoed. Die bruidjie kan deur ’n ring getrek word en was begroet met ’n luide 'surprise!' toe sy haar blinddoek afhaal. Daar was baie gelag, raai-raai gespeel en ge-oe en -aa met elke geskenk. Sy was tussen haar hartsvroue. So  ’n raps oor 35 jaar gelede het ek by my ouma se huis ingestap. Kaalvoet met ’n ou skool sweetpak broek, T-hemp en bos deurmekaar hare. Ek het gewip soos ek skrik toe ’n luide 'surprise!' my begroet. Die reuse-sitkamer was gevul met ’n skare van my hartsvroue," skryf Irma.

"Fynproewer gebak soos melktert, koeksisters, sjokoladekoek en mooi teekoppies het die tafels laat kreun. Daar was baie gelag, raai-raai gespeel en ge-oe en -aa met elke geskenk. Al my geskenke was in die verkeerde kleur," vertel sy.

Dit kom nadat haar geheime uitnodiging onthul het haar kombuis is bruin pleks van groen. "Mens kom daaroor. Gister se bruidjie het haar huwelik by die Here se voete gesit, net soos ek destyds. Want die lewe gaan gebeur en jou anker moet diep ingeslaan wees,” skryf Irma.

En wat dink sy van Simoné se eie Sampie, Andries?

"Hy is ’n ongelooflike man, hy gee haar genoeg ruimte om dit te doen waarvoor sy lief is soos haar bediening, loopbaan as aktrise en verhouding met die Here," sê Irma.

View this post on Instagram

Eucharisteo.

A post shared by S i m o n é N o r t m a n n (@simonenortmann) on

"Ek kan sien hulle is vreeslik lief vir mekaar en hul vriendskap kom al lank aan," vertel Irma van die paartjie, wat in 2011 deur gemeenskaplike vriende ontmoet. 

"Ons het ook baie goeie vriende geraak met Andries se familie en hulle is werklik ongelooflike mense," voeg sy by.

View this post on Instagram

JAAAAAAAAAAAAAAAAAA. ????

A post shared by S i m o n é N o r t m a n n (@simonenortmann) on

Andries het  in Oktober verlede jaar Simoné die groot vraag gevra. Hy het haar weggevoer na ’n boetiekhotel op die dorpie Dullstroom in Mpumalanga onder die voorwendsel dat dit vir ’n pel se 30ste verjaardagvieringe was.

Terug in Pretoria het Andries haar met ’n verlowingspartytjie verras met 50 van hul naaste vriende en familie. Praat van romanties.