Reynhardt Hugo
Reynardt Hugo sê hy verwag kritiek noudat hy openlik oor sy drank- en daggaverslawing praat. Foto: Luba Lesolle

Hy het homself lank ’n rat voor die oë probeer draai – dat hy nie ’n probleem met alkohol het nie; dat hy net drink om die lewe te geniet.

Maar eindelik het Reynardt Hugo besluit om oop kaarte te speel oor die jare toe hy nie net teen die drankduiwel moes stoei nie, maar ook verslaaf was aan dagga.

“Ek sou soms tot sewe zolle ’n dag rook. Dan nooi ek girls en mense uit die bedryf na Herberg Hugo, soos ek my huis genoem het, en word hoog. Ek het hardehout gedrink en gevaarlike gras gerook – so gevaarlik dat ek soms gehallusineer het,” erken die bekende akteur en sanger vandag.

Nie net het hy homself in die donker jare van verslawing skade berokken nie, maar ook sy verloofde, An-Maré Roothman – of Anna soos hy haar liefderik noem – het skade gely en dít maak hom die seerste.

“Die drank en dagga vloei . . . Jy is bekend en daar is altyd iemand wat gewillig is. Ek het Anna meer as ’n paar keer verneuk. Willens en wetens – ek was skuim,” erken Reynardt (34).

Hier by hul gesellige meenthuis in Bromhof, Randburg, troos Anna (33) hom nou: “Maar jy is nie meer daardie mens nie – lankal nie meer nie.”

Reynhardt Hugo
By sy Anna, soos Reynardt na sy verloofde, An-Maré Roothman, verwys. Dis sy wat hom deur die moeilike tye bygestaan het. Die twee trou in April vanjaar. Foto: Luba Lesolle

Want vyf jaar gelede het Reynardt op ’n dag besluit: Nou gaan ek my lewe omkeer. Hy het die drank en dagga by die agterdeur uitgegooi en by ’n psigiatriese kliniek aangeklop. Daar is bipolêre depressie en angsversteuring by hom gediagnoseer.

Hy tuur oor die verte uit. “Vyf jaar skoon. Jis man, dis lánk,” sê hy trots.

Reynardt is nie meer skaam om oor sy pynlike jare te praat nie, en hy lig ook nou die sluier daaroor in sy nuwe boek, Soldaat, wat binnekort verskyn.

“My verlede is ’n rillerverhaal wat baie gaan skok,” voorspel hy oor die verwagte ontvangs van sy boek by die publiek. “Maar al is daar vrese om die mees intieme besonderhede van jou donkerste seisoen aan ander bloot te lê, ervaar ek nie skaamte nie. Ek wil ander nou help om te ontsnap uit die wurggreep van die verslawingsdemoon.”

Daarom het hy “Soldaat” as die titel van sy verhaal gekies. “Ek word die ‘soldaat’; ek veg vir wat reg is, vir die lig, want die donker sal my nie meer onderkry nie.”

Reynhardt Hugo
Reynardt sê hy hoop sy verhaal, wat ook in ’n nuwe boek vertel word, gaan ander in die wurggreep van verslawing inspireer. Foto: Luba Lesolle

Die drank, die dagga en die meisies

Dit is nie die eerste keer dat Reynardt laat blyk agter sy glansbeeld – as Binnelanders se dr. Tertius Jonker en as oud-lid van die sanggroep Adam – het daar jare lank ’n drankverslaafde geskuil nie.

In 2015 het hy aan Huisgenoot vertel hoe hy ná sy drankverslawing ’n skoon blaadjie omgeslaan het. Toe het hy nog volgehou: “Dis nie dat ek ’n probleem met alkohol gehad het nie – ek het nie gedrink om te vergeet nie. Dit was regtig net om die lewe te geniet.”

Maar nou erken hy dit was net die spreekwoordelike oortjies van die seekoei. 

“Ek het meer as net ’n groot probleem met drank gehad. Ek was verslaaf, ja. Dit was my grootste demoon – dit het my lewe amper heeltemal verwoes.”

Hy het vroeg al in sy lewe met alkoholisme kennis gemaak. Sy oupa is dood weens drankmisbruik en sy pa, Renier, het in Reynardt se grootwordjare teen dieselfde duiwel gestoei. Renier is vandag ook al 12 jaar lank nugter.

Sy ouers, wat albei vir die weermag gewerk het, is geskei toe hy 10 was. Renier moes lank in lande soos Afganistan en Irak werk, en hy en sy suster, Adelé, het by sy ma, Jenny Pienaar, in Voortrekkerhoogte, Pretoria, grootgeword.

