Twee rooikoppe wat elk hul eie drome nastreef; twee ware liefdesverhale so reg uit ’n romantiese fliek.

En boonop het dié twee vroue ’n unieke, onlosmaaklike band wat fliekflooie bekoor het. In Huisgenoot se 2016-eeufeesfliek, Vir die Voëls, het die aktrise Simoné Nortmann die rol vertolk van Irma Humpel, die vurige rooikop wat voor die kansel vir kykers vertel het hoe hard haar geliefde Sampie, gespeel deur die akteur Francois Jacobs, moes werk om haar hand te wen.

Die fliek was natuurlik op Irma en Sampie de Klerk se ware liefdesverhaal gegrond en Simoné het Irma voor en tydens die verfilming goed leer ken om haar in die rol in te leef.

Die twee het sommer baie geheg geraak aan mekaar– g’n wonder nie dat Irma een van die mense was wat die heel blyste was toe Simoné onlangs aankondig sy en haar eie “Sampie”, Andries Pretorius, het verloof geraak en mik nou kansel toe.

Francois Jacobs (voor) speel Irma se man, Sampie (agter), in dié fliek.

En natuurlik het Irma sommer dadelik ingestem om haar geliefde Simoné raad vir die huwelik te gee toe Huisgenoot haar vra om dit te deel.

Dit was liefde met die eerste oogopslag toe Simoné in 2011 die eerste keer die aantreklike Andries deur gemeenskaplike vriende in Pretoria ontmoet.

“Ek was nog ’n student op Stellenbosch en hy het op Tukkies studeer. Dit was beslis liefde ná ’n paar minute se gesels,” het Simoné (28) vroeër aan Huisgenoot gesê.

“Hy het ’n rugbybroekie gedra en ’n mullet gehad (twee groot nees vir my, hoewel ek later uitgevind het dit was koshuistradisies), maar hy was spontaan, snaaks en het met soveel passie oor die Here gesels. Ek het aan sy lippe gehang.”

Elektrisiteit was dadelik in die lug. “Ons het goeie vriende geraak en gereeld koffie gedrink wanneer ek in Pretoria gekuier het. Maar heimlik was ek verlief op hom. Ek sou nooit kon droom dat hy van dag een af ook dieselfde oor my gevoel het nie. Hy het nog heeltyd sy hart beskerm en ek is sy eerste amptelike meisie,” het sy toe vertel.

View this post on Instagram

JAAAAAAAAAAAAAAAAAA. ????

A post shared by s i m o n é n o r t m a n n (@simonenortmann) on

Hulle is sedert Desember 2014 ’n paartjie. “Dit is lekker om my beste vriend ook my kêrel te kan noem.”

Nou word dié beste vriend boonop een van die dae haar man. En hy is duidelik net so sjarmant soos Irma se Sampie. Andries het sy meisie vir die groot vraag na ’n boetiekhotel op die dorpie Dullstroom in Mpumalanga weggevoer – en dit onder die voorwendsel dat dit vir ’n pel se 30ste verjaardagviering was.

Hulle het ontbyt geëet en toe ’n entjie gestap. Minute voor hy die jawoord gevra het, “het hy sy selfoon uitgepluk en gesê hy het vir my gebid en wil graag ’n paar dinge deel wat hy voel op God se hart is vir my”, het Simoné op Instagram onthul. En dis toe dat hy die groot vraag vra.

View this post on Instagram

Minutes before my fiancé @andriespretorius_ (YES I’M DROPPING IT LIKE IT’S HOT) asked me to marry him he pulled out his phone and said he’s been praying for me and would like to share a few things he felt was on God’s heart for me. He (joyfully-tearfully) started reading scriptures and sharing visions and apart from the fact that it was scarily accurate, the only thought I can remember going through my mind was, “GOD IS GIVING ME A HUSBAND THAT HEARS HIS VOICE.” A prayer and desire I’ve kept in my heart for as long as I can remember. Countless journals full of teenage heartache, adult heartbreak, hopeless idealism and “Jesus, when?” and then God shows up, intervenes, redeems, and (in HIS time) gives a gift that exceeds ALL my expectations. So after Andries proposed we walked back to reception where a helicopter (Bell 430, in my favourite colour) and two pilots awaited us with Moët champagne and treated us to a congratulatory trip (a surprise courtesy of someone at the hotel who felt to bless us) - how incredibly significant ??. Afterward Andries lead us in communion and then we had a couples’ massage. And after thát he brought me back to Pretoria where he organized a surprise engagement party with 50+ of our closest friends and family. ?? Andries, I have no doubt that the rest of my life and all of my heart is safe with you. Your love ushers me into such freedom and joy. The second biggest YES of my life, and I’ll shout it from the rooftops! Dankie dat jy jou hart vir soveel jare beskerm het, dat jy jare lank ook vir my gebid het, en dat jy heel is. Let’s get married, baby! ♥? ????

A post shared by s i m o n é n o r t m a n n (@simonenortmann) on

God het haar “ ’n geskenk gegee wat al my verwagtings oortref het”, het Simone verder op Instagram oor haar liefie vertel. Nadat Andries haar die jawoord gevra het, het twee vlieëniers met Franse sjampanje en ’n helikopter – en dit nogal in haar gunstelingkleur – hulle ingewag.

Die vlug was ’n verrassing van iemand by die hotel wat hulle wou “seën”.

“Daarna het Andries ons in nagmaal gelei en ons het ’n paartjiemassering gehad.”

Terug in Pretoria het Andries haar met ’n verlowingspartytjie verras met meer as 50 van hul naaste vriende en familie.