Reynardt was 13 toe albei sy ouers binne ’n week weer getrou het. Sy stiefpa het saam met sy drie kinders by hulle ingetrek.

Reynhardt Hugo
Hy is nie meer skaam oor sy verlede nie, sê Reynardt – al is dit ’n deel van hom wat nie baie mense ken nie. Foto: Luba Lesolle

“Gerehabiliteerde verslaafdes vertel altyd vir jou dieselfde verhaal: Ek het moeilike grootwordjare gehad, ek het hierdie of daardie traumatiese ding beleef wat ’n rol gespeel het op my afdraande pad. En dit ís so, daar was baie seer oor dinge wat voorheen in my lewe gebeur het,” vertel hy.

Hy huiwer eers, maar gee dan toe sy “skielike roem” was ook ’n groot faktor toe hy in  2008 in Binnelanders verskyn het – net twee jaar voordat Adam gestig is.

“Ek sou vir myself sê ek is jonk, dat ek die lewe behoort te geniet – roem ook, en so ook die dinge wat daarmee saam gaan. Ek het nie besef dat ek te ver gaan totdat ek amper heeltemal geknak het nie.” 

Anna het hom vergeefs “uit die donker gat waarin hy vasgevang was” probeer red. Die liefde het in 2010  tussen hulle begin blom toe sy toevallig by dieselfde woonstelblok as hy in Johannesburg ingetrek het nadat hulle mekaar vroeër by ’n optrede van Adam in Kaapstad ontmoet het.

In dieselfde jaar dat Reynardt se verslawing sy lewe begin oorheers het, is Anna in rou gedompel ná haar pa sy eie lewe geneem het.

“Ek het ook deur my eie seer en verlies probeer werk,” vertel sy vandag. “Daar was baie dinge wat in die agtergrond gebeur het – baie daarvan het ek geweet – maar ek was te gefokus op my eie seer. Ek wou net staande bly.” 

Reynhardt Hugo
Reynardt as ‘Binnelanders’ se dr. Tertius Jonker. Hier is hy saam met Cindy Swanepoel, wat die rol van dr. Annelize Roux vertolk. Foto: Verskaf

Al het Reynardt gesorg dat hy nooit dronk by Binnelanders se stel opdaag nie, het hy wanneer hy die dag vrye tyd gehad het al vroeg na die bottel gegryp.

“Hy sou soggens al om 09:00 begin drink,” onthou Anna. “En dit was áltyd hardehout en élke liewe dag.”

En Reynardt beaam: “Daar was tye dat ek so gesuip geraak het, dat ek ’n week lank van die huis verdwyn het. Ek sou op ’n drink-binge gaan en in stegies of by vreemdes se huise slaap. Ek wóú gedrink raak. 

Soos die keer toe hy ná ’n optrede in Cullinan, Gauteng, by ’n Pretoriase kroeg gaan kuier het. 

“Ek het my drankies sterk gegooi, want ek wou wys niks traak my nie en niemand kan my seermaak nie. En dit het so maklik gebeur: Jy is mos bekend, so die gratis drankies vloei, jy het baie maatjies wat wil saam drink. Ek onthou ek het een aand in die agterkant van ’n salon geslaap en nog ’n aand in ’n vreemde huis – en ek het Anna niks laat weet nie.” 

Sy was rasend van kommer. “Jy het geen idee of hy veilig is en of hy dalk êrens langs die pad lê nie. Om te sê ek was buite myself van woede, is ’n onderskatting,” sê sy sag.

Vandag besef Reynardt dat hy in sy dronkenskap dikwels vir Anna in die verleentheid gestel het.

“By een geleentheid het ek so dronk geraak dat ek sonder waarskuwing of uitnodiging by die bure se huis ingeloop het met ’n bottel drank in die hand.”

Reynhardt Hugo
Hy wil ander help terugbaklei teen verslawing, sê die sanger en akteur – daarom maak hy nou oop oor sy eie stryd. Foto: Luba Lesolle

En eenmaal was hy so beskonke dat hy op die grasperk van hul meenthuis omgekap het. 

Toe hy een aand dronk bestuur het, is hy byna in hegtenis geneem. “Ek het op pad huis toe in die verkeerde baan gery. Ek was so dronk, ek het nie geweet waar ek is nie. Ek het gelieg en gesê ek kom van die Kaap af en ken nie die area nie.”

Sy drinkgewoontes was ook vernietigend vir sy en Anna se verhouding. “Ek het nooit opsetlik iets gedoen om haar hart te breek nie. Ek was net . . . heeltemal te stukkend. Ek het gedrink en gevlug, maar nie om haar pyn te besorg nie.”

Maar dikwels wanneer die drank gevloei het, was hy wel ontrou aan Anna, erken Reynardt. Hy onthou ’n aand in ’n gastehuis toe hy ná ’n vertoning “dronk en los en buite beheer” was. 

“Ek wou weer oudergewoonte saam met iemand in die bed spring. Daardie aand met ’n gaskunstenaar saam met Adam opgetree. Ek onthou hoe ek later aan haar deur gaan klop het en hoe sy die deur in my gesig toegeklap het.

“Ek het aan ’n ander meisie se deur gaan klop en haar gevra of sy wil vry. Ek het haar kamer binnegegaan en op die bed gaan lê. Niks het daardie aand gebeur nie en sy het my gevra om te loop, maar dit was meer dikwels nié die geval nie.”

Reynhardt Hugo
Reynardt was lank deel van die sanggroep Adam. Hier is hy en Hugo Ludik (middel), ook ’n oorspronklike lid, en Kyle Grant, wat steeds in die groep is. Foto: Facebook

Sy het vermoed dat hy haar verkul, vertel Anna oor dié donker tyd in hul lewe, maar het Reynardt steeds probeer bystaan.

“Ek het geweet hy is ’n gebroke mens,” verduidelik sy en glimag vir hom. “Ek het geweet hy hardloop van die seer weg. Maar daar sou ’n punt kom waar dit ook vir my te veel geraak het.” 

Ná ’n verhouding van vier jaar het dit onvermydelik geword dat Reynardt en Anna se paadjies skei. Dit het hom nog dieper in die put van duisternis laat versink, onthou hy.

Ek moes dikwels die dosis verhoog omdat ek nie meer kon hoog raak van een of twee zolle nie.

“Daar het ’n stadium gekom – veral nadat ons opgebreek het – dat ek besef het hoe ek myself vernietig. Almal was doodbekommerd: my familie, my kollegas, my vriende. Almal kon sien dat ek myself stywer en stywer in die wurggreep van verslawing toedraai, maar ek wou niks weet nie.” 

Een aand in sy huis het hy hardop op homself geskreeu. “Ek wou hê dit moes stop . . . maar ek het nie die vaardighede gehad nie. Ek het myself te styf in hierdie ding gewikkel.”

Intussen het hy ál meer angsaanvalle begin kry. Hy meen dit is deur sy misbruik van dagga vererger.

“Ek moes dikwels die dosis verhoog omdat ek nie meer kon hoog raak van een of twee zolle nie. Later was ek so verslaaf dat ek ’n soort marijuana-olie begin gebruik het. Dit het my totaal van my realiteit gestroop.” 

Reynhardt Hugo
Reynardt is al vyf jaar lank nugter nadat hy die “drank en dagga by die agterdeur uitgegooi het”. Hy is ook met bipolêre bipolêre depressie en angsversteuring gediagnoseer. Foto: Luba Lesolle

In Soldaat skryf Reynardt: “Ek was al in my dertigs en goed gevestig by Binnelanders toe ek ernstig begin dagga rook het. Ek het alles gehad wat nodig was om dagga te rook: ’n Klomp glashouers waarin ek die verskillende soorte dagga gebêre het, ’n toestel waarmee ek die dagga kon fynmaal, drie groot pype en ’n klein pypie vir wanneer ek moes reis en vinnig ’n dampie wou maak. Papiertjies waarin ek die dagga kon rol. 

Ek sou soms die vreemdste hallusinasies beleef: ’n draak in die hemel, ’n nimmereindigende trap wat homself bou.

“En so het ek begin. Van een zol per dag, tot twee en later vyf tot sewe zolle per dag. Ek het nooit gerook as ek vir tonele vir Binnelanders moes gaan of as ek en Anna saam was nie. Maar wanneer ons op pad was om iewers op te tree, het ek gerook. Dit het ’n keer of wat gebeur dat ek hoog was terwyl ons opgetree het, maar meestal het ons ná die show gerook.”

Tog het die verslawing soms die oorhand gekry. “Ek was een keer tydens ’n vertoning so hoog, ek kan tot vandag toe niks daarvan onthou nie,” vertel hy.

Veel later, net voor sy ommekeer, het hy een aand by sy huis ’n angsaanval in die bad gehad.

“Ek sou soms die vreemdste hallusinasies beleef: ’n draak in die hemel, ’n nimmereindigende trap wat homself bou. Maar daardie aand in die bad was anders. Ek het gedink ek gaan doodgaan. Nee, ek was oortuig ek sou,” onthou hy.