Irma (nou 55) is uit haar vel van opgewondenheid dat Simoné ook nou regtig-egtig voor die kansel gaan staan.

Sy het al vertel sy het haar eie huweliksnag in haar trourok in ’n bad deurgebring nadat die wittebroodsuite by hul hotel per ongeluk aan die verkeerde paartjie gegee is. Toe sit sy en Sampie met ’n kamer met net ’n enkelbed.

Op hul eerste dag as getroudes het hulle boonop so “gaar gebrand” op ’n strand in Oos-Londen dat hulle ’n paar dae lank nie hul kop by die deur kon uitsteek nie.

Maar op Kersaand vanjaar vier Irma en Sampie hul 35ste huweliksherdenking en die twee is ná al die jare steeds dolgelukkig saam.

Hier deel Irma haar huweliksraad aan Simoné

My allerliefste Simoné,

Jy staan aan die vooraand van jou lewe se mooiste mooi.

Ek kyk na jou verlowingsfoto’s en sien die blink in jou oë en jou skitterende glimlag; dit oortref jou pragtige diamantring verreweg. En dit is presies hoe dit moet wees.

Hoewel dit nie altyd maanskyn en rose sal wees nie, is my wens vir jou dat jy al die positiewe en lekker aspekte van ’n liefdesverhouding sal ervaar.

Om met jou beste maat te trou (soos die geval is met jou en Andries) maak natuurlik die wêreld se verskil.

Beste maats is daar vir mekaar, ondersteun, vertrou en help mekaar, is dapper, geduldig en bedagsaam, hulle hou mekaar veilig, beleef pret en bid saam met asook vir mekaar. Sit nou ware liefde daarby as ’n bestanddeel en jy het die magic waarvan almal praat.

Dit loop glad nie soos die boeke beweer nie; hulp kom soms in eienaardige gedaantes.

Soos die dag toe ek heerlik in ’n borrelbad ontspan en my stilte kort-kort deur ’n kwaai, ongeduldige stem vanuit die motorhuis onderbreek word. Later kan ek dit nie meer hou nie en ek vlieg uit die water. Sampie sukkel om ’n koppelaarkabel deur te ryg en is erg omgekrap. Met net ’n handdoek om my ronde lyf skuif ek onder die motor in, en met kleiner vingers wat oral pas, los ek gou-gou die probleem op. Die uitdrukking op sy gesig was iets om te aanskou.

My man is ook my grootste ondersteuner, maak nie saak wat ek aanpak nie. Die eerste woorde uit sy mond is altyd: “Go for it!”

Ek weet julle twee sal ’n gedugte span wees. Want ek sien al ’n geruime tyd hoe julle sy aan sy voor die Here staan en mekaar rug teen rug beskerm. Met romanse daarby staan julle veilig en styf in mekaar se arms.

Veilig beteken braaf; braaf beteken nie altyd die ridder op die wit perd nie.

Kort ná ons wittebrood word ek wakker van ’n geluid iewers. Ek maak Sampie wakker en fluister dat ek dink daar is iemand buite. Hy is natuurlik lelik deur die slaap, pluk die duvet oor sy kop en antwoord: “Gaan kyk jy; ek is bang.”

Die volgende dag kon hy niks daarvan onthou nie, maar ek weet hy sal my met sy lewe beskerm.

Natuurlik is geduld ’n baie belangrike komponent in elke verhouding, want ons verskil van mekaar.

Om “een te word” beteken nie om in mekaar te verander nie. Inteendeel, elkeen is uniek, maar julle speel nou vir dieselfde span.

Geniet dit om mekaar nog beter te leer ken, sorteer uit wat pla en vier elkeen se uniekheid. Julle albei het ’n skare mense wat vir julle lief is – steun daarop en hou julle arms uitgestrek om dit heeltyd te ontvang.

As ’n paartjie hoef julle nooit alleen deur die lewe te gaan nie. Met ’n goeie ondersteuningsnetwerk kom hulp uit die regte oord.

Sampie ruil goeters om; pleks van brood, melk en botter sal hy konfyt, kaas en koekies koop. Want dis wie hy is en hoe sy kop werk.

’n Skoonsus wat verstaan, gee dus nou elke Kersfees vir hom ’n notaboekie vol prettige sêgoed en genoeg plek om aankopelysies neer te skryf. Dit is so bedagsaam.

Ontvang familie en vriende se wysheid met waardering, maar weet ook waar om die streep te trek.

Geniet alles wat die lewe julle bied, maar onthou dat eenvoud die siel die meeste voed. Dans saam in die reën, lê onder die sterre en droom, hou pieknieks al is dit op die sitkamermat op ’n reënerige dag.

’n Briefie in die kosblik raak nooit uit die mode nie; onthou dit. Sampie se briefies aan my wat hy op enige ding denkbaar skribbel, is die doepa teen ’n slegte dag.

Jy is onbeskaamd ’n dogter van God; jy leef by Jesus se voete. Ek weet dit is presies waar jy jou verhouding gesit het.

Mag net goedheid en guns jou beskore wees.

Simoné, jy is fenomenaal, jy is een van die mooiste vroue wat ek ken, jy straal altyd en jy het ’n besonderse man se hart gevang juis omdat jy so spesiaal is.

Mag jy baie hoog en ver vlieg met die liefde.

Mag daar nooit, ooit ’n skêrmens naby jou kom nie! Jy is geliefd.

FOTO'S: LUBABALO LESOLLE, MARTIN DE KOCK, INSTAGRAM/@SIMONENORTMANN