Die volgende dag het hy besluit om van sy “dagga-gereedskap”, soos hy dit noem, ontslae te raak. “Ek het dit doodeenvoudig in ’n swartsak gesit en weggegooi. Ek het geweet dit sou die einde vir my wees – dat ek nie meer kan ontken ek het ’n probleem en dat ek hulp nodig het nie.” 

Reynhardt Hugo
Hy staan op die drumpel van ’n nuwe hoofstuk in sy lewe, sê Reynardt, en hy weet dít gaan een van die mooiste seisoene in sy lewe wees. Foto: Luba Lesolle

'n Nuwe begin

In die psigiatriese kliniek het hy vir die eerste keer sy die verslawingsduiwel vierkantig in die oë gekyk, vertel Reynardt. “Ek kon die wortel van my seer opspoor en dit heeltemal uittrek. Ek het ook besef hoe siek ek eintlik was – dat angs- en gemoedsteuring eintlik my lewe oorheers het.”

Hy het na Anna uitgereik in die hoop op ’n versoening. “Dit het my lank gevat om die moed bymekaar te skraap en om haar van alles te vertel. Sy is en was nog altyd die liefde van my lewe. Hoe sê jy so iets vir iemand? Maar ek het. 

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het nie martelaarsindroom nie. Maar vir my was dit anders, ek wou hom vergewe.

“Daarna het ek Anna se ma ook gebel. Ek het haar alles vertel, van my ontrouheid tot my drankmisbruik, maar ook dat ek haar dogter liewer het as enigiemand anders.” 

Hoe het Anna dit reggekry om hom te vergewe? 

“Sjoe, ek weet nie,” sê sy. “Natuurlik was ek stukkend. Maar êrens diep binne my het ek ook geweet wie hy regtig is – wie God hom geskape het om te wees. En moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het nie martelaarsindroom nie. Maar vir my was dit anders, ek wou hom vergewe.” 

Sy moes ’n “heel nuwe mens” – ’n nugter een – leer ken, vertel sy.

“Ek het weer van vooraf vir hom lief geraak. Dit was asof die vorige hy nie meer bestaan het nie. En dís hoe ons vandag nog daaroor dink: dis in die verlede, dis verby en hy is jare lank nie meer daardie mens nie. Ek het hom ontsettend lief, selfs met die foute van die verlede.”

Reynardt was al vir ’n paar maande nugter toe hy nog ’n keerpunt in sy lewe bereik het tydens ’n seevakansie in 2016 by sy familie se vakansiehuis op Bloubergstrand.

Ons bou nou elke dag aan ’n lewe waarop ons kan trots wees. En as Hy my die tyd gun, gaan ek elke dag gebruik om vir haar te wys hoe lief ek haar het.

“Anna was al bed toe toe ek en my oom laataand op die stoep gesels het oor die Here en oor vergifnis,” vertel hy van sy gesprek met sy oom. “Ek is daardie aand in die koue soutwater van Bloubergstrand gedoop – en die Here het die verlede en al sy seer van my weggewas,” vertel hy. 

In Februarie 2019 het Reynardt en Anna verloof geraak en hulle trou volgende maand op Plettenbergbaai in die Wes-Kaap. 

“Hierdie vrou . . . Sy is rein en opreg en die grootste geskenk wat God my ooit gegee het,” sê hy van Anna wat hom reeds deur dik en dun bygestaan het.

“Ons bou nou elke dag aan ’n lewe waarop ons kan trots wees. En as Hy my die tyd gun, gaan ek elke dag gebruik om vir haar te wys hoe lief ek haar het. Want vir haar sal ek in my lewe nie weer één keer seermaak nie.”

Nou, op die drumpel van ’n nuwe hoofstuk in sy lewe, hoop Rynhardt dat sy verhaal van seer vir ander iets kan beteken.

“Die oë gaan groot rek – dis ’n deel van my wat min mense ken. Maar as ek een mens kan help om op te staan en terug te baklei, sal ek weet my reis tot hier was nie verniet nie.”

Reynhardt Hugo
Reynardt se boek, ‘Soldaat’, bevat intieme vertellings oor sy donker verlede. Die boek word uitgegee deur NB Uitgewers. Foto: Verskaf/NB Uitgewers
  • Soldaat word uitgegee deur NB Uitgewers. ’n Kopie kos R220 en is beskikbaar by boekwinkels landwyd. Meer inligting is beskikbaar by NB Uitgewers, of bel 021 406 3033.